“Om te boer is ‘n voorreg, nie ‘n reg nie. Dit is ‘n roeping waarin God jou plaas om jou talente te gebruik.”
Só sê Daandré Coetzee (28) van Fresca Farms buite Brits, een van die twaalf finaliste in TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Die kompetisie word jaarliks deur TLU SA aangebied om uitsonderlike jong produsente te erken wat reeds ‘n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrikaanse landbou lewer. Vanjaar se wenner sal kontant, die gebruik van ‘n voertuig vir ‘n bepaalde tydperk en ‘n tegnologieborgskap ontvang, maar volgens TLU SA is die kompetisie oor veel meer as pryse alleen.
‘n Onafhanklike beoordelaarspaneel besoek al twaalf finaliste se boerderye tussen 13 en 17 Julie, waarna die algehele wenner tydens TLU SA se jaarlikse kongres aangekondig sal word.
Die beoordeling strek veel verder as produksiesyfers. Finaliste word onder meer beoordeel op hul bestuursvernuf, finansiële bestuur, innovasie, rentmeesterskap, volhoubare boerderypraktyke, betrokkenheid by hul gemeenskappe en hul vermoë om ‘n suksesvolle landbou-onderneming vir die toekoms te bou.
Vir Coetzee is die kompetisie egter nie bloot ‘n geleentheid om ‘n titel of pryse te wen nie.
“Om te boer is ‘n voorreg, nie ‘n reg nie. Dit is ‘n roeping waarin God jou plaas om jou talente te gebruik.”
Hierdie oortuiging vorm die grondslag van sy boerderyfilosofie. Hy glo die grootste les wat boerdery hom geleer het, is dat ‘n mens nie sonder God kan boer nie.
“As jy nie jou Skepper ken en ‘n verhouding met Hom het nie, sal jy dit nie maak nie. Boerdery leer jou ook dat jy bereid moet wees om vir jou boerdery op te staan. Niemand gaan jou belange beter beskerm as jyself nie.”
Dit is juis hierdie verantwoordelikheid wat hom elke dag motiveer om aan te hou boer.
“Ek glo ons is geroep om te bou, te voorsien en te beskerm. Ek wil nie net vir my eie familie voorsien nie, maar ook vir die mense wat saam met ons werk en vir die verbruikers wat op Suid-Afrikaanse boere staatmaak.”
Hoewel hy dankbaar is om as finalis aangewys te word, beklemtoon Coetzee dat hierdie prestasie aan baie meer mense behoort.
“Hierdie inskrywing doen ek ook vir my pa. Sonder my ouers sou ons nie wees waar ons vandag is nie. Hulle het ons gemotiveer om te wees wie ons is. ‘n Boerdery is nie ‘n eenmansaak nie; dit is soos ‘n masjien waarin elke persoon ‘n onmisbare rol speel.”
Coetzee hoop sy deelname stuur ook ‘n boodskap aan ander jong produsente.
“Dit gaan nie daaroor hoe groot jou boerdery is of waar jy begin nie. As jou hart op die regte plek is, is alles moontlik.”









