’n Nasionale begroting is nie bloot ’n finansiële dokument nie; dit is die duidelikste aanduiding van ’n regering se prioriteite, sy begrip van die land se werklikheid en sy vermoë om ekonomiese groei te ontsluit. In ’n ekonomie wat sukkel om betekenisvolle groei te bereik, met ’n geprojekteerde 1,6% vir 2026 en ’n mediumtermynvooruitsig wat skaars 2% haal, word die begroting ’n toets van geloofwaardigheid. Teen hierdie agtergrond beoordeel TLU SA die 2026-begroting wat finansminister Enoch Godongwana op 25 Februarie ter tafel gelê het.
Volgens die begroting beloop die totale staatsbesteding R2,67 triljoen in 2026/27, terwyl meer as R1 triljoen oor die mediumtermyn vir infrastruktuur voorsien word. Staatskuld stabiliseer op 78,9% van BBP en die begrotingstekort daal na 4,5%. Hierdie syfers dui op fiskale stabilisering, maar stabiliteit op papier is nie gelykstaande aan ekonomiese dinamika in die praktyk nie.
Hoewel die minister klem plaas op fiskale dissipline, skuldstabilisering en verbeterde samestelling van besteding, bly die fundamentele vraag of die toedeling en oormerking van fondse werklik die strukturele probleme in die Suid-Afrikaanse ekonomie aanspreek. ’n Begroting kan tegnies gebalanseerd wees, maar indien dit nie lei tot tasbare verbetering in groei, werkskepping en beleggersvertroue nie, bly die impak beperk.
Die realiteit is dat Suid-Afrika steeds gekonfronteer word met wesenlike werkloosheid, beperkte groei, logistieke knelpunte en ’n volgehoue veiligheidskrisis. Onsekerheid oor besitreg en die toepassing van die reg ondermyn die grondslag van ekonomiese vertroue. Sonder veiligheid en regssekerheid bly belegging huiwerig en word groei verder beperk. Dit plaas groter druk op die begroting as instrument om vertroue te herstel, iets wat nie slegs deur aankondigings bereik kan word nie, maar deur uitvoering.
TLU SA bly ernstig bekommerd oor die staat se kapasiteit om korrupsie en wanbesteding daadwerklik te bekamp. Ons neem kennis daarvan dat die minister weer klem lê op die bekamping van korrupsie en die voorkoming van die wegraak van openbare fondse, ’n verbintenis wat reeds oor verskeie jare herhaal word. Wat egter ontbreek, is sigbare en volhoubare uitkomste, veral in die vorm van suksesvolle vervolgings en aanspreeklikheid in howe.
Spandering op vrede en veiligheid neem toe van R268,2 miljard in 2025/26 tot R291,2 miljard oor die mediumtermyn. TLU SA erken dat verhoogde befondsing noodsaaklik is, maar die sukses daarvan sal nie deur die omvang van die toekenning bepaal word nie. Dit sal gemeet word aan die herstel van professionele kapasiteit, opleiding, logistieke ondersteuning en aanspreeklikheid binne die veiligheidsdienste.
Wat landbou betref, verwys die minister na die uitbreking van bek-en-klouseer as ’n faktor wat op ekonomiese aktiwiteit druk plaas. Tog is daar geen duidelike, afgebakende uitbreiding van die landboubegroting wat die omvang en risiko van hierdie krisis weerspieël nie. Indien landbou ’n strategiese sektor is wat voedselsekerheid, werksgeleenthede en uitvoere dra, behoort dit sterker en meer doelgerig in begrotingstoedelings na vore te kom. Erkenning van ’n risiko is nie dieselfde as ’n voldoende finansiële reaksie daarop nie.
“Alhoewel die begroting verskeie maatreëls en tegemoetkomings vir verbruikers bevat, wys ervaring dat fondse dikwels nie die beoogde uitkomste lewer nie, veral in munisipaliteite, onderwys en landbou,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Suid-Afrika het meer as net ’n fiskale strategie nodig. Die land kort vertroue, realisme en deursigtigheid. Dit verg die daadwerklike wegneem van korrupsie, die aanstelling van bevoegde en kundige persone in sleutelposisies en ’n prestasiegedrewe kultuur binne die staatsdiens.
“’n Begroting is uiteindelik ’n toets van uitvoering,” voeg Van Zyl by. “Ons kan nie voortgaan om fondse toe te ken sonder meetbare uitkomste nie. Suid-Afrika het dringend ’n herstel van staatskapasiteit, aanspreeklikheid en vertroue nodig. Sonder dit sal ekonomiese groei, veiligheid en landbou-ontwikkeling nie die sprong maak wat die land so dringend benodig nie.”





