Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Januarie 2026
 

Beste lid

Die Bek-en-klouseer-uitbrekings wat ons land se veeboerdery tans raak, is ’n uitdaging wat geen boer ongeroerd laat nie. Die ware impak strek veel verder as net ’n veeartsenykundige siekte, dit raak die ekonomie van plattelandse gemeenskappe, kontantvloei vir produsente, marktoegang en selfs voedselsekerheid.

As iemand wat deur landbouminister Steenhuisen aangewys is om op die BKS-koördineringsraad te dien, sien ek elke dag hoe intens en kompleks die situasie is. Ons werk nou binne strukture wat geskep is om praktiese oplossings op die tafel te sit en dit vereis dat ons nie net kritiek gee nie, maar ook betrokke raak, konstruktief werk en die proses dryf om ‘n uitkoms in belang van die sektor te verkry. Daar is ‘n driehoek gevestig tussen die ministerie, taakspan (wat staats- en privaatveeartse insluit) en die koördineringsraad (wat die landbousektor verteenwoordig) en is dit ons uitdaging om daarbinne te belyn.

Ja, die krisis het reeds finansiële spanning in die sektor veroorsaak. Maar ons moet fokus op wat ons saam kan bereik: verantwoordelike bio-sekuriteitsmaatreëls, toegang tot entstowwe wat relevant is vir die stamme wat ons hier het, en ’n regulatoriese omgewing wat die betrokkenheid van kundiges en die privaat sektor moontlik maak. In die verband is daar reeds ‘n seksie 10 aansoek deur die koördineringsraad ingedien wat die privaat veeartse en hul onderbou moet kan betrek.

Die invoer van entstowwe word goedgekeur by SAHPRA wat deel is van Departement Gesondheid. Daar is ook met finansiële instellings geraadpleeg oor die kontantvloei krisis wat reeds vir baie boere by perke verby gegaan het. Die banke het groot begrip en is bereid om soos moontlik te help, maar is die benadering soos ons nog altyd deurgegee het naamlik dat ‘n boer self betyds met hulle in gesprek moet tree.

Moenie wag tot die eerste paaiement nie meer betaal kan word nie.

Ek doen ’n beroep op elke lede om te onthou dat verandering en oplossings nie skielik gebeur nie, dit ontstaan uit samewerking, geduld en ’n volgehoue, goed ingeligte insette. Dit is maklik om in frustrasie vas te val, maar dit is deur deel te neem aan die proses, terugvoer te gee en die BKS-koördineringsraad ’n billike kans te gee om regtig resultate te lewer, wat ons die beste kans gee om hierdie krisis te oorkom.

Mag ons positief bly en onthou: ons boerderygemeenskap het deur moeilike tye gewerk en dit weer sal doen. Deur gesamentlike inspanning kan ons nie net hierdie krisis hanteer nie, maar ook leer om ons landbou se volhoubaarheid vir die toekoms te versterk.

Lees ook: Bennie van Zyl: Bek-en-klou is nie net boere se krisis – jý gaan ook betaal

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

Inskrywings oop vir TLU SA Jongboerkompetisie 2026

Ons is opgewonde om weer aan te kondig dat die inskrywings vir die TLU SA Jongboerkompetisie 2026 nou oop is! Hierdie jaarlikse kompetisie vier die dinamiese, passievolle en vooruitdenkende jong boere wat landbou in Suid-Afrika vorentoe neem. Die kompetisie is vir enige boer onder 40 jaar oud wat ’n lid van TLU SA is, en as jy nog nie lid is nie, gee jou inskrywing jou die geleentheid om deel te word van ’n netwerk van toegewyde boere wat die toekoms van ons landbou bou.

Jongboer van die Jaar is nie net ’n titel om te dra nie, maar die kompetisie dien as ’n platform om jouself te toets, te groei en te leer. ’n Onafhanklike paneel van kenners sal elke deelnemer se plaas besoek, kyk na jou boerderypraktyke en beoordeel verskeie aspekte van jou onderneming, van bestuursvernuf en tegniese kundigheid tot finansiële bestuur en innovasie. Dit is ’n unieke kans om jouself te meet teen die beste van jong boere regoor die land.

Ons kan nie wag om te sien watter talentvolle jong boer hierdie jaar uitstaan nie. Of jy nou ’n klein- of grootskaalse boerdery bedryf, of jy boer met vee, graan, groente, vrugte of enige ander landbou-bedryf, hier’s jou kans om jou passie en vernuf vir die land te wys! Elke inskrywing maak deel uit van ’n groter beweging om jong boere in die landbou te ondersteun, te ontwikkel en te inspireer.

Moenie hierdie kans misloop nie, skryf vandag in en gee jouself die geleentheid om jou lewe en boerdery-loopbaan werklik te verander! Volg die inskrywingsinstruksies op tlu.co.za en laat ons met jou leefstyl, bestuursvorming en visie kennis maak.


Jongboerkonferensie 2026: Boer 2.0, Die nuwe generasie boer

Die landboubedryf is besig om vinnig te verander, en jong boere staan in die voorste linie van daardie verandering. Op 13 Maart 2026 kom jong boere bymekaar by Gecko Ridge net buite Pretoria vir die TLU SA Jongboerkonferensie, met die tema “Boer 2.0: Die nuwe generasie boer & Agri Ekspo”.

Boer 2.0 gaan oor meer as net tegnologie. Dit gaan oor ’n nuwe manier van dink, beplan en boer. Dit vra dat jong boere hul plek in die landboustruktuur verstaan, slim besluite neem oor hul ondernemings, en doelbewus bou aan ’n volhoubare toekoms – nie net vir hulself nie, maar ook vir die volgende geslag.

Die konferensie skep ’n ruimte waar jong boere kan leer, vrae vra, idees toets en hulself kan meet teen die realiteite van moderne boerdery. Van selfbegin-boerdery en nalatenskap tot die rol van masjiene, bestuur en strategie – die fokus is op praktiese insigte wat jong boere help om wyser te boer.

Hierdie dag gaan ook oor verbinding: om ander jong boere te ontmoet, netwerke te bou en deel te word van ’n gemeenskap wat verstaan wat dit beteken om vandag ’n boer te wees. Boer 2.0 is ingelig, aanpasbaar en bereid om verantwoordelikheid te neem vir sy eie toekoms.

Klik hier om na Clemens Senekal, voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee, se onderhoud op Plaas Media te luister.


Bek-en-klouseer: My kudde, ons krisis

TLU SA het ‘n veldtog van stapel gestuur om JOU bekommernisse, raad en insette oor die rampspoedige bek-en-klouseerkrisis direk na die BKS-raad te neem sodat ons saam oplossings kan vind.

Bek-en-klouseer het ontwikkel tot veel meer as ’n veeartsenykundige probleem. Dit is besig om ’n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se voedselsekerheid, landbou-ekonomie en landelike bestaansmiddele te word.

Volgens TLU SA lê die kern van die krisis by ’n regulatoriese stelsel en staatskapasiteit wat vir hierdie omstandighede aangepas is nie, en dit moet dringend reggestel word.

“Bek-en-klouseer is buite beheer omdat die stelsel wat moes beskerm, nie funksioneer soos dit moet nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Hy wys daarop dat boere wettig verhinder word om vinnig op te tree, selfs in hoërisikogebiede waar uitbrekings reeds bevestig is.

“Boere dra die volle finansiële risiko van uitbrekings, kwarantyn en markverliese. Wanneer hulle egter nie toegelaat word om betyds en verantwoordelik op te tree nie, word nie net boerdery gestraf nie – die verbruiker betaal uiteindelik ook die prys.”

Van Zyl beklemtoon dat die privaat sektor oor bewese kundigheid en kapasiteit beskik wat onmiddellik ingespan kan word. “Voedselsekerheid kan nie wag vir burokratiese prosesse nie. Spoed red kuddes, inkomste en uiteindelik kos op mense se borde.”

“Bek-en-klouseer raak ons almal. Indien Suid-Afrika ernstig is oor volhoubare landbou en bekostigbare kos, moet beleid die werklikheid begin weerspieël.”

TLU SA doen ’n beroep op lede om die nuwe BKS-koördineringsraad ’n billike geleentheid te gee om die regulatoriese omgewing daadwerklik te hersien en praktiese oplossings te ontwikkel wat voorsiening maak vir die verantwoordelike, doelgerigte betrokkenheid van die privaat sektor in die hantering van uitbrekings.

TLU SA moedig alle boere en produsentgroepe aan om solidariteit te toon met vleisprodusente. Boere is nie alleen nie; samewerking en samehorigheid is noodsaaklik om hierdie krisis te hanteer.

Klik hier om jou vorm in te vul.

 

Nuus uit die Vrystaat

Wisselende reënvalpatrone, veldbrande en buitengewone hoë reënvalneerslae het ‘n groot effek op plantverspreiding in landboustreke in Suid-Afrika. Met kommer neem TLU SA Vrystaat kennis van skerp toenames in indringerspesies in die provinsie, die agteruitgang van weiding en die negatiewe impak wat abnormale plantverspreiding op goeie kwaliteit weiding kan hê.

TLU SA Vrystaat doen ‘n dringende beroep op die Departement van Landbou en ander staatsdepartemente om nie slegs kennis van hierdie tendense te neem nie, maar om aktiewe leiding te neem om tydig stappe ter beskerming van landbouhulpbronne in die provinsie en elders in Suid-Afrikaanse landbougebiede te implementeer.

Bedreiging van goeie kwaliteit weiding deur indringerspesies is nie tot die Vrystaat beperk nie en vervoer van diere en verspreiding deur voëls dra ook tot agteruitgang van goeie weiding by. Bosveldgebiede in die RSA beslaan nagenoeg 21 miljoen ha.

Oor bykans die helfte van hierdie oppervlakte het die natuurlike bos sodanig verdig dat dit grasproduksie en gevolglik diereproduksie onderdruk. Die belangrikste indringerspesies is Acacia mellifera var detines (Swarthaak), Acacia karoo (Soetdoring), A. Tortilis (Haak-en-steek) en Dichrostachys cinerea (Sekelbos). Bosverdigting het in sommige dele reeds sodanige afmetings aangeneem dat dit nie met biologiese middele alleen bekamp sal kan word nie en dat toediening van chemiese en meganiese metodes deel van toekomstige boerderypraktyke sal moet uitmaak. In meeste van die bergopvanggebiede van Suidwes-Kaapland, die Karoo en Oos-Kaapland is groot dele sodanig deur fynbosgroei ingedring dat dit landboukundig onproduktief is en grootskaalse gevare van gronderosie inhou. Gebruik van chemiese middele om die bedekking na grasveld te verander dien om sowel die grond te stabiliseer as om landbouproduksie te verhoog. Die belangrikste indringerspesies is: Elytropappus rhinocerotis (Rhenosterbos), Euryops (Harpius), Cliffortia linearitolia en Erica
brownleae. Die indringing van onsmaaklike grassoorte is een van die moeilikste probleme waarmee landbouers te doen kry. Dié tendense is hoofsaaklik toe te skryf aan selektiewe beweiding van smaaklike grassoorte, dit is gewoonlik nie ooglopend nie en verteenwoordig nie noodwendig grootskaalse veranderings in plantsuksessie nie. In sekere gebiede is reeds meer as 50% van die oppervlakte weiveld deur onsmaaklike grassoorte ingeneem met gevolglike neerdrukkende uitwerking op veeprestasie.

Die belangrikste ongewenste soorte is: Aristidea spp., Eragrostis spp., Elyonurus argenteus, rendlia altera en Cymbopogon plurinodes.

Die nadelige uitwerking van uitheemse plante en gifplante op weidingspotensiaal, word met kommer dopgehou. In hierdie verband is die volgende uitheemse plante in sommige gebiede reeds ʼn ernstige probleem: Opuntia aurentiaca (Litjieskaktus) wat reeds ongeveer 1 800 000 ha in die RSA besmet het, Acacia cyanophylla (Port Jackson), Hakea gibbosa, Acasia dealbata (Silwer wattle), Lantana comara, Prosopis juliflora, Stipa trichotoma (Nasellapolgras). Gifplante is in die meeste gevalle inheems en kom in feitlik alle veldsoorte en klimaatsgebiede voor. Van die belangrikste soorte is: Gousiekte (Paghystigma sp.), Gifblaar (Dichapetalum sp.), Stywesiekte (Crotolaria sp.) en Senecio spesies.

TLU SA Vrystaat doen ‘n beroep op landbouers om tendense van weidingagteruitgang en indringerplante tydig onder die aandag van die Vrystaatse bestuur van TLU SA te bring sodat stappe ter bekamping van die probleme wat daaruit voortspruit geneem kan word.


Nuus uit die Oosstreek

Vir die Oosstreek, soos vir die meeste ander streke, het 2026 op ’n drafstap begin. Ná uitermatige reën in November en vroeg in Desember moes saaiboere selfs oor die Kerstyd in die lande wees om te spuit en bemesting toe te dien.

In hierdie stadium lyk die meeste gesaaides goed, met uitsondering van ’n paar versuipte kolle. Die reën sal egter nou gou meer wydverspreid moet neersak om die volle potensiaal van die gewasse te verwesenlik. Tans val die reën baie kol-kol, met gekonsentreerde storms en selfs hael. Die Laeveld is moedeloos gereën, en boere in die Makhado-/Makedamia-omgewing is uiters bekommerd. Ten spyte hiervan is die veld pragtig en toon dit groot potensiaal.

’n Groot bron van kommer bly Bek-en-klouseer. Die gevoel van magteloosheid is soms oorweldigend, en boere kan op hierdie stadium net hoop dat georganiseerde landbou daarin sal slaag om die regering te oortuig om werklik na die boere se stem te luister.

Die Oosstreek se streeksvergadering het op 27 Januarie in Ermelo plaasgevind. Die oorkonde wat tydens verlede jaar se TLU SA Kongres aan James Language toegeken is, is tydens die konferensie aan hom oorhandig.

 

Landbou onder druk

Die omvang van eksterne faktore wat landbou tans beïnvloed, het buitengewone afmetings aangeneem. Boere ervaar baie uitdagings wat hul volhoubaarheid toenemend onder druk plaas. Aan die een kant van die land spoel boerderye letterlik weg onder oormatige reën, terwyl ander gebiede die ergste droogtes in 20 tot 30 jaar beleef. Hiermee saam gaan ’n buitengewoon hoë misdaadvlak, asook ’n uiters onseker beleidsomgewing.
Bek-en-klouseer bring verdere onbestuurbare realiteite na vore, en al hierdie faktore, tesame met vele ander, het ’n dramatiese invloed op boere se winsgewendheid. Die druk is nie net finansieel van aard nie; dit werk ook diep in op die boer se gemoed en psige.

’n Verdere realiteit waarmee boere tans gekonfronteer word, is die wyse waarop finansiële instellings die terugbetaalvermoë van boerderye evalueer wanneer lenings oorweeg word. Kontantvloei het ’n groter bepalende faktor geword as bloot ’n bate-skuldlas-verhouding. In hierdie omgewing is dit maklik dat rooi ligte vinnig begin flikker, selfs waar boerderye struktureel gesond is.

TLU SA is bewus van hierdie druk en is in kontak met kundige instansies en persone wat kan help om boere by te staan, hetsy met volhoubaarheidsvraagstukke, finansiële beplanning, of wanneer die emosionele las eenvoudig te swaar raak. Binne gemeenskappe kan dit ook waardevol wees om doelbewus planne te maak om met mekaar te skakel, mekaar betyds raak te sien en ondersteunend op te tree.

Lede word aangemoedig om TLU SA met vertroue te kontak indien hulp benodig word. In hierdie verband word dit weer bevestig dat TLU SA en AfriForum se Trauma-eenheid reeds vir die afgelope 18 maande ’n samewerkingsooreenkoms het wat met groot vrug benut word. Die kontakpersoon om reëlings in hierdie verband te tref is dr. Gawie Lötter by 064 707 7819.

Hoe vroeër gesprekke oor hulp en ondersteuning begin word, hoe meer opsies is daar beskikbaar vir volhoubare oplossings.


Bek-en-klouseer

Die trauma vir mens én dier het reeds onaanvaarbare vlakke bereik weens die impak van Bek-en-klouseer. Die siekte het feitlik onbeheers begin versprei, en die vraag is toenemend nie meer of ’n plaas geraak gaan word nie, maar eerder wanneer dit sal gebeur. In hierdie konteks is die streng toepassing van biosekuriteitsmaatreëls, asook die verkryging en korrekte toediening van entstowwe, van kardinale belang. Bek-en-klouseer is die vyand, en alle beskikbare energie moet daarop gefokus word om dit doelgerig aan te spreek.
Dit is menslik om terug te kyk en beskuldigings te rig na rolspelers oor hoe die situasie tot hier gevorder het. Die werklike uitdaging lê egter nie in die verlede nie, maar in die vraag: wat nou vorentoe? Dít is waar die sektor hom tans bevind.

Benewens die bestaande adviesgroep van veeartse, het minister Steenhuisen ’n groep rolspelers uit die landbousektor ontmoet, waardeur ’n formele kanaal geskep is vir die sektor om insette te lewer oor dringende ingrypings wat nou nodig is. Die verkryging en plaaslike vervaardiging van entstowwe met die regte eienskappe vir die stamme wat tans in Suid-Afrika voorkom, is dringend noodsaaklik. Bestaande regulasies is egter beperkend, en die minister het die sektor versoek om aktief by te dra tot die hersiening daarvan sodat dit meer prakties en werkbaar kan wees.

Die sektor-werkgroep, waarop TLU SA ook verteenwoordig is, het sedert die ontmoeting met die minister op 20 Januarie reeds twee keer in dieselfde week vergader en sal voortaan minstens een keer per week vergader. TLU SA gryp hierdie geleentheid aan om oplossings so vinnig en so effektief moontlik te help ontsluit.
Intussen bly dit noodsaaklik dat boere alles binne hul vermoë doen om biosekuriteitsmaatreëls so streng en konsekwent moontlik toe te pas. Verskeie ander kritieke aspekte word ook aangespreek, waaronder finansieringsoorbrugging om kontantvloeirealiteite te hanteer, die rol van die privaat sektor, asook die impak van beperkende regulasies.

Die uitdagings is groot, maar dit is nou die tyd om realisties en doelgerig die werklikhede aan te spreek met die oog op die toekoms. Die geskiedenis kan nie verander word nie, maar deur verantwoordelike optrede en samewerking kan daar wel ’n verskil gemaak word.

 
 

TLU SA verwelkom Bennie van Zyl se aanstelling tot BKS-raad

Bek-en-klouseer ontwikkel tot ’n nasionale landbou- en verbruikerskrisis

Sentraal vasgestelde minimumloon vernietig werkskepping

NERSA se herberekening is nog ’n poging om Eskom se mislukking op die publiek af te wentel

ANC se sespuntplan: geen nuwe rigting, net dieselfde mislukkings

 

 

20 Februarie | Landboukorrels Boerdag Cullinan (Dieregesondheid)
28 Februarie | Majuba Fees
13 Maart | TLU SA Jongboerkonferensie
14 Maart | Goliat van Gat Pampoenfees