TLU SA verwelkom die uitspraak van die Gelykheidshof in Kaapstad wat Woensdag beslis het dat Julius Malema, leier van die EFF, hom aan haatspraak skuldig gemaak het. Hierdie uitspraak volg op sy 2022-toespraak oor ’n voorval in 2020 by Hoërskool Brackenfell, waarin Malema volgens die hof ’n oproep tot geweld teen wit mans gemaak het.
Regter Mark Sher het beslis dat Malema se woorde ’n duidelike poging was om haat aan te wakker. Hy het verder bevind dat die EFF self mede-verantwoordelik is, aangesien die party Malema se uitsprake onderskryf het. Hierdie bevinding is van groot betekenis vir die Suid-Afrikaanse samelewing, waar woorde soos dié gevaarlike gevolge kan inhou vir rasseverhoudinge en stabiliteit.
TLU SA erken dat hierdie uitspraak nie in isolasie plaasgevind het nie, maar die resultaat is van volgehoue pogings deur talle rolspelers oor baie jare heen om Malema tot verantwoording te roep. Ons spreek ons dankbaarheid uit teenoor almal wat deur die jare op verskillende maniere sy retoriek ontbloot het vir wat dit werklik is.
“Hierdie uitspraak is ’n duidelike oorwinning vir geregtigheid en vir almal wat glo dat haatspraak en aanhitsing tot geweld nie ongestraf mag bly nie, sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Ons het diep waardering vir diegene wat vasgestaan het, dikwels teen groot weerstand, om die waarheid aan die lig te bring.”
TLU SA spreek ook in die besonder sy waardering uit teenoor me. Millie Westley, die prokureur wat die saak namens die klaer gelei het. Haar toegewyde werk en deursettingsvermoë het ’n bepalende rol gespeel om hierdie mylpaal te bereik.
Westley verduidelik self die implikasies van die uitspraak en die pad vorentoe: “Die hof is gevra om te bepaal of Malema se woorde haatspraak uitmaak soos omskryf in PEPUDA. Dit is die eerste fase, waarop die hof nou uitspraak gelewer het. Die tweede fase behels die kwessie van skadevergoeding aan Danté van Wyk, die moontlikheid dat die saak aan die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word vir kriminele vervolging, en ’n bevel dat Malema sy stellings op alle platforms moet terugtrek. Indien hy ’n vonnis van selfs net een jaar ontvang, direk of opgeskort, sal dit hom diskwalifiseer om as LP te dien en kan dit die einde van die EFF beteken. Hierdie is ’n monumentale oorwinning.”
Volgens Van Zyl behoort die uitspraak nie die einde van die proses te wees nie, maar eerder die begin van verdere optrede om verantwoordbaarheid af te dwing.
“Ons glo en vertrou dat die regstelsel sal voortgaan om Malema aanspreeklik te hou vir die skade wat hy reeds aan Suid-Afrika berokken het. Die hof het vandag ’n belangrike boodskap gestuur: woorde het gevolge, en aanhitsing tot geweld kan nie in ’n regstaat geduld word nie. Hierdie is ’n ligpunt vir almal wat hoop vir ’n veiliger, regverdiger toekoms,” sê Van Zyl.
TLU SA sal die proses met noukeurige aandag volg en bly verbind daaraan om die regte van boere, sowel as die beginsels van geregtigheid en vryheid van spraak wat nie ander se veiligheid bedreig nie, in Suid-Afrika te beskerm.



