Landbou-organisasie TLU SA het ’n formele skrywe aan landbouminister John Steenhuisen gerig rakende die Bek-en-Klouseer-uitbraak, aangesien die situasie reeds ’n ernstige ekonomiese en landboukrisis is. Sedert Februarie 2025 het die uitbraak dramaties toegeneem, en alhoewel ’n Indaba in Julie 2025 strategiese planne en werksgroepe ingestel het om die siekte te bekamp, het daar tot dusver geen konkrete vordering plaasgevind nie. Hierdie gebrek aan implementering plaas boere, verbruikers en die landbou-ekonomie bloot aan ernstige risiko’s.
TLU SA is ernstig bekommerd oor die staat se beperkte kapasiteit om die uitbraak doeltreffend te beheer. Daar is nie genoeg staatsveeartse, inspekteurs of middele beskikbaar om uitbrekings konsekwent te hanteer nie. Die verspreiding van vee sonder voldoende beheermaatreëls vererger die situasie, en die ekonomiese druk op boere neem al hoe groter toe. Die regering se onvermoë om vinnig en daadwerklik op te tree, ondanks die beloftes van die Indaba, het tot gevolg dat die landbougemeenskap aanhoudend skade ly.
Die huidige regulatoriese raamwerk verhoed dat die privaatsektor betrokke raak by die produksie en verspreiding van entstowwe. Onder die bestaande wetgewing mag slegs die staat hierdie entstowwe hanteer, wat die reaksietempo vertraag en die ekonomiese risiko vir boere vergroot. Privaatsektor deelname sou binne maande volhoubare, koste-effektiewe entstowwe kon lewer en die Bek-en-Klouseer-uitbraak aansienlik beperk. Sonder onmiddellike aanpassing van hierdie regulasies sal die uitbraak voortduur en die ekonomiese impak op boere en markte vererger.
Vanuit ’n ekonomiese oogpunt is die situasie kritiek. Boere ly finansiële skade sonder enige vergoeding van die staat. Marktoegang word beperk, rakpryse fluktueer, en die ekonomiese oorlewing van boere word direk bedreig. Hierdie “ramp” raak reeds verbruikers en beïnvloed die stabiliteit van die vleismark. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê, “Hoe gouer die staat erken dat die privaatsektor betrek moet word, hoe gouer kan ’n effektiewe oplossing geïmplementeer word. Ons kan nie toelaat dat boere en die landbou-ekonomie aanhoudend skade ly nie.”
TLU SA doen ’n dringende beroep dat die produksie en verspreiding van Bek-en-Klouseer-entstowwe geprivatiseer word. Die staat moet sy statutêre en grondwetlike verantwoordelikheid nakom, of dit openlik erken en die privaatsektor die mandaat gee om hierdie verantwoordelikheid te hanteer. Dit is die mees realistiese en vinnigste manier om die uitbraak effektief te beheer, die ekonomiese skade te beperk en die oorlewing van Suid-Afrikaanse boere te verseker.
Na die Indaba in Julie 2025 is daar min implementering gesien, en boere se frustrasie neem toe. TLU SA dring aan op onmiddellike aksie om die Bek-en-Klouseer-uitbraak daadwerklik te bestuur en die landbou-ekonomie te beskerm.



