James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Mense maak die verskil | TLU SA Jongboer-finalis, Bertus

“Personeel is steeds die belangrikste bate op enige plaas.”

Só sê Bertus Joubert (33) van Hartbeesfontein, een van die twaalf finaliste in TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Die kompetisie word jaarliks deur TLU SA aangebied om uitsonderlike jong produsente te erken wat reeds ‘n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrikaanse landbou lewer. Vanjaar se wenner sal kontant, die gebruik van ‘n voertuig vir ‘n bepaalde tydperk en ‘n tegnologieborgskap ontvang, maar volgens TLU SA is die kompetisie oor veel meer as pryse alleen.

‘n Onafhanklike beoordelaarspaneel besoek al twaalf finaliste se boerderye tussen 13 en 17 Julie, waarna die algehele wenner tydens TLU SA se jaarlikse kongres aangekondig sal word.

Die beoordeling strek veel verder as produksiesyfers. Finaliste word onder meer beoordeel op hul bestuursvernuf, finansiële bestuur, innovasie, rentmeesterskap, volhoubare boerderypraktyke, betrokkenheid by hul gemeenskappe en hul vermoë om ‘n suksesvolle landbou-onderneming vir die toekoms te bou.

Vir Joubert is dit maklik om die belangrikste les uit sy boerdery saam te vat.

“Alhoewel dit baie belangrik is om nuwe tegnologie te benut en na jou toerusting om te sien, bly jou personeel steeds die belangrikste bate op die plaas.”

Hy glo geen boerdery kan op ‘n hoë standaard funksioneer sonder mense wat passievol is oor hul werk, bereid is om te leer en saam te groei nie.

“Sonder mense wat vir mekaar omgee, bereid is om aan te pas en elke dag beter te word, is dit nie moontlik om soveel verskillende vertakkings suksesvol te bestuur nie. Daarom verg personeel daagliks die meeste aandag.”

Vir Joubert strek die waarde van boerdery egter veel verder as voedselproduksie.

“Die afgelope paar jaar het ek die voorreg gehad om baie mense se lewens deur my boerdery aan te raak. Ek kon werk skep vir mense wat gesukkel het, kos gee aan dié wat dit nodig gehad het, hoop bring aan mense wat dit verloor het en soms vir hulle ‘n nuwe begin wys.”

Hoewel hy ‘n groot passie vir gewasse, diere en die natuur het, glo hy sy roeping as boer het ‘n groter doel.

“Ek glo daar is ‘n belangriker rede waarom ek boer – veral in Suid-Afrika, waar soveel mense sonder werk of geleenthede is. Ek sien elke personeellid as ‘n vennoot. Saam kan ons iets bou wat groter is as wat enigeen van ons alleen sou kon bereik.”

Om as een van TLU SA se Jongboer van die Jaar-finaliste aangewys te word, beteken daarom besonder baie vir hom.

“Ek glo Suid-Afrika is een van die moeilikste plekke ter wêreld om te boer. Daarom beteken dit baie dat jong boere erkenning ontvang vir die werk wat hulle doen.”

Hy hoop sy deelname sal ander jong produsente aanmoedig om aan te hou bou aan Suid-Afrikaanse landbou.

“Ek hoop ander jong boere kan iets uit my storie put en aanhou streef na uitnemendheid, selfs wanneer die uitdagings groot raak. Baie jong boere kies om oorsee te gaan boer, maar ek glo ons het hulle hier nodig. Hulle kan ‘n werklike verskil maak in Suid-Afrika en in ons landbousektor.”

Kategorie:

Deel dit:

Mense maak die verskil | TLU SA Jongboer-finalis, Bertus