Suid-Afrikaners het oor drie dekades heen geleer om die ANC se jaarlikse 8 Januarie-verklarings met toenemende skeptisisme te ontvang. Die patroon is bekend: verhewe beloftes, ideologiese slagspreuke en morele selfregverdiging, terwyl die werklikheid vir inwoners jaar na jaar moeiliker, duurder en meer onseker word.
Die sogenaamde sespuntplan wat vanjaar aangekondig is, bied geen nuwe rigting nie. Dit is bloot ’n herverpakking van beleid wat reeds bewys het dat dit nie werk nie. Werkloosheid bly struktureel hoog, ekonomiese groei is onvoldoende om bevolkingsgroei te absorbeer, staatsinstellings funksioneer gebrekkig of glad nie, en misdaad floreer in ’n omgewing waar die staat toenemend afwesig is.
President Cyril Ramaphosa se herhaalde verwysing na “300 jaar van afbreek” is nie net histories misleidend nie, maar dien as ’n gerieflike verskuiwing van aanspreeklikheid. Die werklikheid is dat dit juis die afgelope 30 jaar van beleidsverwarring, ideologiese hardkoppigheid, kaderontplooiing en institusionele verval is wat Suid-Afrika se funksionele staat, infrastruktuur, ekonomie en administratiewe vermoë afgebreek het. Waar die land in 1994 ’n werkende staatsmasjien geërf het, sit ons vandag met ’n staat wat in kernfunksies nie meer kan lewer nie.
Hierdie verval is nie abstrak nie. Dit raak direk aan ekonomiese oorlewing, werkskepping, veiligheid en voedselsekerheid. Landbou, die fondament van nasionale stabiliteit en voedselvoorsiening, ervaar hierdie staatsversaking op ’n daaglikse basis. Wanneer die staat nie biosekuriteit, siektebeheer en basiese administrasie kan handhaaf nie, word die gevolge deur produsente en uiteindelik deur elke huishouding in die land gedra.
Die hantering van bek- en klouseer is ’n skreiende voorbeeld. Suid-Afrika beskik oor die kundigheid en geskiedenis om die siekte te beheer, maar politieke wil, administratiewe bekwaamheid en konsekwente uitvoering ontbreek. Die gevolg is geslote markte, opgeskorte uitvoere, ontwrigte boerderybedrywighede en enorme finansiële verliese, met bykans geen betekenisvolle staatsverligting nie. Dit ondermyn nie net individuele boere nie, maar ook Suid-Afrika se internasionale geloofwaardigheid en langtermyn voedselsekerheid.
Terselfdertyd word hierdie krisis vererger deur die ANC se ideologiese benadering tot grond, eiendomsreg en ekonomiese deelname. Die voortdurende herskrywing van geskiedenis en die bevordering van beleidsonsekerheid ontmoedig belegging, ondermyn langtermynbeplanning en plaas volhoubare produksie onder druk. Geen land kan voedselsekerheid of ekonomiese stabiliteit verseker sonder duidelike, beskermde eiendomsreg en beleidsekerheid nie.
Op die internasionale front koppel die ANC Suid-Afrika toenemend aan regimes en groeperinge wat ekonomies en diplomaties geïsoleer is, onder die vaandel van sogenaamde “onverbondenheid”. Hierdie keuses breek handelsverhoudinge af, ondermyn beleggersvertroue en stel toegang tot kernmarkte in gevaar, met direkte gevolge vir uitvoerders, produsente en werkskepping.
Die twee mees basiese verantwoordelikhede van enige regering, om ’n klimaat van vertroue vir ekonomiese deelname te skep en om die veiligheid van inwoners te verseker, word jaar na jaar versaak. Die prys hiervoor word nie deur die staat betaal nie, maar deur produktiewe inwoners wat toenemend sonder ondersteuning, beleidsduidelikheid of beskerming moet funksioneer.
TLU SA waarsku reeds lank dat hierdie patroon van ideologiese hardkoppigheid en staatsverval nie volhoubaar is nie. Suid-Afrika se toekoms, sy ekonomiese oorlewing en sy voedselsekerheid kan nie op leë slagspreuke en herskryfde geskiedenis gebou word nie, maar op praktiese, bewese beginsels: funksionele staatsinstellings, beskermde eiendomsreg, beleidsekerheid, biosekuriteit, marktoegang en werklike ekonomiese deelname.
Sonder ’n breuk met hierdie ideologiese koers bly elke 8 Januarie-verklaring bloot ’n oefening in politieke selfbehoud, terwyl die verantwoordelikheid vir stabiliteit, produksie en oorlewing al hoe meer op die skouers van gemeenskappe, produsente en ondernemings rus.
TLU SA sal aanhou om hierdie werklikheid onomwonde te stel, in belang van boere, verbruikers en die toekoms van Suid-Afrika.





