| BKS-krisis vra dringende optrede en daadwerklike samewerking
Die hantering van BKS wek wydverspreide frustrasie, veral weens ’n gebrek aan dringendheid by besluitnemers. Op 20 Januarie 2026 het die minister van landbou, John Steenhuisen, ’n koördineringskomitee (ICC) uit die landbousektor saamgestel om insette aan die departement te koördineer. Die komitee het weekliks vergader met een doel: om die sektor so vinnig moontlik te herstel sodat die verhandeling van vee kan hervat.
Die kern van die oplossing lê eerstens by die spoedige verkryging en toediening van entstowwe wat nou landwyd noodsaaklik is weens die uitbreiding van gevalle. Sonder om voorbeelde te noem van gebrekkige prestasie deur die staat, kan dit bevestig word dat privaat kundigheid op alle vlakke noodsaaklik is om die krisis aan te spreek. Verder is dit ook nodig dat kritieke aspekte soos bewegingsbeheer, kwarantynvereistes en biosekuriteitsriglyne beslag kry. Hierdie elemente vereis geïntegreerde besluitneming en uitvoering, iets wat tot dusver ontbreek het.
Daar bestaan min twyfel dat die staat se hantering van hierdie “staatbeheerde” siekte ernstige gevolge veroorsaak het. Die sektor dra nou die koste. Beperkings in bestaande wetgewing en regulasies het die situasie verder bemoeilik.
TLU SA se uitvoerende komitee het litigasie as ’n laaste uitweg beskou, maar nie uitgesluit nie. Reeds einde Januarie het die ICC ’n Seksie 10-aansoek aan die minister voorgelê om die privaat sektor se kundigheid en kapasiteit by entstofverkryging en -toediening te betrek. Die departement se trae reaksie en versuim om samewerking met die ICC en die minister se taakgroep (MTT), waar van die beste veeartsenykundigheid versamel is, te formaliseer, is herhaaldelik gekritiseer.
In ’n onlangse hofsaak het die minister ’n aangepaste weergawe van die ICC se voorstel ingedien as bewys van vordering, ’n stap wat die betekenis van “besig wees” bevraagteken. Die hof het beslis dat ’n Seksie 10 teen 17 April gepromulgeer moet word. Ongeag die hofsuitspraak, wat verwelkom word in die sin dat die voeteslepery deur die departement nou met ’n hofbevel beëindig word, verg dit steeds dat al die rolspelers oor die inhoud van sodanige dokument moet saamstem.
Die minister het op 10 April ’n getekende Seksie 10 in die Staatskoerant gepubliseer. Daar is sewe dae vir kommentaar gegee. Dit word betreur dat die ICC se versoek dat al die rolspelers saam die inhoud bepaal, verontagsaam is. Die deur is oop vir baie kommentare, aangesien daar verskeie aspekte is wat ooglopend nie gemak by die landbousektor sal skep nie. TLU SA gee onafhanklik hul kommentaar en sal ook deur die ICC insette lewer.
Te veel tyd is reeds verlore, veral weens ’n gesentraliseerde benadering tot beheer. Verdere knelpunte sluit in stadige prosesse by SAHPRA en die poging om Onderstepoort Biological Products in die verspreidingsketting in te voeg, wat koste en vertragings verhoog.
Hoewel sommige meen vroeë litigasie sou beter gewees het, bly die werklikheid dat selfs ’n hofuitspraak praktiese implementering vereis. Kundiges uit die MTT het waardevolle insette gelewer, maar samewerking tussen alle rolspelers bly noodsaaklik. Tot dusver is hierdie insette grootliks geïgnoreer binne ’n gefragmenteerde besluitnemingsraamwerk.
Deurlopende gesprekke met die litigante groepe het plaasgevind, en dit was en is steeds vir almal belangrik om uitkomste in belang van die sektor te verkry. ’n Gesentraliseerde kultuur van beheer en besluitneming in staatsfunksionering op verskeie vlakke bly die hekkie in die pad daarvan om die vyand, naamlik BKS, na behore te beveg. Dit is die ervaring wat tans op alle vlakke in Suid-Afrika by vele staatsinstellings ervaar word. Die uiteindelike prys word deur boere en hul vee op grondvlak betaal.
Springbokvlakte Sonneblomprojek wys boeregees en streekstrots
Die TLU SA Roedtan Boerevereniging se Springbokvlakte Sonneblomprojek groei as ’n praktiese inisiatief wat produsente saambring rondom opbrengs, innovasie en gemeenskapsbetrokkenheid. Die projek moedig boere aan om sonneblom aan te plant, opbrengste te vergelyk en kennis met mekaar te deel oor kultivarkeuses, produksiemetodes en winsgewendheid op die Springbokvlakte.
Meer as net ’n kompetisie, skep die projek gesonde mededinging en wys dit wat moontlik is wanneer produsente hul ervaring en kundigheid inspan. Dit beklemtoon ook die belangrike rol wat sonneblom as gewas in die streek se landbou-ekonomie speel.
Wat die projek besonders maak, is dat dit nie net op tonnemaat fokus nie, maar ook op kwaliteit, volhoubaarheid en die waarde wat georganiseerde landbou in landelike gemeenskappe kan ontsluit. In baie gevalle word fondse uit sulke projekte teruggeploeg in plaaslike inisiatiewe en veiligheidsprojekte.
Die Springbokvlakte bly een van Suid-Afrika se ikoniese produksiegebiede, en die Sonneblomprojek is nog ’n bewys dat daar op die platteland steeds visie, trots en ondernemingsgees leef. |