James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Alles gebeur op die regte tyd | TLU SA Jongboer-finalis, Greg

“Jy kan hoe beplan, maar die saad word in die grond geplant op die Here se tyd, en nie op jou tyd nie.”

Só sê Greg Dos Santos (34) van Makoppa, Limpopo, een van die twaalf finaliste in TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Die kompetisie word jaarliks deur TLU SA aangebied om uitsonderlike jong produsente te erken wat reeds ‘n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrikaanse landbou lewer. Vanjaar se wenner sal kontant, die gebruik van ‘n voertuig vir ‘n bepaalde tydperk en ‘n tegnologieborgskap ontvang, maar volgens TLU SA is die kompetisie oor veel meer as pryse alleen.

‘n Onafhanklike beoordelaarspaneel besoek al twaalf finaliste se boerderye tussen 13 en 17 Julie, waarna die algehele wenner tydens TLU SA se jaarlikse kongres aangekondig sal word.

Die beoordeling strek veel verder as produksiesyfers. Finaliste word onder meer beoordeel op hul bestuursvernuf, finansiële bestuur, innovasie, rentmeesterskap, volhoubare boerderypraktyke, betrokkenheid by hul gemeenskappe en hul vermoë om ‘n suksesvolle landbou-onderneming vir die toekoms te bou.

Vir Dos Santos het boerdery hom een van die belangrikste lewenslesse geleer: dat alles sy tyd het.

“Mens hoor jou hele lewe lank dat alles op sy tyd gebeur, maar eers wanneer jy begin boer, besef jy werklik wat dit beteken. Jy kan beplan, voorberei en hard werk, maar uiteindelik word die saad in die grond geplant op die Here se tyd, en nie op jou tyd nie.”

Hierdie les van geduld en vertroue vorm die grondslag van sy benadering tot boerdery en herinner hom daagliks dat daar dinge is wat buite ‘n boer se beheer lê.

Wanneer hy gevra word wat hom motiveer om elke dag aan te hou boer, is sy antwoord eenvoudig.

“Ek vra myself altyd die vraag: Waarheen anders? Boerdery is in my bloed. Dit is ons droom en ons kinders se toekoms.”

Vir Dos Santos is boerdery nie bloot ‘n beroep nie, maar ‘n leefwyse wat van geslag tot geslag oorgedra word. Dit is ‘n verantwoordelikheid om vandag te bou aan iets wat môre vir sy familie en die volgende geslag sal voortbestaan.

Om as een van TLU SA se Jongboer van die Jaar-finaliste aangewys te word, beskou hy as ‘n besondere voorreg.

“Daar is soveel merkwaardige jongboere in Suid-Afrika, daarom is dit vir my ‘n groot eer om as finalis aangewys te word.”

Kategorie:

Deel dit:

Alles gebeur op die regte tyd | TLU SA Jongboer-finalis, Greg