Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Februarie 2026
 

Mag ons positief wees?

Om kalm te bly beteken nie noodwendig dat ’n mens oor dit wat verkeerd is moet stilbly en dit maar aanvaar nie. Ons ingesteldheid het ’n groot rol te speel in ons besluitneming, veral wanneer ons juis in krisisse beland. Deur in elke moontlike oplossing eerder die probleme raak te sien, bring noodwendig negatiwiteit na vore.
Deur egter met ’n probleemoplossende benadering die werklikhede aan te pak en te kyk watter moontlikhede daar is om ’n konstruktiewe verskil te maak, skep vir dié wat dit doen ’n beter kans om positiewe resultate te behaal.

Ons weet wat ons begronding is – mag dit ons rig in ons besluitneming en optrede. Dit bring mee dat ons nie die vraag moet vra of ons positief mág wees nie, maar eerder dat ons wel positief wegtrek met alles wat ons doen.

Boeregroete
Bennie van Zyl
Hoofbestuurder, TLU SA

Jongboerkonferensie 2026: Boer 2.0, Die nuwe generasie boer

Die landboubedryf is besig om vinnig te verander, en jong boere staan in die voorste linie van daardie verandering. Op 13 Maart 2026 kom jong boere bymekaar by Gecko Ridge net buite Pretoria vir die TLU SA Jongboerkonferensie, met die tema “Boer 2.0: Die nuwe generasie boer & Agri Ekspo”.

Boer 2.0 gaan oor meer as net tegnologie. Dit gaan oor ’n nuwe manier van dink, beplan en boer. Dit vra dat jong boere hul plek in die landboustruktuur verstaan, slim besluite neem oor hul ondernemings, en doelbewus bou aan ’n volhoubare toekoms – nie net vir hulself nie, maar ook vir die volgende geslag.
Die konferensie skep ’n ruimte waar jong boere kan leer, vrae vra, idees toets en hulself kan meet teen die realiteite van moderne boerdery. Van selfbegin-boerdery en nalatenskap tot die rol van masjiene, bestuur en strategie – die fokus is op praktiese insigte wat jong boere help om wyser te boer.

Hierdie dag gaan ook oor verbinding: om ander jong boere te ontmoet, netwerke te bou en deel te word van ’n gemeenskap wat verstaan wat dit beteken om vandag ’n boer te wees. Boer 2.0 is ingelig, aanpasbaar en bereid om verantwoordelikheid te neem vir sy eie toekoms.

Klik hier om na Clemens Senekal, voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee, se onderhoud op Plaas Media te luister.


Industriekoördineringskomitee vir BKS

Wanneer die uitdaging om by die vyand – in hierdie geval BKS – uit te kom, en die hekkies in die pad later byna erger raak as die vyand self, is dit tyd om twee “kalmwordpille” te drink. Ons wil lede die versekering gee dat die Industriekoördineringsraad, gegewe die werklikhede waarmee ons te kampe het, al hul energie insit om te beding vir beter uitkomste vir die landbousektor.

Dit is algemene kennis dat die staat se sentralistiese beheerkultuur oor meer as 30 jaar gevestig is. In die proses het die staat ’n groot tekort aan kapasiteit geskep. Daar is ’n neiging om alles teen die bors vas te druk en te beheer, maar sonder die nodige kapasiteit. Indien hierdie siekte in die begin van die vinnig eskalerende tyd beter en veral vinniger aangespreek is, sou die wegholverspreiding waarskynlik baie beter hanteer kon word.

Ons kan met reg baie vingers wys oor hoe ons hier gekom het – die uitdaging nou is wat ons gaan doen om so spoedig moontlik oplossings te bring.

Ons wil lede ook daarop wys dat, indien daar allerlei remedies vir die behandeling van diere met BKS aangebied word, dit eers by die Taakgroep uitgeklaar moet word of dit werklik die resultate kan lewer waarop aanspraak gemaak word.


Goliat van Gat Pampoenfees | Saterdag 14 Maart 2026 by Lavender Kontreimark

Dit is weer daardie tyd van die jaar! Die inweeg van die Goliat van Gat-pampoene vind plaas, saam met ’n verskeidenheid heerlike aktiwiteite op die dag.

Lewendige optrede deur Pieter Koen, stalletjies, ’n kinderpretpark, kos en drinkgoed, ’n biertuin en nog vele meer. Daar is ook verskeie kompetisies soos pitspoeg, pampoenresies, gewigraai en veral ’n heerlike pampoengeregkompetisie. Kom skryf jou pampoengereg op die dag van die kompetisie in!

Bring die hele familie en kom kuier lekker saam met ons.

 

Nuus uit Hoofkantoor

Warm lug of resultate

Ons het ’n werklikheid in Suid-Afrika wat gewis vir elke rasioneel-denkende persoon tot erge frustrasie lei, naamlik die impak van ’n beleidsomgewing wat oor meer as dertig jaar ons land op ’n glybaan na mislukking geplaas het. Die gevaar is dat ’n mens later bloot die mislukking probeer bestuur en nie meer strewe na uitnemendheid en ’n beter toekoms nie. Die vraag en uitdaging is: Hoe hanteer ons dit?

Dit is maklik om ’n klomp warm lug die wêreld in te stuur – maar wat dan? Het dit enigiets geskuif of verbeter? Sodra energie ingesit word wat slegs emosies opwek sonder dat iets werklik verbeter, behoort ’n mens ernstig te besin of daardie energie nie vermors word nie. Vir enige persoon wat verstaan wat dit verg om ’n besigheid volhoubaar te bedryf en steeds kalm te bly in hierdie omstandighede, verg dit inderdaad hare op die tande.

Die wyse waarop die gevolge van hierdie onlogiese beleid van die ANC ons boere daagliks kniehalter en benadeel, het met Bek-en-Klouseer (BKS) volledig weer op die tafel gekom. Indien die staat sy verantwoordelikheid in dié verband nagekom het, kon hierdie situasie ’n baie beter uitkoms gehad het.

TLU SA se UK fokus op uitkomste in belang van ons lede. Dit is ’n toekomsgerigte benadering en verdien elkeen van ons se positiewe energie. Kom ons benut elke geleentheid konstruktief binne ’n raamwerk van bou, en oefen ons invloed op elke moontlike terrein uit in belang van landbouvolhoubaarheid.


Nuus uit die Sentraalstreek

Sentraalstreekbestuur het die afgelope maand vergader met die Gautengse Departement van Landbou se LUR, Vuyiswa Ramokgopa, die Direkteur van Veeartsenykunde, Dr Wynton Rabolao, en ander rolspelers in die Departement om oplossings te vind vir die Bek-en-Klou (BKS)-probleem in Gauteng.

Ons het ook van die geleentheid gebruik gemaak om hulle meer te vertel oor wie en wat TLU SA is.

Verder het ons deelgeneem aan ’n gesprek met die Gautengse Wetgewer se Portefeuljekomitee vir Omgewingsake, Landbou en Landelike Ontwikkeling, saam met ander rolspelers, om oplossings te vind vir die BKS-pandemie.

Dit is belangrik dat boere baie nou saamwerk met hul plaaslike staatsveearts, privaat veeartse en die SAPD se veediefstaleenhede om alles in hul vermoë te doen om die siekte te beheer en te bekamp.

Dit is duidelik dat daar baie onwettige beweging, verkope en slagtings van diere in Gauteng plaasvind, wat dit moeilik maak om die siekte te beheer. Daarom is dit noodsaaklik dat almal saamwerk om ’n volhoubare oplossing te vind.

 

FINANSIËLE WELSTAND: BESKERM DIE PLAAS. BESKERM DIE TOEKOMS.
Deur Kobus Oberholster

Boerdery is meer as ’n onderneming. Dit is familie, identiteit en nalatenskap. Dit is vroeë oggende, moeilike seisoene, groot risiko’s en die verantwoordelikheid om iets beter aan die volgende geslag oor te dra. Maar in ’n tyd van ekonomiese druk, klimaats-onsekerheid en stygende insetkoste, kan selfs die beste boerdery-onderneming kwesbaar wees sonder gestruktureerde finansiële beplanning.

Dit is waarom die Finansiële Welstand-lessenaar van TLU SA ’n noodsaaklike rol speel in die volhoubaarheid van ons lede se ondernemings.

Lees meer hier.


Finansiële Welstand

Ons bring graag die volgende regsaspekte onder lede se aandag. Indien dit reeds aan u bekend is, wil ons dit graag onderstreep vanweë die uiters ernstige gevolge wat dit kan inhou.

Die President het tydens die Staatsrede (SONA) bekend gemaak dat dit ’n belangrike taak vir die regering is om toe te sien dat buitelanders nie onwettig in diens geneem word nie. Voorts is aangekondig dat 10 000 inspekteurs aangestel sal word om hierdie beleid af te dwing.

Dit is dus uiters belangrik dat lede toesien dat geen oortredings in hierdie verband plaasvind nie. Neem slegs Suid-Afrikaanse burgers in diens wat hulself met ’n geldige ID-dokument kan identifiseer, alternatiewelik ’n buitelander wat in besit is van ’n geldige werkspermit wat bo twyfel bona fide is.

Om in ’n verkeerde posisie betrap te word, is eenvoudig nie haalbaar nie. Die boetes is buitensporig. Wat selfs ernstiger is, is dat u gearresteer kan word en in ’n uitgerekte en duur regstryd betrokke kan raak. Van ons lede is reeds onskuldig in so ’n posisie betrap en het geweldige skade gely.

Ons wil lede weereens wys op die plaasprotokol met betrekking tot toegang tot plase, persele en landbouhoewes. Maak seker dat behoorlike kennisgewings by plaashekke aangebring is en dat die protokol konsekwent toegepas word.

In die huidige tydsgewrig met Bek-en-Klouseer (BKS) moet lede ook streng aan daardie vereistes voldoen.

 
 

Begroting 2026 | Ware toets lê in uitvoering, kapasiteit en vertroue

Boere se belange eerste: TLU SA se rol in BKS-raad

Staatsrede laat landbou met groter onsekerheid oor volhoubaarheid en oorlewing

Minimumloon-aankondiging toon min begrip vir ekonomiese werklikheid

Staatsrede: Tyd vir waarheid oor die stand van Suid-Afrika

 

 

13 Maart | TLU SA Jongboerkonferensie
14 Maart | Goliat van Gat Pampoenfees

Jongboerkonferensie 2026