“Die grootste les wat boerdery my geleer het, is dat mense die belangrikste bate van enige onderneming is.”
Só sê Gerhard Heinlein (33) van Sirkel-N-Landgoed in Koedoesrand, Limpopo, een van die twaalf finaliste in TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Die kompetisie word jaarliks deur TLU SA aangebied om uitsonderlike jong produsente te erken wat reeds ‘n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrikaanse landbou lewer. Vanjaar se wenner sal kontant, die gebruik van ‘n voertuig vir ‘n bepaalde tydperk en ‘n tegnologieborgskap ontvang, maar volgens TLU SA is die kompetisie oor veel meer as pryse alleen.
‘n Onafhanklike beoordelaarspaneel besoek al twaalf finaliste se boerderye tussen 13 en 17 Julie, waarna die algehele wenner tydens TLU SA se jaarlikse kongres aangekondig sal word.
Die beoordeling strek veel verder as produksiesyfers. Finaliste word onder meer beoordeel op hul bestuursvernuf, finansiële bestuur, innovasie, rentmeesterskap, volhoubare boerderypraktyke, betrokkenheid by hul gemeenskappe en hul vermoë om ‘n suksesvolle landbou-onderneming vir die toekoms te bou.
Vir Heinlein is sukses egter nie iets wat net in hektaar, tonnemaat of wins gemeet kan word nie.
“As Algemene Bestuurder en Direkteur van Sirkel-N-Landgoed dra ek saam met ons bestuurspan verantwoordelikheid vir meer as 1 200 werknemers. Dit het my geleer dat goeie kommunikasie, integriteit en konsekwente leierskap net so belangrik is as goeie landboupraktyke.”
Hy sê boerdery het hom ook geleer om nederig te bly.
“Ongeag hoe goed jy beplan, bly jy afhanklik van faktore buite jou beheer. Daarom moet ‘n mens aanpasbaar wees, langtermyn dink en nooit ophou leer nie.”
Dit is juis die geleentheid om ‘n blywende verskil te maak wat hom elke dag motiveer.
“Ek wil voedsel van hoë gehalte produseer, werksgeleenthede skep en bydra tot die groei van Suid-Afrikaanse landbou. Wanneer ek sien hoe werknemers groei, families ondersteun word en gemeenskappe voordeel trek uit wat ons doen, besef ek dat boerdery oor baie meer gaan as net die produksie van voedsel.”
Om as een van TLU SA se Jongboer van die Jaar-finaliste aangewys te word, beskou Heinlein as erkenning vir die mense wat saam met hom die onderneming opgebou het.
“Hierdie erkenning behoort nie net aan my nie, maar ook aan ons bestuurspan, werknemers en my familie wat elke dag bydra tot die sukses van Sirkel-N-Landgoed.”
Hy glo die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou lê in die hande van jong produsente wat bereid is om uitdagings aan te pak, nuwe tegnologie te benut en terselfdertyd die waardes van harde werk, integriteit en verantwoordelikheid te handhaaf.
“Hierdie aanwysing motiveer my om aan te hou groei, te leer en ‘n positiewe bydrae tot ons bedryf te maak.”









