TLU SA neem kennis van die verklaring wat op 1 April deur die kantoor van die Minister van Landbou, John Steenhuisen, uitgereik is rakende entstofproduksie by die Landbounavorsingsraad (LNR). Hoewel die verklaring poog om gerusstelling te bied oor die hantering van bek-en-klouseer (BKS), bly daar ernstige vrae oor die praktiese uitvoering en doeltreffendheid van die huidige strategie.
Volgens TLU SA se betrokkenheid en waarnemings tydens ’n besoek op 6 Februarie vanjaar, is daar duidelik aangedui dat ’n trivalente entstof – wat die SAT 1, SAT 2 en SAT 3 stamme insluit – ontwikkel en beskikbaar gestel sou word. Daar is verder bevestig dat produksie vanaf Maart sou begin, met ’n teiken van 20 000 dosisse per week.
Die werklikheid tans lyk egter heeltemal anders. In plaas daarvan dat ’n trivalente entstof uitgerol word, blyk dit dat slegs entstowwe vir een stam tans vervaardig en versprei word.
TLU SA plaas ook die regulatoriese aspek van die entstof ernstig onder die vergrootglas. Die entstof wat op 6 Februarie by die LNR se fasiliteit in Onderstepoort besigtig is, is as ’n geregistreerde trivalente entstof vir drie stamme (SAT 1, SAT 2 en SAT 3) aangebied. In werklikheid behels hierdie samestelling egter vyf komponente, naamlik stam 1 en sy mutasie, stam 2 en sy mutasie, asook stam 3.
Volgens wetenskaplikes kan so ’n entstof nie eensydig opgebreek word om slegs een stam afsonderlik te vervaardig en te versprei nie, tensy daar spesifieke goedkeuring daarvoor by die registrateur verkry is, of tensy daardie enkelstam-entstof self ook afsonderlik geregistreer is.
“Die vraag wat gevra moet word, is of daar wel goedkeuring verkry is om hierdie vyf komponente, wat saam een entstof vorm, individueel te produseer,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA. “Indien nie, beteken dit dat ’n entstof nou buite sy geregistreerde samestelling vervaardig word. Jy kan nie net een deel van ’n gekombineerde entstof neem en dit op sy eie gebruik en meen dat dit aan dieselfde standaarde voldoen nie.”
“Dit is eenvoudig onverantwoordelik om entstowwe uit te rol wat net een stam aanspreek, terwyl ons weet dat al drie stamme in Suid-Afrika voorkom,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA. “Daar is geen waarborg vir ’n boer dat die stam waarvoor hy inent, die een is wat in sy gebied voorkom nie. Sonder behoorlike toetsing en differensiasie van stamme, stel hierdie benadering produsente bloot aan onnodige risiko.”
TLU SA bevraagteken die afwyking van die oorspronklike plan soos in Februarie gekommunikeer, en stel dit duidelik dat die huidige benadering nie strook met verantwoordelike siektebeheer nie. Die organisasie beklemtoon dat bloedtoetse en behoorlike identifikasie van die dominante stam in ’n gebied ’n noodsaaklike vertrekpunt behoort te wees voordat entstowwe toegedien word.
Verder spreek TLU SA sy ernstige kommer uit oor die tempo waarteen besluite geneem en geïmplementeer word. Dit is reeds meer as twee maande sedert die eerste aansoeke ingevolge Seksie 10 aan minister Steenhuisen voorgelê is, en steeds is daar geen finale duidelikheid nie. Hierdie vertraging, tesame met die gebrek aan belyning met Seksie 9 rakende bewegingsbeheer, lei tot verdere onsekerheid en ekonomiese skade vir produsente.
“Ons het van die begin af klem gelê op spoed en dringendheid. Tog sien ons geen daadwerklike vordering nie. Kosbare tyd gaan verlore terwyl boere die prys betaal,” sê Geldenhuys.
TLU SA wys verder daarop dat die huidige produksiekapasiteit, naamlik ongeveer 20 000 dosisse per week van slegs een stam, bloot ’n druppel in die emmer is gegewe die omvang van die BKS-uitdaging in Suid-Afrika. “Hierdie tempo en benadering gaan ons nie betyds bring waar ons moet wees nie,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA. “Dit sou baie meer sinvol wees om die vervaardiging uit te kontrakteer aan internasionale laboratoriums wat oor die nodige kapasiteit en kundigheid beskik om binne ’n kort tydperk voldoende, doeltreffende entstowwe beskikbaar te stel. Op hierdie stadium ploeter ons voort met ’n benadering wat nie tred hou met die dringendheid van die situasie nie.”
Indien hierdie roete reeds vroeg in Februarie gevolg is, sou Suid-Afrika teen hierdie tyd oor voldoende, doeltreffende entstowwe beskik het.
Die organisasie stel dit ook dat die huidige rol van Onderstepoort onnodige koste en vertragings meebring, aangesien baie van die vereiste toetsing en gehaltebeheer reeds deur internasionale vervaardigers gedoen word.
TLU SA doen ’n dringende beroep dat alle rolspelers die geleentheid gegun word om insette te lewer voordat enige regulasies, insluitend dié rakende Seksie 10, gepromulgeer word. Dit is noodsaaklik dat ’n samewerkende, praktiese en kundigheid-gedrewe benadering gevolg word om die BKS-krisis effektief te bestuur.
“Die vraag wat die departement homself moet afvra, is eenvoudig: waarom wil ons hierdie proses alleen beheer as ons nie die kapasiteit of kundigheid het nie?” sluit Geldenhuys af. “Dit is tyd om die regte besluite te neem in belang van die landboubedryf en die land se ekonomie.”



