TLU SA verwelkom landbouminister John Steenhuisen se aankondiging van die aanstelling van ’n Bek-en-Klouseer (BKS) Bedryfskoördineringsraad, en in besonder die insluiting van TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, as lid van dié raad.
Die raad is aangestel om ’n aktiewe en gekoördineerde rol vanuit die bedryf te speel in die implementering van die nasionale strategie om bek-en-klouseer te beheer en uiteindelik uit te wis. Dit sluit onder meer insette oor entstofverspreiding, naspeurbaarheid, bewegingsbeheer en operasionele gereedheid in.
Volgens TLU SA is Van Zyl, wie voltyds met beeste geboer het voor hy as sy rol as hoofbestuurder by TLU SA ingeneem het, se aanstelling ’n duidelike erkenning van die rol wat georganiseerde landbou speel, asook van sy jarelange ervaring en betrokkenheid by die praktiese realiteite waarmee veeboere daagliks gekonfronteer word.
“Bek-en-klouseer is nie ’n teoretiese probleem nie, dit het werklike, verwoestende gevolge vir boere, vir landelike ekonomieë en vir Suid-Afrika se voedselsekerheid,” sê Van Zyl. “Dit is noodsaaklik dat besluite wat geneem word, gegrond is op wat werklik op plaasvlak gebeur. Die bedryf moet nie net geraadpleeg word nie, maar aktief deel wees van oplossings.”
TLU SA beklemtoon reeds geruime tyd dat die huidige BKS-situasie boere se vermoë om volhoubaar te produseer ernstig kniehalter. Bewegingsbeperkings, markverliese en onsekerheid het ’n direkte impak op boerdery-inkomste en beleggingsvertroue, terwyl die las van siektebeheer grootliks op produsente se skouers geplaas word.
“Boere wil saamwerk en deel wees van die oplossing, maar dit vereis deursigtige kommunikasie, werkbare reëls en ’n funksionerende staatstelsel,” voeg Van Zyl by. “Hierdie raad kan slegs slaag as daar werklik samewerking is tussen regering, veeartse en die bedryf.”
TLU SA is van mening dat die stigting van die Bedryfskoördineringsraad ’n belangrike stap is, mits dit lei tot praktiese optrede, duidelike aanspreeklikheid en meetbare vordering. Die organisasie sal voortgaan om druk toe te pas vir ’n effektiewe, realistiese en volhoubare benadering tot die bestuur van bek-en-klouseer in Suid-Afrika.
TLU SA bly verbind tot die beskerming van boere se belange, die stabilisering van Suid-Afrika se BKS-realiteit en die versterking van die landboubedryf se weerbaarheid.
Volg TLU SA se Facebook-blad.





