TLU SA Limpopo neem kennis van die uitspraak van die Howick Landdroshof waarin vier persone skuldig bevind is aan onwettige jagaktiwiteite ingevolge artikel 42(2) van die KwaZulu-Natal Nature Conservation Ordinance.
Ons verwelkom die feit dat die hof bevestig het dat die Wet nie eers hoef te wag totdat wild doodgemaak word voordat daar opgetree kan word nie. Die beskerming van wild begin by die voorkoming van misdaad, nie slegs by die vervolging daarvan nadat skade reeds aangerig is nie.
Vir boere is hierdie uitspraak egter ook belangrik om ‘n ander rede. Onwettige jag is selde ‘n geïsoleerde voorval. Dit gaan dikwels gepaard met onwettige betreding van private eiendom, die skending van eiendomsreg, die bedreiging van gesinne, die beskadiging van infrastruktuur en die verlies van waardevolle wild en vee. Dit plaas ‘n geweldige finansiële en veiligheidslas op grondeienaars.
Die uitspraak stuur ‘n belangrike boodskap dat die regstelsel bereid is om op te tree waar daar voldoende getuienis bestaan van onwettige jagaktiwiteite, selfs voordat onherstelbare skade plaasvind.
TLU SA Limpopo doen egter ook ‘n beroep op wetstoepassingsowerhede om soortgelyke prioriteit te gee aan alle misdade wat boere en landelike gemeenskappe raak. Voorkomende optrede, vinnige ondersoeke en doeltreffende vervolging is noodsaaklik om vertroue in die strafregstelsel te versterk.
Ons spreek ons waardering uit teenoor alle boere, natuurbewaringsorganisasies, ondersoekbeamptes, aanklaers en gemeenskappe wat daagliks saamwerk om Suid-Afrika se natuurlike erfenis, landboubedryf en private eiendomsreg te beskerm.
Hierdie uitspraak bevestig ‘n belangrike beginsel: die Wet behoort nie bloot skade te straf nie; dit behoort skade te voorkom. Wanneer die reg betyds toegepas word, word nie net wild beskerm nie, maar ook die mense wat hul lewens wy aan bewaring en voedselproduksie.









