TLU SA het kort ná minister John Steenhuisen se mediakonferensie van 14 Januarie vergader om die bek-en-klouseerkrisis te evalueer en minister Steenhuisen se punte te bespreek. Alhoewel die minister ’n tegnies uitgebreide strategie aangekondig het, wys die werklikheid op grondvlak dat Suid-Afrika nie meer met effektiewe siektebeheer besig is nie, maar met die bestuur van ’n krisis wat reeds buite beheer is. Die tempo en omvang waarteen die siekte versprei, ondermyn boerdery-inkomste, voedselsekerheid en Suid-Afrika se internasionale marktoegang op ’n gevaarlike wyse.

TLU SA is dit eens dat die kernprobleem nie die gebrek aan planne is nie, maar die staat se gebrek aan kapasiteit om dit uit te voer. Kommunikasie, verklarings en langtermynstrategieë help nie boere wat vandag hul kuddes, kontrakte en finansiële bestaansreg verloor nie. Die staat hou steeds vas aan gesentraliseerde beheer, maar beskik eenvoudig nie oor die vermoë om dit op die skaal wat nodig is toe te pas nie. In plaas daarvan om die siekte te stuit, word dit bloot “bestuur” terwyl die krisis verdiep.

Daar is steeds geen duidelikheid oor wat geword het van die R500 miljoen wat bewillig is om Onderstepoort se entstofvervaardiging te herstel nie. Intussen word privaat vervaardiging van entstowwe, waarvoor daar bewese kapasiteit, kundigheid en kennis in Suid-Afrika bestaan, regulatories verhinder. Selfs kommersiële boere met streng biosekuriteit mag nie self onder noodregulasies ent nie, terwyl duur ingevoerde entstowwe met korter beskerming toegelaat word.

Die reeds nagevorsde en ontwikkelde bek-en-klouseer-entstof wat by die LNR beskikbaar is moet onmiddellik vrygestel en op skaal beskikbaar gestel word teen billike pryse. Hierdie instellings bestaan om die land en sy bedryf te dien, nie om deur regulatoriese of administratiewe vertragings ’n krisis te vererger nie. Die hantering van hierdie entstowwe moet daarop gerig wees om die veesektor en voedselsekerheid te red, nie om prosedures bo oorlewing te plaas nie.

TLU SA is oortuig dat die oplossing nie in nóg sentralisering lê nie, maar in desentralisering met beheer. Die regering moet nou ’n nasionale ramptoestand verklaar en noodregulasies instel wat die privaat sektor toelaat om entstowwe te vervaardig en te verkry, wat boere onder geregistreerde toesig toelaat om self te ent, en wat staatsveeartse prioritiseer om die onbeheerde informele sektor te bedien. Sonder daadwerklike bewegingsbeheer en massainenting op skaal sal hierdie siekte nie gestuit word nie.

Hierdie krisis is lankal nie meer net ’n bedryfsprobleem nie. Dit raak elke verbruiker in Suid-Afrika. Boere word van hul plase af gedwing en vleispryse raak onbetaalbaar. Voedselsekerheid is in gedrang. Die ekonomiese en maatskaplike gevolge gaan veel verder strek as die landbousektor alleen.

TLU SA erken dat die langdurige regulatoriese en kapasiteitsmislukkings van die staat boere onder geweldige finansiële druk geplaas het en dat korttermynbesluite soms geneem is wat nie die verspreiding van die siekte help beperk het nie. In belang van die toekoms doen TLU SA egter ’n dringende beroep op samewerking oor bewegingsbeheer en biosekuriteit, maar dit kan slegs werk as die staat die remskoene verwyder en die privaat sektor toelaat om die kapasiteit wat reeds bestaan, te gebruik.

TLU SA staan bankvas agter die boere se volhoubaarheid, en daarom is finansiële aspek ook ‘n krities belangrike punt om aan te spreek, en die koste van die entstowwe behoort ook deur die staat betaal te word.

Die privaat sektor staan gereed met kapasiteit, kundigheid en infrastruktuur. Wat ontbreek, is die politieke wil om beheer te deel in belang van voedselsekerheid, ekonomiese stabiliteit en die voortbestaan van Suid-Afrika se boerderygemeenskappe. Tyd is ’n luukse wat ons nie meer het nie. As Brasilië dit met 240 miljoen beeste kon doen, behoort Suid-Afrika met ongeveer 14 miljoen diere dit beslis te kan doen, mits praktiese oplossings bo ideologiese beheer gestel word.

Volg TLU SA op Facebook vir meer nuus en gebeure.