Bennie van Zyl
As jong seun het ek die voorreg gehad om saam met ’n oom, in sy tyd reeds ’n legende in die Bosveld, deur die Thabazimbi-bosveld te kon stap. Vir iemand met bloot ’n lekekennis, maar ’n diep passie vir die veld, was dit ’n geleentheid wat mens nie laat verbygaan nie, gewis ’n kans wat benut kan word om te leer.
Die eerste onbekende boom is met selfvertroue as ’n kanniedood uitgewys. ’n Takkie is netjies afgepluk vir latere verwysing. Kort daarna volg nóg ’n boom, ook ’n kanniedood. Toe ’n derde. Selfs ’n boom wat ek gedink het ek ken, ’n blinkblaar-wag-’n-bietjie, word met dieselfde oortuiging herdoop: kanniedood.
Dit het nie lank geneem vir die besef om deur te dring nie: Op die oom se plaas gaan bome nie sommer dood nie, almal is kanniedoods.
Die ervaring het my oor die jare bygebly. Nie omdat ek daardie dag groot botaniese kennis opgedoen het nie, maar omdat dit iets dieper ontbloot het. Daardie oom se status as Bosveldkenner het nie noodwendig gelê in foutlose tegniese korrektheid nie, maar in sy passie, sy entoesiasme en sy vermoë om met oortuiging en liefde oor die veld te praat. Dit is daardie ingesteldheid wat mense oortuig, wat respek afdwing en wat ’n nalatenskap bou.
Dalk lê daar juis hierin ’n belangrike les, nie net oor die Bosveld nie, maar oor ons boere en ons landboubedryf.
Soos daardie “kanniedood”-bome, is daar iets besonder gehard in die Suid-Afrikaanse boer. Wanneer mens deur die land reis, van die wingerde van die Hexriviervallei tot die uitgestrekte skaapveld van Boesmanland en tot die sonneblomlande op die Springbokvlakte, tref die uiteenlopendheid van toestande jou. Geen twee plase is dieselfde nie. Geen twee seisoene is voorspelbaar nie. Tog bly daar ’n konstante: die boer se vermoë om aan te pas, te volhard en weer op te staan.
Hierdie gehardheid is nie toevallig nie. Dit word oor tyd gevorm deur ’n meedoënlose maar noodsaaklike toets: die mark. Winsgewendheid is die finale arbiter. Dit bepaal uiteindelik of ’n boerdery volhoubaar is of nie. Oor dekades heen het hierdie markkragte plase geëvalueer en “gerangskik”, nie volgens ideologie nie, maar volgens ekonomiese realiteit. Daarom lyk ’n ekonomiese eenheid in die Hexrivier anders as in Boesmanland of op die Springbokvlakte. Daarom verg elke streek ’n unieke benadering, ’n unieke ingesteldheid en dikwels ’n unieke tipe boer.
Dit is juis waarom die strategiese waarde van suksesvolle boere vir ’n land nie gering geskat kan word nie. Voedsel op die tafel is nie vanselfsprekend nie. Dit is die produk van duisende besluite, risiko’s en opofferings, geneem deur mense wat elke dag met onsekerheid werk.
Teen hierdie agtergrond is dit ontstellend dat instellings wat juis geskep is om landbou te ondersteun, al hoe meer tekort skiet in die uitvoering van hul mandaat. Die Landbank, wat destyds met visie en begrip vir landbou se unieke uitdagings tot stand gekom het deur insette van TLU SA, speel vandag ’n bykans weglaatbare rol. Dit is nie net ’n institusionele probleem nie, dit is ’n simptoom van ’n breër beleidsomgewing waar korttermynpolitiek en kaderontplooiing dikwels die oorhand kry bo kundigheid en langtermynvolhoubaarheid.
Die gevolg is dat boere, wat reeds deur faktore soos klimaatsverandering, insetkoste, infrastruktuurverval en markonstabiliteit onder druk geplaas is, toenemend aan hulle eie lot oorgelaat word. Tog byt hulle vas. Soos die kanniedood – gehard, aanpasbaar, doelgerig en vasberade.
Maar dalk is die grootste les uit daardie Bosveldstap nie net die een van gehardheid nie. Dit gaan ook oor onderskeidingsvermoë. In ’n wêreld waar inligting oorvloedig is, maar waarheid dikwels skaars, raak dit al hoe belangriker om te weet waar om betroubare kennis te vind. Passie speel hier ’n deurslaggewende rol. Dit is passie wat jou dryf om dieper te delf, om vrae te vra en om nie tevrede te wees met oppervlakkige antwoorde nie.
Daardie dag in die Bosveld het ek nie noodwendig geleer om bome reg te identifiseer nie. Maar ek het iets van wysheid raakgesien: dat ingesteldheid en passie dikwels die sleutel is tot ware begrip. Dit is wat jou lei na die regte bronne, die regte mense en uiteindelik die regte besluite.
Miskien het ons vandag meer “kanniedoodmense” nodig; mense met die gehardheid om te volhard, maar ook met die passie om te soek na waarheid en begrip. Gegewe die kompleksiteit van landbou- en die samelewingsomgewing is dit juis daardie kombinasie wat die verskil maak tussen oorleef en werklik floreer.
Hierdie skrywe het op 19 April in Pretoria FM se Nuusweek verskyn.



