Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Augustus 2025
 

Vriende van TLU SA

Ons wil graag aan al ons vriende op hierdie platform ’n woord van groot dank rig vir hul ondersteuning. Die afgelope tyd het TLU SA verskeie aspekte aangespreek ten einde die beleidsomgewing te beïnvloed in belang van ons lede.

Op internasionale vlak was daar verskeie geleenthede waar met ander lande geskakel is in ’n poging om vir ons lede beter moontlikhede te skep. Plaaslik is daar ook saamgewerk met verskeie organisasies wat elk op hul manier ’n positiewe bydrae tot landbou lewer. Daar is verder met die Departement van Landbou oor verskeie aspekte geskakel wat konstruktiewe verskil kan maak.

Die belangrikste hiervan is sekerlik ’n omvangryke memorandum aan minister John Steenhuisen wat uitwys hoe ons besig is om die landboukapasiteit van ons land te verloor, hetsy deur wanpraktyke of deur wetgewing wat lei tot kruipende onteiening. Die impak van ’n ideologies-gedrewe beleidsrigting het eenvoudig te duur geword vir die inwoners van Suid-Afrika, en elke verantwoordelike persoon behoort daarteen op te staan.

Die bydrae wat ons onder andere van ons vriende ontvang, stel ons in staat om die nodige navorsing te doen en insette te lewer in belang van volhoubare landbou.

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

 

Die vraag wat ek myself afvra, is: het ek gemoedsrus? Ons hoop en vertrou dat dit nooit nodig sal wees nie, maar die werklikheid van ons tye is dat ongelukke, plaasaanvalle en ernstige siektetoestande daagliks deel is van ons bestaan. Sou enige van hierdie dinge gebeur, het ek die gemoedsrus dat my gesin vinnig en doeltreffend mediese hulp kan ontvang? As ek deel is van die Rocket HEMS-projek, kan ek ten minste seker wees dat daar voorsiening gemaak is. Deur by hierdie projek aan te sluit, verseker ek dat, sou dit ooit nodig wees, enige gesinslid vinnig per pad of per lug na goeie mediese hulp geneem kan word.

Die vraag is dus: wat is my verantwoordelikheid, en het ek gemoedsrus? Ek wil elkeen aanmoedig om dit ernstig te oorweeg, teen slegs R75 per gesinslid per maand.

Ons glo en vertrou dat die meeste boere teen hierdie tyd hul oes afgehandel het of amper klaar is. Ten spyte van te nat of te droë toestande was die opbrengste oor die algemeen nie sleg nie. Nou begin die voorbereidings vir die nuwe seisoen: grondvoorbereiding, bekalking en die nodige beplanning. Sterkte hiermee, mag die nuwe seisoen vir u geseënd en voorspoedig wees deur die genade van Bo. Ek wil egter ook ’n ernstige waarskuwing rig: insetprodukte wat reeds bestel is en in skure lê, of nog onderweg is, word al hoe meer geteiken deur misdadigers. Boere moet asseblief waaksaam wees en sorg dat hierdie waardevolle voorraad soos kunsmis, saad, diesel en selfs chemikalieë soos onkruiddoders, veilig gehou word.

Verder beweeg ons die tyd van die jaar binne waar temperature begin styg en winde toeneem. Dit verhoog die gevaar van wegholbrande aansienlik. My versoek aan alle boere is om nie hul waaksaamheid te verslap nie. Maak seker dat hulpbronne gereed is om vinnig aangewend te word waar nodig. As gevolg van die laat reën is baie voorbrande nie behoorlik skoon nie, wat beteken dat dit maklik weer kan vlam vat. In sommige gebiede is daar selfs glad nie voorbrande gemaak nie, wat die risiko net verder verhoog.

Ons leef in uitdagende tye, maar dit is ook tye wat ons herinner aan ons verantwoordelikheid, teenoor ons gesinne, ons plase en ons land. Kom ons bly waaksaam, voorsienend en toegewyd, sodat ons voluit kan bou aan die volhoubaarheid van ons landbou en aan die veiligheid van dié wat ons liefhet.

 

Het u al u plek bespreek vir TLU SA se Kongres 2025?

Hierdie jaar se Kongres, met die tema “PLAASlike Krag = Globale Geleentheid”, beloof om ons kommersiële boere te inspireer en te bemagtig om weer volle beheer oor hul waardeketting te neem.
Benewens die toekomsgerigte presidentsrede deur TLU SA-president Henry Geldenhuys, kan daar ook uitgesien word na ons gasspreker, dr. Wouter Basson, wat ons kom aanmoedig om staande te bly in die uitdagende tye waarin ons leef.
Die program sluit in:

  1. Rigtinggewende besluite wat deur ons verskeie komitees bekragtig word.
  2. Drie paneelbesprekings wat die werk en koersbepaling van die Veiligheids-, Ekonomiese- en Omgewingsake-komitees ondersteun.
  3. Die verkiesing van ons nuwe President en Vise-president deur stemgeregtigde afgevaardigdes.
  4. Toekennings aan uitblinkers uit ons geledere.

Die dag word afgesluit met ’n dinee waar onder meer die TLU SA Jongboer van die Jaar gekroon sal word.

Hierdie geleentheid beloof om elkeen te inspireer om terug te ploeg in ons landbou-omgewing. Maak dus seker dat u voor 29 Augustus 2025 u plek bespreek.

Kontak die Kongres-span vir registrasie of navrae by kongres@tlu.co.za.


Ekonomiese volhoubaarheid moet die fokus bly

Winsgewende besighede is die kern van ware volhoubaarheid. ’n Regering wat die belange van sy mense eerste stel, sal seker maak dat sy twee primêre verantwoordelikhede nagekom word: Eerstens, om ’n veilige omgewing te skep waar inwoners kan woon en werk. Tweedens, om ’n klimaat te skep waarin die privaatsektor graag sake wil doen. Dit verg onder andere ’n vriendelike regulatoriese raamwerk, betroubare infrastruktuur, goeie opleiding en gesondheidsdienste. Ongelukkig is dit aspekte waarop Suid-Afrika tans nie kan roem nie.

Teen hierdie agtergrond word daar nou ’n nasionale dialoogproses gevoer om vas te stel wat fout is in die land. Die probleem is egter dat daar geen duidelikheid oor die vertrekpunt bestaan nie. Indien dit bloot nog ’n platform is waar die ANC se ideologie aan die einde seëvier, is deelname niks anders as ’n klug nie.
Die antwoord op wat in Suid-Afrika verkeerd is, is trouens eenvoudig en verg nie ’n miljoene-rand-dialoog nie. Die ANC het in 1994 funksioneel doeltreffende instellings ontvang – en dit wat daarvan oorgebly het, is die duidelike bewys dat die huidige probleme direk die gevolg is van die ANC se beleidsrigting.

TLU SA se strewe bly om kommersiële boere veilig en volhoubaar op hul plase te hou. Die bestaan van winsgewende plase is waarskynlik die grootste bate waaroor Suid-Afrika beskik. Geen ander bedryf of aktiwiteit kan voortbestaan indien daar nie eers kos op die tafels is nie. Ons lede kan met trots weet dat húlle daagliks hierdie grondwaarheid bevestig.


Om insette te lewer, of nie?

Die stelling “om daar te wees maak dit moontlik om ’n verskil te maak” hoor ons dikwels, en ons gebruik dit self. Daar is selfs die gesegde dat, as jy nie by die tafel sit nie, jy waarskynlik op die spyskaart is. Hierdie beskouing was nog altyd TLU SA se benadering, en daarom lewer ons deurlopend insette wanneer nuwe beleidsvoorstelle of wetgewing na vore kom.

Maar die werklikheid het ons ook geleer dat om bloot net by die tafel aan te sit, jou soms juis op die spyskaart plaas. Die ANC, wat vroeër as regerende party en nou in die Regering van Nasionale Eenheid steeds die leiding probeer opeis, dryf sy ideologies-gedrewe beleid soos ’n stoomroller vorentoe. Die vertrekpunt van gesprekke is dus bepalend vir watter koers die land inslaan.

Beleidsgewys leef Suid-Afrika in twee wêrelde. Aan die een kant is daar die sosialistiese en kommunistiese ideologie wat die ANC en sy meelopers aanhang. Aan die ander kant is daar diegene wat besef dat welvaart slegs geskep kan word in ’n stelsel waar privaat eiendomsreg beskerm word en waar die vrye mark funksioneer. In só ’n stelsel word die verantwoordelikheid aanvaar dat winsgewendheid harde werk verg. In teenstelling glo die eerste groep dat die oplossing vir armoede en werkloosheid lê in die verspreiding van sosiale toelae.

Met meer as 60 miljoen mense in Suid-Afrika, waarvan slegs sowat 6 miljoen ’n persoonlike belastingbydrae lewer, kan enige rasioneel denkende mens insien dat die ANC se model eenvoudig nie volhoubaar is nie. Dit verteer wat reeds bestaan, sonder om nuwe groei te skep.

Daarom moet die vraag oor deelname, om insette te gee of nie, deurlopend deeglik geëvalueer word.

 
 

TLU SA Oosstreek

In die Belfast/Wonderfontein-omgewing is daar onlangs gesprekke met die plaaslike polisiestasie gevoer om samewerking te verbeter, en dit lyk of dit reeds vrugte afwerp. Gedurende die afgelope naweek is 25 verdagtes en sowat 60 honde van plase verwyder.

Hoewel daar steeds in dele van die Oosstreek gestroop word, is die algemene situasie tans onder beheer. Die reënval was oor die algemeen gunstig, en vure bly rustig. Die grootste uitdagings in die streek is tans beesdiefstal en honde wat probleme veroorsaak.

TLU SA Vrystaat

TLU SA het landbouminister John Steenhuisen genader oor die buitensporige kostes verbonde aan die verpligte opleiding wat boere nou moet voltooi voordat hulle landbouchemikalieë mag gebruik. Die minister se kantoor het die versoek na die toepaslike departement verwys, en ’n afspraak het tussen TLU SA en die departement plaasgevind. Daar is ooreengekom dat die voorstelle wat TLU SA gemaak het, op skrif saamgestel word, sodat daar gekyk kan word na 'n uitkoms van 'n gesonde omgewing en gesonde mense met die gebruik van chemiese middels.

Landbouhulpbronbeskerming Vrystaat TLU SA se fokus

Met groot kommer neem TLU SA Vrystaat kennis van die omvang van die bedreiging van landbouhulpbronne in die provinsie. Berigte van oorbeweiding met gevolglike toestroming na weiding wat verkoop of verhuur word, met dieselfde bedreigings van hoë potensiaal landbougrond elders in die land, oorgrens-verhuring van hoë potensiaal weiding in Oos-Vrystaat en onregmatige verkoop van klein stukkies grond aan opkomende landbouers in verskeie streke, bring landbouhulpbronne onder druk en veroorsaak ‘n skerp toename in onregmatige bedrywighede op landbougrond. Tesame met wydverspreide veldbrande, gevolglike uitkringende gronderosie, besoedeling van waterhulpbronne en toename in indringerplante ervaar Vrystaatse landbouers toenemende druk om winsgewend, volhoubaar en veilig te kan boer.

Die uitkringende effek van hierdie tendense op aangrensende of naasliggende landbougrond het groot kommer onder Vrystaatse landbouers tot gevolg. Met dankbaarheid het TLU SA Vrystaat kennis geneem dat in die lig van die negatiewe impak van mynbou-aktiwiteite en onregmatige grondbesettings in sommige streke, voorgenome gesprek van TLU SA op die hoogste vlak met die regering in die vooruitsig gestel word. Dit is veral mynbou-aktiwiteite wat die afgelope drie jaar in die provinsie skerp toegeneem het. TLU SA Vrystaat is van mening dat artikel 24 van die Grondwet tesame met die wetgewing wat beskerming van landbouhulpbronne ten doel het, ‘n stewige platvorm bied waarop veral regeringsinstellings deur effektiewe en konsekwente wetstoepassing, die bedreiging van landbouhulpbronne kan verminder.

Bykomend tot die knelpunte hierbo genoem, het indringerspesies ‘n kopseer in verskeie gebiede in die Vrystaat geword. Effektiewe samewerking met relevante staatsinstellings stel TLU SA Vrystaat in staat om landbouers wat met hierdie probleem worstel, met die verantwoordelike staatsdepartemente in verbinding te stel. Landbouers word ook attent gemaak op die aanvang van die brandseisoen in die Vrystaat en die negatiewe impak wat dit op landbouhulpbronne kan hê. Inskakeling by brandbestrydingstrukture is ‘n belangrike stap om weiding en ander gewasse teen brand te beskerm.

Derhalwe versoek TLU SA Vrystaat alle landbouers om hul brandtoerusting betyds te diens en die nodige voorkomende stappe te neem om ongekontroleerde brande in die provinsie te verminder.

 

TLU SA bied van die beste voordele aan sy lede, praktiese ondersteuning wat werklik ’n verskil maak. Een van hierdie voordele is ’n nuwe vennootskap met ROCKET

Ons is bly om aan te kondig dat TLU SA nou saam met ROCKET werk om lede toegang te gee tot ’n omvattende noodhulpdiens, spesifiek ingestel op die unieke uitdagings van landelike gebiede.
ROCKET CONNECT is ’n 24-uur nooddiens met toegang tot mediese advies, ambulansvervoer en, indien nodig, vinnige lugvervoer per helikopter. Hierdie diens is ontwikkel met landelike gemeenskappe in gedagte, waar hospitale ver is en tyd in noodgevalle van kritieke belang kan wees.

Deur ROCKET CONNECT het jy altyd toegang tot ’n nasionale noodsentrum wat beman word deur gekwalifiseerde mediese personeel. Hulle bied telefoniese ondersteuning, aktiveer ambulansdienste, en kan selfs lughulp reël wanneer dit nodig is. ’n Maklike mobiele toep help om vinnig jou ligging vas te stel en die naaste hulpbronne te ontbied.

Lede wat inteken, kry toegang tot:

  1. 24/7 noodondersteuning
  2. Ambulansvervoer
  3. Helikopterhulp waar toepaslik *subject to ROCKET’s flight criteria and T&Cs

Die diens kos R75 per maand, ’n bekostigbare premie vir die sekuriteit en gemoedsrus wat dit bied.

By TLU SA glo ons in gesamentlike ondersteuning en volhoubare oplossings vir boere. Hierdie diens vorm deel van ons breër verbintenis om lede se veiligheid te bevorder en realistiese oplossings te bied vir probleme wat dikwels op die plaasoppervlak geïgnoreer word.


Die doel agter Vriende van Landbou® se missie

Ondersteuning van Landelike Gemeenskapsveiligheid deur Innoverende Befondsing Vriende van Landbou® is toegewy aan die bevordering van veiliger landelike omgewings deur die daarstelling van robuuste gemeenskapsveiligheidsbestuurstrukture aktief te ondersteun. Deur die unieke uitdagings waarmee landelike gebiede te kampe het – soos beperkte toegang tot befondsing en groter kwesbaarheid vir misdaad – te erken, werk die organisasie om lanbougemeenskappe te bemagtig met die hulpbronne, opleiding en stelsels wat nodig is vir selfstandigheid en veerkragtigheid. Die kern van hierdie missie lê 'n verbintenis tot kollektiewe welstand, wat verseker dat elkeen in die landelike samelewing kan leef, werk en floreer in 'n omgewing waar veiligheid beide 'n prioriteit en 'n gedeelde verantwoordelikheid is.

Om hierdie noodsaaklike veiligheidsinisiatiewe volhoubaar te befonds, het Vriende van Landbou® die AgriBuddies™-versnapering happie reeks bekendgestel, 'n reeks gesonde produkte wat spesifiek vir kleinhandelverkope ontwikkel is. Deur AgriBuddies™ happies aan verbruikers aan te bied, genereer die organisasie 'n bestendige stroom inkomste, waarvan 'n beduidende gedeelte direk herbelê word in die skepping en instandhouding van gemeenskapsveiligheidsstrukture in landelike streke. Hierdie innoverende benadering bederf verbruikers nie net met heerlike versnaperinge nie, maar nooi hulle ook uit om vennote in 'n groter saak te word; elke aankoop van AgriBuddies™ is 'n tasbare bydrae tot die bou van veiliger, meer verbonde landelike gemeenskappe regoor die land – ‘n gesonde happie terwille van veiligheid!!

AgriBuddies se produkte is reeds by verskeie motorhawens en gerieflikheidswinkels beskikbaar. Deur die organisasie te ondersteun, word ‘n persentasie van winste  aan die lanbousektor geskenk om landelike veiligheid te bevorder.

INISIATIEF VAN GERHARD KRIEL (082 0501444)


TLU SA se Elektroniese Biblioteek is nou aktief!

TLU SA het pas ‘n eksklusiewe ledeportaal op ons webblad geloods – ‘n elektroniese biblioteek propvol saakmakende, praktiese en strategiese inligting vir jou as lid. Hier gaan jy beleide, riglyne, dokumente, en selfs toegang tot ons mediabiblioteek kry – alles op een plek.

Só kry jy toegang:
Jy moet ‘n geregistreerde lid van TLU SA wees. Meld aan met die e-posadres waarop jy ons kommunikasie ontvang. Skep dan ‘n wagwoord – en siedaar – jy het toegang tot ‘n wêreld van kennis en hulpmiddels wat net vir ons lede beskikbaar is.

Ons brei die biblioteek voortdurend uit soos nuwe inligting beskikbaar raak, so loer gereeld in en bly op hoogte sodat jy ingeligte besluite vir jou plaas en toekoms kan neem.

Besoek nou: www.tlu.co.za

staatskoerant

Onderstaande staatskoerant publikasies ter kennisname en gebruik waar van toepassing.

Lees meer hier.

 
 

Uitspraak teen Malema: ’n Monumentale oorwinning vir reg en geregtigheid

Bek-en-Klouseer-uitbraak: Dringende aksie en privaatsektor betrokkenheid nodig

Landbouhulpbronne onder druk deur die ANC-regering se voorgenome mynbouwetgewing

Waarom TLU SA nie aan beplande Nasionale Dialoog sal deelneem

Soektog na SA se beste bees- en skaapboere

CT du Plessis, Voermol Voere se waarnemende nasionale verkoopsbestuurder, sê die kompetisie word saam met verskeie medewerkers en borge aangebied, naamlik Landbouweekblad, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), ENB, BKB en Zoetis. Voermol wag nominasies vanaf boere en verteenwoordigers van die borge, boereverenigings en ander landbou-organisasies in.

Die sluitingsdatum vir benoemings is die 31 Augustus 2025. Enige leierveeboer wat agting van sy medeboere geniet, kan benoem word, waarna ’n span baie ervare, onafhanklike beoordelaars drie finaliste in elke afdeling sal kies en hulle op hul plase besoek om die wenners aan te wys.

Klik hier vir die skaapboer-nominasievorm.
Klik hier vir die beesboer-nominasievorm.


Goliat van Gat

Die nuwe Goliat van Gat-pampoenplantseisoen is om die draai, en die belangstelling is groter as ooit! Hierdie jaar beloof regtig GROOT dinge.

Laeveld Agrochem borg R35 000 vir die 1 ton + wenpampoen, en daar is prysgeld vir die eerste 10 grootste pampoene, asook vir die Mooiste, Lelikste, Oorspronklikste en die top 3 Jong Kwekers. Verder wag daar heerlike kompetisies soos pitspoeg, gewigraai, pampoenresies en geesvang.
Vir die jonger deelnemers het Cornelis Bester, die wenner van die afgelope twee jaar, aangebied om nuwe jong kwekers (onder 16 jaar wat vir die eerste keer deelneem) onder sy vlerk te neem en met raad en bystand deur die seisoen te help.

Nog ’n hoogtepunt is die gewilde pampoengeregkompetisie, geborg deur Steyn’s Kookskool in Pretoria. Ons het ook pitte geskenk aan Hoër Volkskool Heidelberg in Gauteng, waar drie klasse mekaar die stryd aansê in ’n interne kompetisie. Skole wat belangstel om ook deel te neem, is baie welkom om ons te kontak.

’n Groot dankie aan ons borge wat hierdie seisoen moontlik maak, onder andere Uitkyk Vleismark, Laeveld Agrochem, Capital Scales en Steyn’s Culinary School.

Pitte en inskrywings is beskikbaar by Henri Combrink (082 552 9428 / culliboer@gmail.com) of by Mariëtte Minnaar, TLU SA (012 804 8031).

 
Kongres 2025