Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Junie 2026

Om te meet is om te weet. Dit is 'n bekende gesegde wat vandag meer relevant is as ooit tevore.

Elke boer is daagliks besig om uitdagings aan te pak wat die volhoubaarheid van sy onderneming beïnvloed. Van produksiebesluite en finansiële bestuur tot marktoestande, klimaat en beleidsveranderinge – elke besluit dra by tot die toekoms van die boerdery.

Dit is 'n gegewe dat die boer wat hom deeglik inlig en bereid is om die ekstra myl te stap om kennis op te doen, beter toegerus is om ingeligte besluite te neem. Die uitdaging lê vandag nie daarin om toegang tot inligting te kry nie. Inteendeel, daar is 'n oorvloed daarvan. Die werklike uitdaging is om te onderskei tussen feite en fiksie, tussen betroubare inligting en bloot menings of ongegronde bewerings.

Juis daarom bly gesprekke tussen boere, kenners en bedryfsrolspelers van onskatbare waarde. Die afgelope tyd is die belangrikheid van boeredae, inligtingsessies en persoonlike kontak weer opnuut bevestig. Dit is dikwels hier waar praktiese ervaring en beproefde kennis gedeel word – kennis wat nie altyd op sosiale media of in opspraakwekkende nuusberigte gevind kan word nie.

TLU SA bly daartoe verbind om betroubare inligting, praktiese ondersteuning en 'n platform vir sinvolle gesprek te bied. In 'n tyd waar onsekerheid dikwels die norm is, bly kennis een van die belangrikste hulpmiddels waaroor 'n produsent beskik.

Mag ons aanhou leer, kennis deel en mekaar versterk, want uiteindelik is ingeligte besluitneming een van die belangrikste boustene van volhoubare landbou.

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

Departement van Landbou moet sy fokus herwin

Die onlangse debat oor die funksionering van die Departement van Landbou het opnuut die kollig geplaas op die uitdagings waarmee die Suid-Afrikaanse landbousektor te kampe het. Nadat die DA 'n interne evaluering van sy ministers in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) gedoen het, is voorgestel dat mnr. John Steenhuisen as minister van landbou vervang word deur mnr. Willie Aucamp. President Cyril Ramaphosa het egter duidelik gemaak dat die aanstelling van kabinetsministers uitsluitlik sy grondwetlike prerogatief is.

Vir TLU SA strek die kern van die probleem egter veel verder as die persoon wat die ministeriële amp beklee. Die uitbreking en hantering van bek-en-klouseer (BKS), een van die grootste landboukrisisse in onlangse jare, het ernstige tekortkominge in die funksionering van die Departement van Landbou blootgelê. Hoewel mnr. Steenhuisen die BKS-krisis geërf het en die oorsprong daarvan vierkantig voor die deur van die ANC-regering gelê behoort te word, was die reaksie onder sy termyn ook nie gekenmerk deur die dringendheid wat die situasie vereis het nie.

Daar is wel kundigheidskomitees, soos die Ministeriële Taakspan (MTT) en die Interministeriële Koördineringskomitee (ICC), aangewys om leiding te gee. Die implementering van besluite het egter steeds grootliks berus by dieselfde departementele strukture wat oor jare heen deel was van die afname in die departement se doeltreffendheid. Dit het die vermoë om vinnig en doelgerig op te tree, ernstig beperk.

Sedert 1994 het die Departement van Landbou toenemend sy fokus verskuif na die implementering van 'n ideologies gedrewe transformasie-agenda, eerder as om 'n omgewing te skep waarin produsente optimaal kan produseer. Die departement het self by geleentheid erken dat meer as 90% van die grond wat deur grondhervormingsprogramme oorgedra is, uiteindelik uit produksie gegaan het. Tog word dieselfde beleidsrigting voortgesit.

TLU SA is van mening dat die departement 'n fundamentele verandering in ingesteldheid moet ondergaan. Die staat se primêre verantwoordelikheid behoort te wees om 'n stabiele en doeltreffende landbou-omgewing te skep waarin produsente kan produseer, belê en groei. In 'n land waar voedselsekerheid van strategiese nasionale belang is, behoort beleid en administrasie daarop gerig te wees om hindernisse uit die weg te ruim en nie verdere struikelblokke te skep nie.

Die hantering van BKS het juis gewys hoe staatsprosesse dikwels eerder die oplossing vertraag as bevorder het. Dit beklemtoon die behoefte aan 'n departement wat meer dinamies funksioneer, groter gebruik maak van kundigheid uit die breër landboubedryf en praktiese oplossings bo ideologiese oorwegings stel.

Wie ook al die Departement van Landbou in die toekoms lei, sal die uitdaging hê om die departement se fokus terug te plaas waar dit hoort: om Suid-Afrika se produsente te ondersteun, ekonomiese groei in die landbousektor te bevorder en te verseker dat beleid uiteindelik aan die mark se belangrikste maatstaf voldoen – volhoubare winsgewendheid en voedselsekerheid.


Jongboer van die Jaar 2026: Top 10 finaliste aangewys

Inskrywings vir TLU SA se Jongboer van die Jaar 2026-kompetisie het amptelik gesluit, en die top 12 finaliste is aangewys.

Die beoordelaarspaneel sal die finaliste se plase van 13 tot 17 Julie besoek, waar elke deelnemer se boerdery, bestuursvernuf, innovasie en bydrae tot die landbousektor beoordeel sal word.

TLU SA sien met groot afwagting uit na die plaasbesoeke en wens elke finalis alle voorspoed toe. Ons sien daarna uit om van Suid-Afrika se uitstaande jong produsente te ontmoet en hul passie, toewyding en uitnemendheid in die praktyk te beleef.


Jeugboer van die jaar: Inskrywings nog oop!

Droom jy daarvan om eendag 'n boer te wees? Dan is TLU SA se Jeugboer van die Jaar-kompetisie nét vir jou!

Die kompetisie is oop vir leerders van Graad 1 tot Graad 12 wat reeds betrokke is by 'n landbouprojek of 'n passie vir boerdery het. Of dit nou vee, gewasse, pluimvee, tuinbou, bye, konynboerdery of enige ander landbouprojek is – ons wil graag jou storie hoor.

TLU SA is op soek na jongmense wat met entoesiasme, verantwoordelikheid en deursettingsvermoë hul liefde vir landbou uitleef. Die kompetisie bied aan deelnemers die geleentheid om hul kennis, harde werk en toewyding ten toon te stel, terwyl hulle deel word van 'n inisiatief wat die volgende geslag Suid-Afrikaanse produsente vier.

Inskrywings sluit in Augustus, so daar is nog tyd om deel te neem.

Moenie hierdie geleentheid misloop nie – ons sien uit daarna om die land se volgende geslag boere te ontmoet!

Springbokvlakte Sonneblomprojek bevorder kennis én landelike veiligheid

Die Springbokvlakte Sonneblomprojek 2025/2026 is 'n unieke landbou-inisiatief wat produsente die geleentheid bied om boerderypraktyke te vergelyk, waardevolle kennis te deel en terselfdertyd 'n betekenisvolle bydrae tot plaaslike landbou- en veiligheidsinisiatiewe te maak.

Die boereverenigings van Crecy, Nyl, Roedtan-Suid en Tuinplaas neem aan die projek deel.

Elke deelnemende boer wys 'n minimum van een hektaar droëland-sonneblom aan wat as 'n proefblok dien. Daar word verwag dat tussen 60 en 70 hektaar proefblokke regoor die Springbokvlakte deel van die projek sal vorm. Die opbrengs van hierdie blokke sal gemeet en vergelyk word om waardevolle praktiese data te verskaf oor boerderypraktyke, insette en toerusting wat die beste resultate onder plaaslike toestande lewer.

Benewens die tegniese waarde van die projek, dien dit ook 'n belangrike gemeenskapsdoel. Die opbrengs van elke deelnemer se proefblok word aan die boerevereniging van sy of haar keuse geskenk. Die deelnemende boereverenigings sal die fondse aanwend vir veiligheidsinisiatiewe op die Springbokvlakte.

Die wenners word bepaal op grond van die hoogste rand-en-sent-opbrengs per hektaar. Aansienlike pryse is op die spel, waaronder 'n eerste prys ter waarde van R250 000.

Die projek is 'n uitstekende voorbeeld van hoe samewerking tussen produsente nie net boerderypraktyke kan verbeter nie, maar ook 'n tasbare verskil in landelike gemeenskappe kan maak.


Adverteer teen spesiale tariewe in Agri News

TLU SA-lede het nou die geleentheid om hul produkte of dienste teen spesiale advertensietariewe in Agri News te adverteer.

Verskeie advertensie-opsies is beskikbaar, met uitgawes wat onderskeidelik in Gauteng en die Wes-Kaap versprei word. Die publikasie is gratis beskikbaar by die meeste landboukoöperasies, waaronder AFGRI, Obaro, NWK en ander.

Vir meer inligting of om advertensieruimte te bespreek, kontak:

Louis Kannemeyer
info@agrinews.co.za
021 852 6500

of

Henri Combrink
082 552 9428


Wanneer struktuur ontbreek, erf families onsekerheid

Baie mense spandeer ’n leeftyd om iets op te bou.

’n Boerdery.
’n Besigheid.
Bates.
’n Nalatenskap vir die volgende geslag.

Daar word oor jare heen hard gewerk, risiko’s geneem en opofferings gemaak met die doel om stabiliteit en kontinuïteit vir ’n familie te skep. Tog gebeur dit dikwels dat families, wanneer iets onverwags gebeur, in onsekerheid beland.

Lees meer hier.

Goliat van Gat 2027

Hoewel die 2027 Goliat van Gat-kompetisie nog ver voorlê, is die voorbereidings reeds goed onderweg. Deelnemers is besig om hul wintergewasse en grondbedekking te vestig, terwyl daar reeds beplanning gedoen word om grondgehalte verder te verbeter met die oog op die volgende plantseisoen.

Belangstellendes wat in 2027 aan die kompetisie wil deelneem – of sommer net vir die uitdaging en plesier reusepampoene wil kweek – kan reeds nou pitte bekom.

Vir pitte of enige navrae, kontak:

Henri Combrink
082 552 9428
culliboer@gmail.com

Die toekoms van landbou lê in jong hande

TLU SA ondersteun Sakeliga se AGOA-voorstel

Herlewingslandbou aangebied deur Cullinan Boere-unie

TLU SA | BKS-beheer verg alle kundigheid

Jongboerkonferensie 2026