Die regering se beplande Nasionale Dialoog in Augustus word aangebied as ’n breë gesprek oor die toekoms van Suid-Afrika, ’n forum waar rolspelers vanuit die burgerlike samelewing, regering, arbeid en sakewêreld saam kan praat oor ’n gemeenskaplike pad vorentoe. Soos in baie vorige openbare deelnameprosesse word dit bemark as ’n inklusiewe platform vir “eenheid” en “gesamentlike oplossings”.
Vir TLU SA is die werklikheid egter dat sulke prosesse die afgelope drie dekades keer op keer op teleurstelling uitgeloop het. Daar is dikwels ’n dinamiese en uitnodigende uitreik na die gemeenskap, maar wanneer die gesprekke verby is, voer die ANC steeds net sy eie ideologiese agenda uit.
“Die kernprobleem lê in die regering se vertrekpunt,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die ANC se ideologiese raamwerk bly gefokus op ’n sosialisties-kommunistiese koers wat internasionaal al herhaaldelik misluk het. Hierdie beleidsrigting ondermyn ekonomiese groei, ontmoedig belegging, en lei tot armoede eerder as welvaart. Intussen word die land hoofsaaklik aan die gang gehou deur sowat vier miljoen belastingbetalers, meestal uit die privaat sektor, wat nie net persoonlike belasting betaal nie, maar ook deur hul maatskappye en besighede ’n wesenlike deel van die staatsinkomste dra.”
Teenoor hierdie groep staan ’n groot komponent van die bevolking wat afhanklik is van sosiale toelae, ’n situasie wat voortvloei uit die regering se eie onvermoë om ’n ekonomie te laat groei waarin werklike werksgeleenthede geskep word. Dekades van korrupsie, swak bestuur en ’n gebrek aan kundigheid het sleutelinstellings laat verval. Nou word ’n “dialoog” aangebied oor hoe om vorentoe te beweeg, maar sonder dat daar eers ’n gesonde, gemeenskaplike grondslag vasgelê is.
Die vraag bly dus: Op watter fondament gaan hierdie gesprek plaasvind?
As dit nie gebou word op die beginsels van beskerming en versterking van privaat eiendomsreg, ’n vryemarkstelsel wat welvaart vir almal kan skep, en ’n beleid wat werk skep deur die privaat sektor aan te moedig nie, is dit niks meer as ’n politieke oefening sonder werklike waarde nie.
“Die land het nie nog ’n ideologiese praatwinkel nodig wat die ANC se bestaande beleidsrigting bevestig nie,” sê van Zyl. “Ons het ’n realistiese plan nodig wat die ekonomie ontsluit, belegging aanmoedig en werksgeleenthede skep vir miljoene Suid-Afrikaners wat tans werkloos is. Sonder dit, gaan ’n Nasionale Dialoog bloot dieselfde pad loop as al die ander: baie insette, geen resultate.”
TLU SA glo dat ’n ware nasionale gesprek eers moontlik is wanneer daar ’n gesamentlike begrip is van die waardes en beginsels wat ’n land laat groei, soos vrye ekonomiese deelname, die beskerming van eiendomsreg, en ’n regering wat sy burgers dien. Tot dan sal deelname aan so ’n dialoog net nog ’n vermorsing van tyd en belastinggeld wees.



