Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Junie 2025
 

Die Algemene Raad van TLU SA het by sy onlangse vergadering dringend besin oor die uitdagende situasie waarin boere regoor Suid-Afrika hulself bevind. Die druk op die landbouproduksiesektor neem toe, veral as gevolg van beleidsonsekerheid en voortdurende onsekerheid rondom eiendomsreg. Tog, aan die einde van die dag, kom alles neer op winsgewendheid. Die realiteit waarmee ons gekonfronteer word, is dat die boer toenemend die prysnemer geword het, beide aan die inset- én die uitsetkant van sy besigheid.

In die aanloop tot TLU SA se jaarlikse kongres, wat vanjaar op 10 September plaasvind, het die Algemene Raad besluit om deeglik te ondersoek watter meganismes en metodes ons as organisasie kan aanwend om boere se winsgewendheid weer in balans te bring. Daar is toenemend die gevoel dat boere vasgevang word in finansiële afhanklikheid, hul insetkoste word met skuld gefinansier, en die uiteindelike besluitneming lê dikwels by finansiële instellings waaraan hulle verantwoording moet doen. Dit plaas die boer in ’n ondergeskikte posisie wat nie volhoubaar is nie.

In hierdie lig het TLU SA begin kyk na moontlikhede om produsente meer beheer oor hul produkte te gee, nie net aan die insetkant nie, maar ook in terme van bemarking en prysbepaling. Ons is besig met strategiese ondersoeke na modelle en meganismes wat ons by die kongres sal begin kommunikeer, alles met die doel om die boer se winsgewendheid te versterk en sy posisie in die waardeketting te stabiliseer.

Ons wil dit duidelik stel: TLU SA is nie in stryd met die waardeketting nie, elke skakel het ’n geldige rol om te speel. Maar die winsgewendheid van die produsent moet wéér sentraal kom staan. Dit is ons prioriteit.

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

 

Pampoenboere aan die gang!

Die aftel na die 26ste Goliat van Gat Pampoenfees het amptelik begin, en dié wat mik vir die groot pryse is al lank aan die groei. As jy nog nie jou pitte geplant het nie, moenie langer wag nie! Dis nou die tyd om jou voorbereiding in plek te kry en die eerste stappe te neem na daardie een-ton pampoen.

Met R35 000 op die spel vir ’n een-ton pampoen, geskenk deur Laeveld Agrochem, en hope ander pryse in verskeie kategorieë, is dit ’n kompetisie wat jy nie wil misloop nie.

Jong boere onder 16 jaar word ook aangemoedig om deel te neem, met 2023 en 2024 se wenner, Cornelis Bester, wat vir die jeug as mentor optree.

Maak seker jy is gereed vir 14 Maart 2026. Kry jou pitte vandag nog by Mariëtte (TLU SA: 012 804 8031) of Henri Combrink (082 552 9428 / culliboer@gmail.com).

 
 

TLU SA Oosstreek

In die Oosstreek is die stropery volstoom aan die gang en boere vorder goed met die oeswerk. Ten spyte van uitdagings soos veediefstal en aanhoudende probleme met hondejagtery, bly die boere positief en vasberade.
Voorbrande word tans gemaak om brande in die droë wintermaande te help beheer, en met die koue wat behoorlik kom byt na ’n lekker ryp, is dit duidelik: dis winter op sy ergste.

TLU SA Vrystaat

TLU SA Vrystaat dui koers aan en ondersteun landbouers

By die onlangse vergadering van die Vrystaatse dagbestuur van TLU SA is kennis van struikelbokke in landbou geneem, knelpunte in landbou indringend bespreek en weë oorweeg om knelpunte te oorbrug. Voorts is middele bespreek om landbouers in die provinsie te ondersteun. Veediefstal, bek-en-klouseer, bedreigings deur mynbou-aktiwiteite en prysskommelings in graan en rooivleismarkte was enkele van die onderwerpe wat indringend hanteer is. Die dagbestuur het onomwonde steun aan kommoditeitsorganisasies toegesê. Kundigheid, infrastruktuur en die mandaat om op spesifieke terreine van landbou ter ondersteuning van die landbouer en produsente op te tree, berus by spesifieke kommoditeitsorganisasies. As sodanig behoort kommoditeitsorganisasies die volle steun van die landbousektor te geniet. Met dank is kennis geneem van die reusewerk wat die RPO doen om rooivleisprodusente te ondersteun en uitdagings soos bek-en-klouseer te bekamp. Die vergadering het ‘n oproep aan alle landbouers in die Vrystaat gerig om die hande van die RPO as diensorganisasie te versterk en uit te bou.

TLU SA se ondersteuning van landbouers en produsente

Die vergadering was dit eens dat TLU SA oor die kundigheid en personeel beskik om die knelpunte wat landbouers en produsente ervaar prakties aan te spreek. ‘n Beroep is op lede gedoen om die omvangryke elektroniese biblioteek wat deurlopend uitgebrei word, te raadpleeg. Benewens TLU SA se beleidstukke en handveste, is daar ook handleidings – byvoorbeeld oor onregmatige betreding, grondbesetting en uitsetting en die impak van mynbou op landbou – wat grondeienaars in staat stel om effektief met spesifieke kwessie te handel. Dit is beklemtoon dat selfs regslui wat deur lede vir regshulp genader word, veel nut hieruit kan put. Voorts was dit vir die vergadering ‘n riem onder die hart om te verneem van die rol wat TLU SA speel in medewerking met die SAPD en die ander rolspelers van die E2-projek om grondeienaars winsgewend, volhoubaar en in veiligheid te laat boer. Die vergadering het beklemtoon dat aanmelding van alle vorme van misdaad wat op landbougrond gepleeg word, ‘n belangrike meganisme is om deurlopend ‘n bydrae te lewer dat voldoende infrastruktuur en mannekrag deur die SAPD beskikbaar gestel word ter bekamping van misdaad.

Misbruik van gesofistikeerde tegnologie

Die vergadering het met kommer kennis geneem van die moontlike misbruik van gesofistikeerde tegnologie vir misdadige oogmerke. Hommeltuigtegnologie wat andersins ‘n waardevolle bate vir landbouers kan wees, kan egter ook in verkeerde hande ‘n bedreiging van beduidende omvang word. Insidente van hommeltuigbedrywighede by afwesigheid van bona fide-redes vir gebruik van dié tegnologie baar groot kommer en laat talle vrae ontstaan: Vir welke rede sou eienaars van hommeltuie dié tegnologie sonder toestemming van grondeienaars oor hul veetroppe vlieg? Wie beman sodanige tuie en sou gebruik van hommeltuie sonder toestemming in bepaalde gevalle nie ook skending van privaatheid beteken nie? Die vergadering het ‘n dringende beroep op grondeienaars gedoen om op die uitkyk vir hommeltuigaktiwiteite oor hul eiendom te wees en dit aan die plaaslike landelike veiligheidstrukture te rapporteer.

Media as belangrike spreekbuis vir landbou

Met dank het die lede van die vergadering kennis geneem van en hul dank uitgespreek teenoor die media wat landbouers en produsente in die Vrystaat oor belangrike landbou-aangeleenthede op hoogte hou. Benewens die SAUK, OFM, Volksblad, Veeplaas en ander mediaplatforms, is TLU SA se lede deurlopend in kontak met ander mediaplatforms en neem gereeld aan inligtingsgeprekke en ander uitsendings oor landbouverwante onderwerpe deel.

Hande vat is ‘n belangrike middel om kollektiewe deelname in landbou te bewerkstellig

Die vergadering het sy dank uitgespreek teenoor elke instansie, organisasie en bedryf wat landbou in die Vrystaat ondersteun en ons produsente se inisiatiewe op een of ander wyse rugsteun. Ons lede word opgeroep om met ander rolspelers en instansies saam te werk ten einde die uitdagings wat landbou in die gesig staar te oorkom. Ten besluite is sterk beklemtoon dat boerdery-aktiwiteite en -ondernemings ‘n geloofsaktiwiteit is en dat ons elke dag uit die voorsienigheid van God leef. Op ons knieë en met die hand aan die ploeg is winsgewende en volhoubare landbou moontlik en is ons landbougemeenskap in staat om soos telkens in ons land se geskiedenis landbou te laat gedy.

TLU SA Limpopo

Hiermee ‘n foto van die beplanningsvergadering vir TLU SA se betrokkenheid by die kykNET Buite Ekspo by PlusNet/Geotex - Shade Net / Lekkewaan Agripark. Die vergadering het plaasgevind naby Stellenbosch (Mooiberge) en is bygewoon deur Wilma Prinsloo, Marius Opperman (Trio Events), Hetta Saunderson (m4events), en Jannie Saunderson (eregas en oud-boer).

 

TLU SA se Elektroniese Biblioteek is nou aktief!

TLU SA het pas ‘n eksklusiewe ledeportaal op ons webblad geloods – ‘n elektroniese biblioteek propvol saakmakende, praktiese en strategiese inligting vir jou as lid. Hier gaan jy beleide, riglyne, dokumente, en selfs toegang tot ons mediabiblioteek kry – alles op een plek.

Só kry jy toegang:
Jy moet ‘n geregistreerde lid van TLU SA wees. Meld aan met die e-posadres waarop jy ons kommunikasie ontvang. Skep dan ‘n wagwoord – en siedaar – jy het toegang tot ‘n wêreld van kennis en hulpmiddels wat net vir ons lede beskikbaar is.

Ons brei die biblioteek voortdurend uit soos nuwe inligting beskikbaar raak, so loer gereeld in en bly op hoogte sodat jy ingeligte besluite vir jou plaas en toekoms kan neem.

Besoek nou: www.tlu.co.za

 
 

Prof. Andries Raath verkies as SAPD Veediefstalforum-voorsitter

TLU SA Vrystaat dui koers aan en ondersteun landbouers

Witskrif op plaaslike regering

ANC-regering verstewig sy aanslag op privaat eiendomsreg

 

  • 2 Julie | Val Boeredag
  • 24 Julie | Losberg Demodag
  • 25 -27 Julie | Kyknet Buitelug Ekspo
  • 2 Augustus | Vleisfees Randfontein
  • 7 Augustus | Klipkraal Demodag
  • 7-9 Augustus | Kragdag Landbou
  • 22-23 Augustus | Vivo Boerebemarkingsdag
  • Kragdag-stalletjies beskikbaar: KragDag vind op 7 - 9 Augustus plaas.

 

 

Jongboer van die Jaar 2025