TLU SA neem deel aan internasionale landbou-insette tydens G20-voorbereidings
Op 17 September het TLU SA die geleentheid gehad om saam met ander landbouorganisasies van G20-lande in Stellenbosch insette te deel en ervaring uit te ruil. Die samekoms het fokus gehad op vier belangrike onderwerpe: handel en tariewe, familieboerdery, markte, en tegnologiese innovasies soos kunsmatige intelligensie en kunsmatige vleis.
Die doel van die sessie was om standpunte vanuit boere se perspektief te formuleer en samehangende memorandums op te stel wat in November tydens die G20-beraad van presidente aan die tafel geplaas kan word. TLU SA het hierdie platform benut om waardevolle insette te lewer en sodoende die stem van Suid-Afrikaanse boere op ’n internasionale forum te laat hoor.
TLU SA se Kongres 2025
TLU SA het op 10 September sy jaarlikse kongres by die WNNR Internasionale Konferensiesentrum in Pretoria aangebied onder die tema “Plaaslike Krag = Globale Geleentheid.” Lede van regoor die land, verteenwoordigers van ander landbou-organisasies en die regering het saamgekom om uitdagings en geleenthede in die landboubedryf te bespreek.
Henry Geldenhuys is herverkies as President en Wannie Scribante as Adjunk-president. Die kongres het belangrike besluite oor eiendomsreg, veiligheid, arbeid, onderwys en omgewingsake aanvaar om TLU SA se beleidsrigting vir die komende jaar te bepaal.
Verskeie gassprekers het insette gelewer, insluitend hoofspreker Dr. Wouter Basson. ‘n Boodskap namens landbouminister John Steenhuisen is deur adjunk-direkteur-generaal Dipepeneneng Serage gelewer.
Lees meer hier.
TLU SA se Jongboer van die Jaar 2025 aangewys
TLU SA het op 10 September tydens sy jaarlikse kongres se dinee die Jongboer van die Jaar 2025 bekendgemaak. Die groot wenner is Tiaan Barkhuizen (33) van Garies, wat ‘n Dorperstoet bestuur, kommersieel boer met boerbokke en skape, en ‘n voorbeeld van jong landbouleierskap in Suid-Afrika is.
Tiaan deel sy visie vir die toekoms: jong mense moet nooit ophou probeer nie, aanhou boer en help om minder plase onbewerk te laat lê. Hy glo dat landbou die hart van die land is en hoop dat meer jongmense terug plaas toe sal gaan om voedselsekerheid te bou.
Thian Heyns is as naaswenner aangewys, terwyl Willem van der Merwe & Francois du Toit, wat as vennote ingeskryf het, derde plek behaal het.
Lees meer hier.
Bennie van Zyl (TLU SA) bring groeteboodskap aan VLU Overvaal
VLU Overvaal (Gauteng) spreek met opregte dankbaarheid waardering uit teenoor TLU SA en Bennie van Zyl vir sy hartlike groeteboodskap tydens ons onlangse VLU Overvaal- kongres. Bennie het sy blydskap uitgespreek dat TLU SA en SAVLU as sustersorganisasie hande vat, en beklemtoon dat soveel moeders en vroue in ons gemeenskappe direk baat by hierdie samewerking.
Die kongres het groot mylpale saamgebring: die 30ste bestaansjaar van VLU Overvaal, die 100ste bestaansjaar van TVLU (1925–2025)—vandag beter bekend as SAVLU—én terselfdertyd ’n viering van die ryk geskiedenis wat ons van TVLU tot SAVLU gebring het. Bennie van Zyl het saam met ons feesgevier en die organisasie gelukgewens met die pragtige gedenkalbum wat spesiaal vir hierdie mylpale saamgestel is. Ons het ook Afrikaans se 100ste bestaansjaar met trots saam gevier.
Dit was ’n vreugde om te sien hoe Bennie die sing van Afrikaanse liedere uit die FAK geniet het. Hy het verder met waardering verwys na die stylvol, vroulik versierde saal wat die warmte en feestelikheid van die dag so mooi weerspieël het.
VLU Overvaal sê dankie aan Bennie en TLU SA vir hulle teenwoordigheid, bemoediging en handevat. Ons sien uit na voortgesette samewerking wat ’n tasbare verskil maak in die lewens van ons lede en die gemeenskappe wat ons saam dien.
Deur Lilia Bierman |