James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA bring kundiges byeen vir konferensie oor eiendomsreg en OSV

Die beskerming van eiendomsreg lê aan die hart van ‘n vrye, stabiele en voorspoedige samelewing. Dit raak nie net grondeienaars nie, maar elke Suid-Afrikaner wat wil belê, produseer, werk skep en ‘n toekoms vir die volgende geslag bou. Teen die agtergrond van voortdurende beleidsontwikkeling en wetgewende veranderinge rondom onteiening sonder vergoeding, bied TLU SA op 9 September 2026 ‘n Eiendomsregkonferensie aan. 

Die konferensie bring van Suid-Afrika se voorste kenners op die gebied van regte, ekonomie en grondbeleid byeen om die onderwerp vanuit verskillende perspektiewe te belig. Die doel is om deelnemers toe te rus met feitelike inligting, regsinsig en ‘n beter begrip van die moontlike implikasies van die huidige beleidsrigting.

Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, is eiendomsreg veel meer as bloot grondbesit.

“Wanneer eiendomsreg verswak word, raak dit uiteindelik elke sektor van die ekonomie. Dit beïnvloed voedselsekerheid, beleggersvertroue, ekonomiese groei en die regsekerheid waarop ‘n demokratiese samelewing gebou word. Daarom is dit noodsaaklik dat Suid-Afrikaners ingelig bly oor hierdie ontwikkelinge.”

Die konferensie open met verwelkoming deur Bennie van Zyl, waarna Jaco Schoeman, voorsitter van TLU SA se Eiendomsregkomitee, die verrigtinge amptelik sal open.

Die sprekers sluit in:

  • Dr. Ivan Meyer, LUR vir Landbou in die Wes-Kaap, wat sal praat oor “Onteiening in die politieke omgewing: Statutêre en grondwetlike pad vorentoe.”
  • Prof. Andries Raath, emeritus professor in Regsgeleerdheid, outeur en filosoof, wat die fokus plaas op die koste van onteiening van ons kulturele goedere, taal en erfenis.
  • Dr. Theo de Jager, voorsitter van SAAI, wat die ekonomiese implikasies van onteiening sonder vergoeding en die moontlike skade vir Suid-Afrika se ekonomie en internasionale aansien sal bespreek.

Van Zyl sê die konferensie is nie net vir landbouers bedoel nie.

“Eiendomsreg is die fondament waarop ondernemings, gesinne en gemeenskappe hul toekoms bou. Hierdie gesprek behoort elke burger wat omgee vir Suid-Afrika se ekonomiese en grondwetlike toekoms, te interesseer.”

TLU SA nooi landbouers, sakelui, regspraktisyns, beleidsmakers, studente en alle belangstellendes uit om die konferensie by te woon.

Die media word ook uitgenooi om die verrigtinge by te woon en met die sprekers en TLU SA se verteenwoordigers in gesprek te tree oor een van die mees bepalende beleidskwessies wat Suid-Afrika tans in die gesig staar.

Konferensiebesonderhede:

Datum: 9 September 2026
Tyd: 18:00
Plek: Pitstop @ Marino, Kerkstraat, Bredasdorp

Registrasie kan gedoen word deur TLU SA se webblad te besoek.

 

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA bring kundiges byeen vir konferensie oor eiendomsreg en OSV