James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

‘n Nalatenskap vir die volgende geslag | TLU SA Jongboer-finalis, Philip

“My grootste motivering om aan te hou boer is die sentiment agter ‘n generasieboerdery.”

Só sê Philip Potgieter (27) van Makoppa, Limpopo, een van die twaalf finaliste in TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Die kompetisie word jaarliks deur TLU SA aangebied om uitsonderlike jong produsente te erken wat reeds ‘n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrikaanse landbou lewer. Vanjaar se wenner sal kontant, die gebruik van ‘n voertuig vir ‘n bepaalde tydperk en ‘n tegnologieborgskap ontvang, maar volgens TLU SA is die kompetisie oor veel meer as pryse alleen.

‘n Onafhanklike beoordelaarspaneel besoek al twaalf finaliste se boerderye tussen 13 en 17 Julie, waarna die algehele wenner tydens TLU SA se jaarlikse kongres aangekondig sal word.

Die beoordeling strek veel verder as produksiesyfers. Finaliste word onder meer beoordeel op hul bestuursvernuf, finansiële bestuur, innovasie, rentmeesterskap, volhoubare boerderypraktyke, betrokkenheid by hul gemeenskappe en hul vermoë om ‘n suksesvolle landbou-onderneming vir die toekoms te bou.

Vir Potgieter is boerdery nie net ‘n beroep nie, maar ‘n nalatenskap wat van geslag tot geslag oorgedra word.

“Ons het die voorreg om ‘n familieboerdery te hê. My grootste motivering is die sentiment agter ‘n generasieboerdery. Ek hoop my kinders sal eendag ook die voorreg hê om saam met hul pa en oupa op dieselfde grond te kan boer.”

Hy sê boerdery het hom geleer om die goeie jare nooit as vanselfsprekend te aanvaar nie.

“Die afgelope twee jaar was uitdagend. Dit het my geleer om meer waardering vir die goeie landboujare te hê, dankbaar te wees daarvoor en minder te kla oor die moeiliker jare. Soos enige bedryf, het boerdery ook sy goeie en slegte tye.”

Sy liefde vir landbou word elke dag opnuut versterk deur die klein oomblikke wat vir ander dalk alledaags lyk.

“Die geboorte van kalfies en lammers bly vir my iets besonders. Net so bring elke nuwe plantseisoen weer hoop op ‘n goeie oes. Dit is daardie oomblikke wat my passie vir boerdery aan die brand hou.”

Om as een van TLU SA se Jongboer van die Jaar-finaliste aangewys te word, beskou Potgieter as ‘n groot voorreg, maar hy beklemtoon dat die kompetisie vir hom nie gaan oor wie die beste boer is nie.

“Ek vergelyk myself nie graag met ander boere nie, omdat elke boerdery uniek is. Vir my is dit besonders om te sien hoe jong boere hul passie uitleef en elke dag met oorgawe werk.”

Hoewel hy graag die toekenning wil wen, sê hy sy liefde vir landbou sal nie deur die uitslag bepaal word nie.

“Dit sal ‘n groot eer wees om die kompetisie te wen, maar dit bly vir my reeds ‘n voorreg om deel te wees van Suid-Afrika se jong boere.”

Kategorie:

Deel dit:

‘n Nalatenskap vir die volgende geslag | TLU SA Jongboer-finalis, Philip