Die witskrif op Plaaslike regering is weereens ‘n poging om reaktief die probleme aan te spreek. So is daar dan ook voorheen verskeie wetgewings en skrifte, planne soos die One Plan en die Distrik komitees vir oorsig om te verseker dat plaaslike regering funksioneel kan opereer. Uit die verdere witskrif is dit dus duidelik dat alle vorige pogings nie die werklike probleme aangespreek het nie.
TLU SA het in samewerking met BC Gildenhuys and Associates, oorweging gegee aan die witskrif oor plaaslike regering. Een van die grootste uitdagings binne munisipaliteite is deurlopend die kommunale gebiede en die aspekte wat in daardie omgewing ‘n rol speel. Voldoende rigtinggewende bestuur en beheer ontbreek in hierdie opsig.
Verder is die grootste bepalende faktor die feit dat die regering reaktief optree op probleme wat in die munisipaliteite ondervind word, met die gevolg dat wetgewing en skrifte die algehele funksie van die munisipaliteite oorheers en daar tot huidiglik nog geensins ‘n pro-aktiewe optrede op skrif geplaas is om die administratiewe funksie van die munisipaliteite te ondersteun nie. Binne die munisipaliteit word daar in werklikheid slegs gepoog om aan die afdwinging van regulasies te voldoen om ‘n oudit te slaag en dienslewering geensins prioriteit geniet nie. Dit is duidelik in die wyse waarop betogings en optogte die hoogty vier in tekortkominge van dienslewering.
Aangesien die raad van die munisipaliteit die hoogste besluitnemings bevoegdheid moet besit, is die tekortkominge by raadslede ‘n verdere aspek wat geensins in die witskrif aangespreek word nie. Vereistes vir raadslede moet ingestel word om aan die minimum standaard te voldoen om bevoeg te wees vir die taak. Vanuit swak besluitneming is daar swak bestuur by die munisipaliteite.
Verder word daar ook geensins oplossings gevind vir die minderbevoorregtes en werklose inwoners wat afhanklikes word van die munisipaliteit vir gratis dienste. Die land se ekonomie kan vanuit die Nasionale fiskus geensins die munisipaliteite onderhou om hierdie stygende syfer van afhanklikes te onderhou nie. Selfs in selfonderhouding van die munisipaliteit, kan die inkomste wat verkry word nie voldoen aan die vereistes nie.
Dienslewering en effektiewe bestuur van die munisipaliteite is definitief ‘n prioriteit om die plaaslike regering as funksioneel te hervorm.



