Kleintyd, gedurende my grootwordjare, was daar sekere waardes waaroor ons as kinders nooit getwyfel het nie. Ons pragtige taal beskik oor soveel maniere en uitdrukkings om dit wat ’n blywende indruk in ons opvoeding gelaat het, te verwoord. Dit was inderdaad ’n etiese en Bybelgerigte voorbeeld wat die fondament
gelê het vir die rigting waarin elkeen van ons die toekoms tegemoet sou gaan.
Vandag kan ons met trots terugkyk na die offers wat gebring is en die bouwerk aan die karakter van ’n volk wat ons voorouers op soveel terreine van die samelewing verrig het. Ons kan inderdaad terugdink aan die bouproses van ’n volk, en die begrip “Afrikaner-adel” kom onwillekeurig by ’n mens op. Dit is voetspore wat met trots nagelaat is sodat die geslagte wat ná hulle kom, dit kan volg en daarop kan voortbou.
Hierdie Afrikaner-adel word in soveel tonele gevind:
- Die boer wat na vele terugslae weer opstaan en voluit werk vir die volgende oes
- Die moeder wat haar kinders in geloof grootmaak
- Die pa wie se woord meer gewig dra as sy handtekening op kontrakte
Hierdie karakter van die individu kom in die praktyk tot uiting in die wyse waarop ons dit vergestalt deur die woorde wat ons gebruik. Ook in die wyse waarop ons met mekaar omgaan in debatte, ons verskille hanteer en die proses bestuur om oplossings vir uitdagings te vind.
Sosiale media het ’n nuwe wêreld oopgemaak wat vir elkeen ’n platform gee om menings te kan deel en van mekaar te verskil. Die wyse hoe daar in sommige gevalle karaktermoord plaasvind en dan ook met ’n taalgebruik wat gewis nie die norm was waarmee ons voorouers ’n volk se fondamente gegiet het nie, maak dat mens die vraag tereg afvra: Wat het van Afrikaner-adel geword? Is dit wat tans in soveel gevalle geuiter word, werklik die nalatenskap wat ons vir ons nageslag wil nalaat?
’n Mens kan byna vra, wanneer ons na sekere maniere van optrede en uitdrukking kyk, of daar met só ’n mond geëet word en, nog erger, of daar met dieselfde mond gebid word. Elke volk laat spore op vele terreine na, maar dit is juis sy taal waarin sy siel bewaar word. ’n Volk word nie eerste aan sy rond of sy sport geken nie, maar aan sy woorde.
Wanneer ons luister hoe daar gepraat word, ontde ons die innerlike van die individu. Ons hoor wat sy karakter is en waarop sy fondament berus. Gesamentlik straal dit die karakter van ’n volk uit.
Die Afrikaner se taal vertel ’n verhaal van geloof, vryheid, arbeid, gesin, verantwoordelikheid en hoop. Dit kom tot uiting in die arbeidstaal, prosa, letterkunde, musiek, verhoogkuns, sosiale omgang en veral in die uitdrukking van ons geloof. Dit is, in werklikheid, karakter wat klank geword het.
Daar is verskeie Afrikaanse woorde waarvoor ander tale lang verduidelikings benodig, terwyl dit in Afrikaans met een begrip treffend verwoord word. Dink byvoorbeeld aan “naasteliefde”, “gasvryheid”, “rentmeesterskap”, “dankbaarheid”, “omgee”, “geborgenheid” en “vasbyt”. Dit is nie net woorde nie, maar waardes wat gestalte kry.
Dieselfde geld vir woorde wat aan verantwoordelikheid gekoppel is, soos “roeping”, “plig”, “diens”, “trou”, “eer”, “respek” en “integriteit”. Dit is alles woorde wat die boustene van ’n beskawing vorm. Ons optrede en die uitdrukkings wat ons karakter versinnebeeld, kan in een begrip saamgevat word: waardigheid. Dit is die vermoë om regop te bly wanneer omstandighede jou wil buig, om nederig te wees sonder om jou identiteit prys te gee en om ander met respek te behandel sonder om jou eie waardigheid te verloor.
Om te dien sonder om erkenning te soek en om aan te hou glo al lyk alles donker. Dit is Afrikaner-adel; dit leef nie in monumente of boeke nie, maar dit leef in mense, in gesinne en gemeenskappe en veral in die taal waarin hulle hul geloof, hul hoop en liefde uitspreek.
Mag ons elkeen, wanneer ons eendag ons hoofde neerlê, deel wees van die nalatenskap van dié waarna verwys word as die bouers en skeppers van die hoogste vorm van adel in ons volk. Dit is om te dien en nie om gedien te word nie. Dit is nie noodwendig diegene wat die hardste gepraat het nie, maar hulle wat eerste
gehelp het; die eerste wat opgeoffer het en die laaste wat moed verloor het.
Dit is diegene wat hulle in die mooiste en soetste taal ter wêreld uitgedruk het op só ’n wyse dat mense, ook deur die gebruik van ons taal, die adel en inbors van ’n volk op koers na die toekoms duidelik kon raaksien. Dit is ’n volk waarvan die fondament die uitleef van ’n kultuuropdrag is, soos verkry uit die Woord van God, wat ook sy rigsnoer in besluitneming in alle opsigte is. Dit is ’n volk wat besef dat ons uit groot genade geseën is, elkeen met soveel talente wat ons tot eer van God moet benut en uitleef.
Mag ons Afrikaans altyd só praat dat ons kinders, wanneer hulle na ons luister, nie net woorde hoor nie, maar ook ons karakter, waarop ons hopelik trots is.
Deur Bennie van Zyl. Hierdie artikel het op 10 Julie in Pretoria FM se Nuusweek verskyn.









