Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Augustus 2026

Voorligtingsdienste moet relevant en betroubaar wees

TLU SA het van 11 tot 13 Augustus ’n werkswinkel oor landbouvoorligting in Stellenbosch bygewoon.
Dit is algemene kennis dat die bestaande departementele voorligtingsdiens nie tans die nodige konstruktiewe en toepaslike insette aan kommersiële produsente lewer nie. Tydens die werkswinkel is verskeie voorstelle gemaak oor die uitkomste wat bereik behoort te word wanneer voorligtingsdienste aan produsente gelewer word.

Produsente moet egter besef dat toegang tot die jongste inligting en tegnologie nie noodwendig deur die departementele voorligtingsdiens gebied sal word nie. Groot hoeveelhede inligting word vandag vrylik versprei, maar nie alles is behoorlik nagevors of op betroubare data gegrond nie.
Die groot uitdaging is daarom om te kan onderskei tussen akkurate, betroubare inligting en aansprake wat nie behoorlik nagevors is nie. Produsente se besluite het verreikende gevolge en moet deur geloofwaardige kennis en beproefde inligting ondersteun word.

KragDag gaan van krag tot krag

TLU SA se betrokkenheid by die jaarlikse KragDag is reeds oor ’n geruime tyd sterk gevestig. Die boodskap wat KragDag uitdra, is toekomsgerig en plaas die fokus op hoe ons self verantwoordelikheid kan neem om ’n volhoubare toekoms te skep.

TLU SA was vanjaar nou betrokke by die reëlings van die gesprekke wat in die Skouring plaasgevind het. Verskeie interessante onderwerpe is bespreek en uiteenlopende perspektiewe en praktiese inligting is met besoekers gedeel.

TLU SA se stalletjie het ook heelwat besoekers gelok en waardevolle gesprekke met lede, produsente en ander belangstellendes moontlik gemaak.

Die terugvoer oor KragDag was besonder positief. Dit is duidelik dat die geleentheid jaarliks van krag tot krag groei en steeds ’n belangrike platform vir selfstandigheid, innovasie en toekomsgerigte denke bied.

Die twintig-tagtig-siening

Daar word gereeld beweer dat 20% van Suid-Afrika se boere 80% van die land se voedsel produseer. Dié stelling kan maklik die indruk skep dat die oorblywende 80% van produsente, wat na bewering slegs 20% van die voedsel produseer, nie werklik belangrik is nie.

Dit is ’n siening wat moeilik aanvaar kan word. Enige persoon wat deur die land reis, sien deurlopend landbouproduksie. Op die oog af vind hierdie produksie dikwels op dieselfde vlak en met dieselfde toewyding plaas, ongeag die grootte van die boerdery.

Die gesamentlike bydrae van kleiner produsente mag op geen wyse geringgeskat word nie. Hulle dra nie net tot voedselproduksie by nie, maar speel ook ’n belangrike rol in die vestiging en instandhouding van landelike ekonomieë. Hulle skep werk en ondersteun skole, kerke, plaaslike ondernemings en gemeenskapslewe.

Elke produsent en elke TLU SA-lid se bydrae word hoog geag. Dit is juis die kollektiewe inset van produsente regoor die land wat daartoe bydra dat landbou leef, groei en ook op nasionale vlak ’n onmisbare rol vervul.

Kongres 2026 Presidentsrede: Begrond. Beskerm. Bewaar.

TLU SA-president Henry Geldenhuys het tydens die 2026-kongres beklemtoon dat die tema, “Landbou: Begrond. Beskerm. Bewaar.”, veel meer as net drie woorde is – dit is ’n opdrag aan elke lid en produsent.

Hy het lede aangemoedig om aktief by TLU SA se strukture betrokke te bly, aangesien die organisasie se stem en invloed deur sy lede versterk word. “Ons kan nie van ander verwag om dit wat vir ons kosbaar is te beskerm indien ons self onbetrokke bly nie.”

Geldenhuys het ook ’n sterk boodskap aan produsente gerig: “Hou aan boer. Hou aan produseer. Hou aan bou.” Hoewel die omstandighede uitdagend is, bly boere se werk noodsaaklik vir Suid-Afrika se voedselsekerheid, ekonomie en landelike gemeenskappe.

“Begrond beteken dat ons weet waarop ons staan. Beskerm beteken dat ons bereid is om daarvoor op te tree. Bewaar beteken dat ons verder kyk as ons eie leeftyd.”

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

TLU SA-kongres en dinee plaas landbou en sy mense voorop

Boere se veiligheid, die toekoms van voedselproduksie en erkenning aan landboupresteerders het op 2 September saamgekom tydens TLU SA se jaarlikse kongres en dinee in Pretoria.

Onder die tema “Landbou: Begrond. Beskerm. Bewaar.” het die kongres gefokus op ons Christelike begronding, die beskerming van boere en eiendomsreg, en die verantwoordelike bestuur van grond en water. Die paneelgesprekke het die behoefte aan beter polisiëring, staatsaanspreeklikheid en ’n omgewing waarin boere winsgewend kan produseer, beklemtoon.

Landbouminister Willie Aucamp het sy bereidwilligheid tot samewerking uitgespreek, terwyl Rob Hersov landbou se groeipotensiaal uitgelig het. TLU SA-president Henry Geldenhuys het die verband tussen winsgewende boerdery en voedselsekerheid beklemtoon. Die jongboervisie het hierby aangesluit met ’n fokus op kennisdeling, tegnologie en innovasie om die volgende geslag produsente toe te rus. Lees meer oor die kongresbesprekings en kernboodskappe.

Die aand se kongresdinee het geleentheid gebied om jong talent, besondere prestasies en jarelange diens te vier. Bertus Joubert is as Jongboer van die Jaar aangewys, met Gerhard Heinlein tweede en Marissa Solms derde. Joubert se pryse sluit die gebruik van ’n BYD Shark-inprophibriedbakkie van Hatfield Motor Group vir twaalf maande en ’n tegnologieborgskap van SmarTime en iNspexia in. Jurgens Koen is as Jeugboer van die Jaar vereer.

Wannie Scribante het die Nico Kilian-trofee ontvang, terwyl Tom Moodie met erelidmaatskap vir sy jarelange diens vereer is. Presidentstoekennings is toegeken aan Louwrens Mahoney, Carlo Smuts, Ruan Jordaan en Henry Lubbe vir die Coast to Coast 4 Farmers-inisiatief, asook aan dr. Danie Odendaal en dr. Faffa Malan. Wykus Lamprecht is erken vir sy wenpampoen van 653 kg in die Goliat van Gat Pampoenkompetisie.

Baie geluk aan elke ontvanger en dankie vir die bydrae wat julle tot landbou en ons organisasie lewer. Lees meer oor die toekennings en pryswenners.


Skenkings versterk TLU SA se werk 

TLU SA spreek sy opregte dank uit teenoor Balfour BU, Lichtenburg DLU en Suikerbos DLU vir hul ruim skenkings van onderskeidelik R50 000, R12 000 en R150 000; ’n gesamentlike bydrae van R212 000.

Hierdie ondersteuning getuig van vertroue in TLU SA en stel die organisasie in staat om voort te gaan om die belange van sy lede en die breër landbougemeenskap te bevorder en te beskerm. In ’n uitdagende landbou-omgewing is dit besonder waardevol wanneer landbougemeenskappe saamstaan en TLU SA se werk op ’n tasbare manier ondersteun.

Baie dankie aan die besture en lede van hierdie landbou-unies vir hul ruimhartigheid, lojaliteit en vertroue in TLU SA.


TLU SA Limpopo dra groete oor by Agri Limpopo se Kongres

Wilma Prinsloo, waarnemende streekbestuurder van TLU SA Limpopo, het namens die organisasie ’n groeteboodskap tydens Agri Limpopo se Kongres gelewer.

Sy het beklemtoon dat dit belangrik is dat georganiseerde landbou saam om dieselfde tafel sit en, waar nodig, saam aan die wa trek. Wanneer landbouorganisasies saamstaan, is hulle sterker en beter toegerus om hul gemeenskaplike doel te bereik: om landbou te versterk en produsente se toekoms te help verseker.
Prinsloo het produsente aangemoedig om aktief by georganiseerde landbou en hul onderskeie bedryfsorganisasies betrokke te wees. Produsente moet deel wees van gesprekke, hul insette lewer en help om werkbare planne vir die toekoms te ontwikkel.

“As jy nie saam om die tafel sit nie, word jy deel van die spyskaart,” het sy gewaarsku.

Sy het kongresgangers goeie gesprekke, nuwe idees en waardevolle pitkos vir die verstand, die hart en die toekoms van landbou toegewens.

Namens TLU SA Limpopo het sy Agri Limpopo ’n suksesvolle Kongres toegewens en die hoop uitgespreek dat landbouorganisasies saam sal aanhou bou aan ’n sterk en volhoubare landbousektor, met produsente eerste en met vaste geloof en vertroue in God Drie-enig.


Jongboer-gholfdag ’n reuse-sukses

TLU SA se Jongboer-gholfdag was ’n reuse-sukses en het deelnemers, ondersteuners, borge en sakevennote in ’n aangename en ontspanne omgewing saamgebring.

Die ondersteuning van borge maak dit moontlik om geleenthede soos hierdie aan te bied en terselfdertyd erkenning aan jong produsente en die volgende geslag landbouleiers te gee.

TLU SA bedank graag die volgende borge vir hul waardevolle ondersteuning:

  • Kempston Agri
  • Artesium Consulting Services
  • Agri-all-Africa
  • Edge Communications
  • LWO
  • iPlan
  • Mutual Client Care
  • NWK
  • NBV Prokureurs
  • Obaro
  • PIC
  • Qualito Craft Distillery
  • Reinke
  • Stella Artois
  • Squad Services
  • Victorinox
  • Santam
  • BYD Menlyn
  • Haval Hatfield
  • Mahindra Fourways & Woodmead
  • Omoda Jaecoo Hatfield
  • Jetour Hatfield

Baie dankie aan elke borg, deelnemer en ondersteuner wat tot die sukses van die dag bygedra het. Julle betrokkenheid en ondersteuning van TLU SA se jongboere word opreg waardeer.

Wyle dr. Chris Jordaan, wat by TLU SA werksaam was, was 'n mede-outeur van 'n Manifes vir Christene. Dit is 'n waardevolle dokument wat gelowiges help om hulself toe te rus met groter kennis en konteks. Vanaf hierdie uitgawe gaan Pitkos elke maand 'n kort opsomming van die opeenvolgende hoofstukke publiseer.

Hoofstuk 2: Die wese van waarheid

In ’n wêreld waar elke mens sy eie “waarheid” probeer skep, herinner ’n Manifes vir Christene ons daaraan dat waarheid nie deur mense bepaal word nie, maar deur God. Die Bybel is nie bloot ’n versameling wyshede of historiese verhale nie – dit is God se geïnspireerde, foutlose en onveranderlike Woord en die finale maatstaf waarteen alle waarheid gemeet moet word.

Hierdie hoofstuk beklemtoon dat die Skrif die enigste vaste fondament bied waarop ’n Christen sy geloof, waardes en lewensbeskouing kan bou. God openbaar Hom nie net deur sy skepping nie, maar ook op die duidelikste wyse deur sy Woord. Daarom kan geen menslike tradisie, filosofie, kultuur of nuwe “openbaring” ooit dieselfde gesag as die Bybel dra nie.

Die uitdaging vir Christene vandag is dat die samelewing al hoe meer leer dat waarheid relatief is – dat elke persoon self kan besluit wat reg of verkeerd is. Die Manifes waarsku egter dat wanneer God se waarheid verruil word vir menslike idees, die grens tussen waarheid en dwaling vervaag. Die gevolg is onsekerheid, verwarring en ’n samelewing wat nie meer ’n vaste morele kompas het nie.

Vir gelowiges beteken dit dat ons nie net die Bybel moet lees nie, maar ook ons denke, besluite en optrede voortdurend daaraan moet toets. God se waarheid is nie bedoel om slegs op ’n Sondag gehoor te word nie, maar om elke aspek van die lewe te rig – van gesinslewe en werk tot wetenskap, opvoeding en openbare optrede.

Jesus self sê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Wanneer Christene hulle lewe op hierdie waarheid bou, ontvang hulle ’n vaste fondament wat nie deur veranderende tye of menslike opinies geskud kan word nie. Juis daarom bly die oproep van hierdie hoofstuk vandag net so relevant: laat God se Woord, en nie die wêreld se stemme nie, die finale gesag in ons lewens wees.


Restitusie-eise in die Staatskoerant gepubliseer

TLU SA se jongste Blitsnuus oor eiendomsreg bevat ’n volledige uiteensetting van restitusie-eise wat vanaf 1 tot 31 Julie 2026 in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die eise het betrekking op verskeie eiendomme in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. Grondeienaars en ander belanghebbendes word aangemoedig om die volledige lys noukeurig na te gaan en vas te stel of enige van die gepubliseerde eise hul eiendom of belange raak.

Die volledige uiteensetting van die betrokke plase, gedeeltes, geregistreerde eienaars, eisers, provinsies en Staatskoerantverwysings is by hierdie uitgawe van Pitkos aangeheg.

Lede wat moontlik deur enige van die eise geraak word, word aangeraai om die nodige inligting in te win en betyds toepaslike advies te bekom.


Staatskoerant

Die volgende Staatskoerantpublikasies word onder lede se aandag gebring vir kennisname en gebruik waar van toepassing.

Lees meer hier


TLU Landboukompas | Betroubare kennis vir beter plaasbesluite

Farmers Weekly beplan om in samewerking met TLU SA ’n reeks aktuele landbourubrieke saam te stel wat praktiese voorligting bied oor sake wat vir boere belangrik is. Die doel is om relevante, betroubare inligting beskikbaar te stel wat produsente kan help om ingeligte besluite op plaasvlak te neem.

Om seker te maak dat die rubrieke fokus op dit wat werklik in die landbougemeenskap leef, wil ons graag van TLU SA-lede hoor. Watter sake, uitdagings of vrae in jou boerdery verdien volgens jou meer praktiese toeligting?

Stuur asseblief vir ons tot ses onderwerpe waaroor jy graag meer leiding of betroubare inligting wil ontvang. Dit kan enigiets wees wat jou produksie, besluitneming, koste, risiko’s of die volhoubaarheid van jou boerdery raak.

Die terugvoer sal gebruik word om die belangrikste onderwerpe te identifiseer en die inhoud van die komende rubrieke te bepaal. Só help jy ons om seker te maak dat die inligting wat gedeel word, relevant en prakties bruikbaar vir boere is.

Misdaadsyfers weerspieël nie volle omvang van landelike geweld

TLU SA waarsku dat ’n rekordoes nie rekordwins beteken

TLU SA begin veldtog teen voorgestelde wysigings aan Vuurwapenbeheerwet

TLU SA bring kundiges byeen vir konferensie oor eiendomsreg en OSV

TLU SA Limpopo verwelkom uitspraak teen onwettige jagters

Wie laat die boer se stem hoor?

TLU SA op pad na NAMPO Kaap

NAMPO Kaap is om die draai en TLU SA sien daarna uit om weer deel van dié belangrike landbougeleentheid te wees.

Die geleentheid bied ’n waardevolle platform om met produsente, lede, landbouvennote en ander belanghebbendes in gesprek te tree. Besoekers sal ook die geleentheid kry om meer oor TLU SA se werk, standpunte en ondersteuning aan produsente te hoor.

Indien jy NAMPO Kaap bywoon, kom maak gerus by TLU SA se stalletjie ’n draai. Hou TLU SA se kommunikasiekanale dop vir verdere inligting en die ligging van die stalletjie.


Eiendomsregkonferensie in Bredasdorp

TLU SA se Eiendomsregkonferensie vind op die aand van 9 September 2026 by Pitstop@Marino in Bredasdorp plaas.

Die konferensie bied ’n geleentheid vir ’n noodsaaklike gesprek oor eiendomsreg en die invloed daarvan op landbou, belegging, ekonomiese sekerheid en produsente se toekoms.

Die konferensiegedeelte begin om 18:30 en kan gratis bygewoon word. Vanaf 19:30 volg verdere vermaak met ’n optrede deur Veldblom. Toegang tot die aandprogram beloop R100 per persoon, terwyl ete teen R150 per persoon beskikbaar is.

Kom luister, neem deel aan die gesprek en kuier daarna saam.


Teken die datum aan vir die Goliat van Gat Pampoenfees

Die Goliat van Gat Pampoenfees vind op 13 Maart 2027 by Lavender Kontrei Mark in Pretoria plaas.
Planttyd is hier en pitte is reeds beskikbaar vir almal wat deel wil wees van Pretoria se grootste en beste Pampoenfees. Lekker groot pryse wag op die wenners, terwyl deelnemers en besoekers kan uitsien na ’n dag vol kompetisie, pret, kos, gesinsvermaak en gemeenskapsgees.

Begin nou plant en kyk of jy die volgende Goliat van Gat kan kweek!

Vir navrae en pitte, kontak Henri Combrink by 082 552 9428.

TLU SA KONGRES 2026