President Cyril Ramaphosa se onlangse uitlatings tydens die opening van die 115de Zimbabwe Landbou skou op 29 Augustus 2025 het ’n duidelike streep getrek. Waar hy vroeër nog deur gematigde Suid-Afrikaners die voordeel van die twyfel gegun is, het hy nou daardie vertroue heeltemal verloor.
Ramaphosa het die land se pogings om historiese grondbesitpatrone, wat voorheen die wit minderheid bevoordeel het, af te breek en swart Zimbabweane in produktiewe landbou te bevorder, beskryf as noodsaaklik vir historiese geregtigheid, voedselveiligheid en ekonomiese groei.
Sy lofprysing van Zimbabwe se grondhervorming, ’n proses wat internasionaal gekritiseer is vir sy verwoestende impak op voedselproduksie, eiendomsreg en menseregte, ontbloot ’n ideologiese onderbou wat lank versluier was. Hierdie uitlatings wys dat Ramaphosa nie tydens KODESA ’n neutrale staatsman was nie, maar ’n berekende onderhandelaar wat reeds toe ’n revolusionêre program as “transformasie” voorgehou het. Die sogenaamde beskerming van eiendomsreg in die Grondwet was dus nooit ’n waarborg nie, maar bloot ’n taktiese vertraging.
Hy het nie net die voordeel van twyfel misbruik nie – hy het sy ideologiese onderrok nie bloot laat uitloer nie, maar openlik oor sy kop getrek. Hierdie bewondering vir ’n beleid wat ’n eens hoogs suksesvolle landbou-ekonomie verander het in ekonomiese verwoesting, sosiale verval, hongersnood en massasterftes, is nie bloot swak staatsmanskap nie; dit is ’n direkte bedreiging vir reg, vryheid en volhoubare ontwikkeling in Suid-Afrika.
TLU SA sal aanhou veg vir die beskerming van eiendomsreg in al sy vorme, kultureel, intellektueel en ekonomies, as die fondament van ’n vrye en voorspoedige samelewing.
Hierdie nuwe verleentheid van die President oor eiendomsreg sal op 9 September 2025 onder die loep kom tydens die vergadering van die ad hoc-komitee vir die beskerming van Eiendomsreg, waaraan internasionale sowel as nasionale kundiges deelneem. TLU SA sal hieroor verder kommentaar lewer tydens sy Kongres op 10 September 2025.



