Die jongste wetsontwerpe wat deur die ANC-regering by die Parlement ingedien is, naamlik die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg (no. 13F van 2017) en die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Voordraers (no. 24F van 2016), is niks minder nie as ʼn voortsetting van die sistematiese aanslag teen private eiendomsreg in Suid-Afrika.
TLU SA waarsku met erns dat hierdie wetsontwerpe, onder die dekmantel van sogenaamde regverdige gebruik en beskerming, in werklikheid ontwerp is om nie-tasbare bates soos outeursregte en intellektuele eiendom te nasionaliseer. Dit is ʼn duidelike verlenging van die ANC se nasionale demokratiese revolusie wat reeds in die Freedom Charter van 1955 aangekondig is en sedertdien stap vir stap deurgevoer word, van die onteiening van waterregte in 1998, die nasionalisering van mineraalregte in 2004, tot by die Onteieningswet van 2025.
Hierdie wet is ook reeds deur president Cyril Ramaphosa na die Konstitusionele Hof verwys om te bepaal of dit met die Grondwet in lyn is. Dit is nie ’n nuwe saak nie; verskeie rolspelers het reeds insette gelewer om die ongrondwetlikheid van dele van die wet te beklemtoon. ’n Uitspraak word tans verwag, en ons vertrou dat die hof sy verantwoordelikheid sal neem om in die beste belang van die land en sy gemeenskappe op te tree.
TLU SA het waardering vir diegene wat reeds hul stemme laat hoor het, terwyl ons terselfdertyd bewus is van die ANC se breër planne om die sogenaamde Nasionale Demokratiese Rewolusie te implementeer deur middel van sulke wette.
“Hierdie is nie losstaande pogings nie. Ons sien die ANC se strategie duidelik, ʼn ideologies gedrewe poging om alle vorme van eiendom onder staatsbeheer te bring,” sê prof. Andries Raath, streekbestuurder van TLU SA Vrystaat. “Die feit dat daar geen behoorlike sosio-ekonomiese impakstudies vir hierdie wetsontwerpe voorgehou is nie, dui op ʼn opsetlike poging om die implikasies daarvan te verdoesel.”
Die voorgestelde wysigings aan outeursregwetgewing voorsien onder meer in sogenaamde “billike gebruik” van outeurs se werke, ʼn vae en wyd interpreteerbare konsep wat dit moontlik maak vir buitepartye, insluitend die staat, om sonder vergoeding toegang tot en gebruik van skrywers se werk te verkry. Dit is ʼn direkte oortreding van internasionale verdrae soos die Berne-konvensie, waarvan Suid-Afrika ʼn ondertekenaar is.
“Wanneer die staat homself die reg toeken om op groot skaal kreatiewe werk vir eie voordeel te gebruik sonder vergoeding, is dit niks anders nie as onteiening sonder vergoeding,” sê Raath. “Die gevolg is dat die skeppers van intellektuele inhoud, outeurs, musici, dramaturge, hul reg op verdienste en kontrakvryheid verloor.”
Hierdie tendens raak ook georganiseerde landbou ernstig. Tekste wat deur boere-organisasies saamgestel en gepubliseer word, dikwels teen groot koste, kan nou moontlik sonder toestemming of vergoeding deur buitepartye gebruik en verkoop word. Dit beteken die intellektuele arbeid van landboubelangegroepe kan gekaap word tot voordeel van diegene wat self nie bydra tot produktiewe inhoud nie.
“Ons is besig om die gevolge van ʼn sosialistiese stelsel in volvoering te sien, waar produktiwiteit gestraf en onproduktiwiteit beloon word,” waarsku Bennie van Zyl, TLU SA hoofbestuurder. “Wat met grond begin het, brei nou uit na die geesteskinders van mense. Vandag is dit outeursregte, môre is dit handelsmerke en patente.”
TLU SA glo onwrikbaar in die beskerming van private eiendomsreg, of dit tasbaar of nie-tasbaar is. Dit is die hoeksteen van ʼn gesonde ekonomie, van entrepreneurskap en van vryheid. Die organisasie sal voortgaan om, deur sy Handves vir die Beskerming van Private Eiendomsreg, hierdie grondliggende reg te verdedig.
“In ’n vrye markekonomie behoort daar ruimte te wees vir skepping, verdienste en vooruitgang, nie vir gelykmakende ontneming deur die staat nie,” sluit Raath af. “Suid-Afrika is nie ’n eksperimenteergrond vir sosialistiese herskryf van eiendomsreg nie.”
Wat gaan dit verg om die ANC tot die insig te bring dat ware ekonomiese vooruitgang nie deur ideologiese herverdelingsplanne bereik word nie, maar deur ’n begrip van hoe welvaart werklik geskep word? Welvaartskepping is ’n proses wat verantwoordelikheidsaanvaarding, die implementering van beproefde ekonomiese beginsels en die skepping van ’n beleidsomgewing vereis wat groei aanmoedig. In plaas daarvan is hulle besig om die kapasiteit van die land stadig maar seker af te breek. Só ondermyn hulle die grondslag waarop ’n volhoubare toekoms vir Suid-Afrika gebou moet word.
Foto: Pixabay



