TLU SA verwelkom landbouminister John Steenhuisen se aankondiging oor die nuwe nasionale beheermaatreëls vir bek-en-klouseer (BKS). Die organisasie beskou die wysigings as ‘n positiewe stap wat groter duidelikheid aan produsente kan bied en erkenning gee aan die groot ekonomiese impak wat langdurige uitbrekings en beperkende maatreëls op die veesektor het.
Volgens TLU SA is dit bemoedigend dat daar groter klem geplaas word op wetenskaplik gefundeerde besluitneming en meer praktiese oplossings om produsente in staat te stel om produksie te hervat sonder om biosekuriteit in te boet. Die groter buigsaamheid rondom kwarantyn, die erkenning van ingeënte maar nie-besmette diere as gesonde diere, asook alternatiewe tot die uitwissing van volledige kuddes waar dit nie nodig is nie, is stappe wat die bedryf lank reeds versoek het.
“Boere het lank gevra vir duideliker riglyne en groter voorspelbaarheid wanneer uitbrekings voorkom. Dit is positief dat die nuwe maatreëls poog om ‘n beter balans tussen doeltreffende siektebeheer en die ekonomiese volhoubaarheid van veeboerderye te vind,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Van Zyl waarsku egter dat die sukses van die nuwe raamwerk nie net deur die inhoud van die regulasies bepaal sal word nie, maar deur die wyse waarop dit toegepas word.
“Die bek-en-klouseerkrisis het oor ‘n lang tyd ontwikkel en is nie net die gevolg van uitbrekings nie, maar ook van ‘n benadering wat in baie opsigte steeds vasgevang is in verouderde regulasies en prosesse. Hoewel die nuwe maatreëls verbeterings bevat, sal dit nie op sy eie voldoende wees indien daar nie ook gekyk word na hoe die stelsel as geheel meer doeltreffend gemaak kan word nie.”
Hy sê die grootste uitdaging bly die kapasiteit waaroor Suid-Afrika beskik om uitbrekings betyds te identifiseer, te bestuur en produsente te ondersteun.
“Die staat beskik eenvoudig nie alleen oor voldoende kapasiteit om hierdie uitdaging op die vereiste skaal aan te spreek nie. Daarom behoort alle beskikbare kundigheid en kapasiteit in Suid-Afrika benut te word. Die privaat sektor beskik oor hoogs gekwalifiseerde veeartsenykundige kundigheid en praktiese ervaring wat, binne ‘n behoorlik gereguleerde raamwerk, ‘n veel groter rol kan speel om kuddes gesond te hou en produsente in produksie te hou.”
TLU SA meen die tyd het aangebreek om die bestaande regulatoriese omgewing krities te herevalueer.
“Waar regulasies die optimale benutting van beskikbare kundigheid en kapasiteit verhinder, moet dit sonder onnodige vertraging aangepas word. Ons kan nie bekostig dat verouderde voorskrifte of administratiewe struikelblokke die beheer van bek-en-klouseer of die volhoubaarheid van ons veeboere benadeel nie.”
“Ons doel moet wees om die siekte doeltreffend te beheer, internasionale markte te beskerm én terselfdertyd te verseker dat produsente kan voortgaan om voedsel te produseer. Dit verg ‘n moderne, praktiese benadering waarin elke beskikbare rolspeler die geleentheid kry om ‘n bydrae te lewer,” sluit Van Zyl af.





