By die onlangse vergadering van die Vrystaatse dagbestuur van TLU SA is kennis van struikelbokke in landbou geneem, knelpunte in landbou indringend bespreek en weë oorweeg om knelpunte te oorbrug. Voorts is middele bespreek om landbouers in die provinsie te ondersteun. Veediefstal, bek-en-klouseer, bedreigings deur mynbou-aktiwiteite en prysskommelings in graan en rooivleismarkte was enkele van die onderwerpe wat indringend hanteer is. Die dagbestuur het onomwonde steun aan kommoditeitsorganisasies toegesê. Kundigheid, infrastruktuur en die mandaat om op spesifieke terreine van landbou ter ondersteuning van die landbouer en produsente op te tree, berus by spesifieke kommoditeitsorganisasies. As sodanig behoort kommoditeitsorganisasies die volle steun van die landbousektor te geniet. Met dank is kennis geneem van die reusewerk wat die RPO doen om rooivleisprodusente te ondersteun en uitdagings soos bek-en-klouseer te bekamp. Die vergadering het ‘n oproep aan alle landbouers in die Vrystaat gerig om die hande van die RPO as diensorganisasie te versterk en uit te bou.
TLU SA se ondersteuning van landbouers en produsente
Die vergadering was dit eens dat TLU SA oor die kundigheid en personeel beskik om die knelpunte wat landbouers en produsente ervaar prakties aan te spreek. ‘n Beroep is op lede gedoen om die omvangryke elektroniese biblioteek wat deurlopend uitgebrei word, te raadpleeg. Benewens TLU SA se beleidstukke en handveste, is daar ook handleidings – byvoorbeeld oor onregmatige betreding, grondbesetting en uitsetting en die impak van mynbou op landbou – wat grondeienaars in staat stel om effektief met spesifieke kwessie te handel. Dit is beklemtoon dat selfs regslui wat deur lede vir regshulp genader word, veel nut hieruit kan put. Voorts was dit vir die vergadering ‘n riem onder die hart om te verneem van die rol wat TLU SA speel in medewerking met die SAPD en die ander rolspelers van die E2-projek om grondeienaars winsgewend, volhoubaar en in veiligheid te laat boer. Die vergadering het beklemtoon dat aanmelding van alle vorme van misdaad wat op landbougrond gepleeg word, ‘n belangrike meganisme is om deurlopend ‘n bydrae te lewer dat voldoende infrastruktuur en mannekrag deur die SAPD beskikbaar gestel word ter bekamping van misdaad.
Misbruik van gesofistikeerde tegnologie
Die vergadering het met kommer kennis geneem van die moontlike misbruik van gesofistikeerde tegnologie vir misdadige oogmerke. Hommeltuigtegnologie wat andersins ‘n waardevolle bate vir landbouers kan wees, kan egter ook in verkeerde hande ‘n bedreiging van beduidende omvang word. Insidente van hommeltuigbedrywighede by afwesigheid van bona fide-redes vir gebruik van dié tegnologie baar groot kommer en laat talle vrae ontstaan: Vir welke rede sou eienaars van hommeltuie dié tegnologie sonder toestemming van grondeienaars oor hul veetroppe vlieg? Wie beman sodanige tuie en sou gebruik van hommeltuie sonder toestemming in bepaalde gevalle nie ook skending van privaatheid beteken nie? Die vergadering het ‘n dringende beroep op grondeienaars gedoen om op die uitkyk vir hommeltuigaktiwiteite oor hul eiendom te wees en dit aan die plaaslike landelike veiligheidstrukture te rapporteer.
Media as belangrike spreekbuis vir landbou
Met dank het die lede van die vergadering kennis geneem van en hul dank uitgespreek teenoor die media wat landbouers en produsente in die Vrystaat oor belangrike landbou-aangeleenthede op hoogte hou. Benewens die SAUK, OFM, Volksblad, Veeplaas en ander mediaplatforms, is TLU SA se lede deurlopend in kontak met ander mediaplatforms en neem gereeld aan inligtingsgeprekke en ander uitsendings oor landbouverwante onderwerpe deel.
Hande vat is ‘n belangrike middel om kollektiewe deelname in landbou te bewerkstellig
Die vergadering het sy dank uitgespreek teenoor elke instansie, organisasie en bedryf wat landbou in die Vrystaat ondersteun en ons produsente se inisiatiewe op een of ander wyse rugsteun. Ons lede word opgeroep om met ander rolspelers en instansies saam te werk ten einde die uitdagings wat landbou in die gesig staar te oorkom. Ten besluite is sterk beklemtoon dat boerdery-aktiwiteite en -ondernemings ‘n geloofsaktiwiteit is en dat ons elke dag uit die voorsienigheid van God leef. Op ons knieë en met die hand aan die ploeg is winsgewende en volhoubare landbou moontlik en is ons landbougemeenskap in staat om soos telkens in ons land se geskiedenis landbou te laat gedy.



