TLU SA neem kennis van pres. Cyril Ramaphosa se Staatsrede wat Donderdagaand 12 Februarie plaasgevind het. Die landbou-organisasie is egter van mening dat die toespraak nie die nodige duidelikheid, strukturele hervorming en operasionele sekerheid bied wat die land, in spesifiek die landboubedryf, dringend benodig nie. Inteendeel, die uitdagings vir landbouvolhoubaarheid is na aanleiding van die aankondigings groter as tevore.
Landbou is ’n strategiese sektor wat voedselsekerheid, landelike werkskepping, uitvoermarkte en ekonomiese stabiliteit direk beïnvloed. Beleidsuitsprake wat nie gepaard gaan met duidelike implementeringsplanne, begrotingsprioritisering en meetbare verantwoordbaarheid nie, skep verdere onsekerheid in ’n sektor wat reeds onder enorme druk funksioneer. TLU SA het gehoop dat realistiese, nugtere benaderings sou begin seëvier deur die invloed van BEE te beperk. Dit het egter nie gebeur nie en beklemtoon dat strukturele hervorming steeds dringend nodig is.
Pres. Ramaphosa verwys weereens na ekonomiese groei en ontwikkeling, maar spreek nie die kernbeperkings in staatskapasiteit en administratiewe doeltreffendheid voldoende aan nie. Sonder funksionele instellings, tegniese kundigheid en tydige besluitneming bly beleidsvoornemens bloot teoreties.
BKS is tydens die Staatsrede as ’n nasionale ramp verklaar. Tog is daar geen erkenning van die kundigheid wat reeds in die land beskikbaar is nie, veral die privaat veeartse en landboukundiges wat oor jare se praktiese ervaring beskik. In plaas daarvan bly die benadering gesentraliseer binne ’n staatsmasjinerie wat reeds bewys het dat dit te stadig en te onbevoeg is om krisisse betyds te hanteer. TLU SA erken die erns van die situasie en die impak wat die uitbrekings op voedselsekerheid, uitvoermarkte en produsente het.
“Nietemin is dit ons standpunt dat ’n blote rampverklaring op sigself nie die onderliggende bestuurs- en kapasiteitsuitdagings aanspreek nie. Sonder ’n geïntegreerde benadering waarin bestaande kundigheid, operasionele vermoë en samewerking met die sektor doelgerig benut word, bly die risiko groot dat die maatreëls onvoldoende sal wees om die siekte doeltreffend en volhoubaar te beheer,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die ekonomiese en strukturele gevolge van onvoldoende implementering sal uiteindelik deur landbouers, en die land as geheel, gedra word.”
Verder bly grensbeheer, biosekuriteit, landelike veiligheid, energie-onsekerheid en infrastruktuurverval kritieke risikofaktore wat nie met die dringendheid en praktiese oplossings aangespreek is wat die situasie vereis nie.
Die president het ook verwys na staatskaping en korrupsie as uitdagings wat aangespreek moet word. Hierdie verskynsels het egter nie in ’n vakuum ontstaan nie. Dit is die direkte uitvloeisel van politieke ontplooiing en ’n beleid wat kundigheid opsy skuif ten gunste van “lojaliteit”. “Suid-Afrika het kundigheid en ’n sin vir dringendheid nodig. Sonder verantwoordelikheid en sonder mense wat die ekonomie verstaan, gaan geen aankondiging hierdie land red nie,” sê Van Zyl.
Erkenning van die verval in plaaslike regering en waterinfrastruktuur alleen verander niks. ’n Staat wat oor drie dekades sy institusionele kapasiteit laat afbreek het, kan dit nie met een staatsrede herstel nie.
TLU SA staan by sy standpunt: Suid-Afrika het nie nóg aankondigings en beloftes nodig nie. Die land het bekwame bestuur, beleidsrasionaliteit en die volle benutting van bestaande kundigheid nodig. Sonder dit bly die SONA ’n jaarlikse herhaling van hoop sonder uitvoering.
Die vraag bly: wie gaan hierdie beloftes uitvoer, en wie gaan die uitvoerders aanspreeklik hou? Totdat daar duidelike antwoorde op daardie vraag is, bly hierdie staatsrede net nog ’n lys voornemens in ’n land wat reeds te lank wag vir werklike verandering.



