Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Augustus 2024  
 

Droom ons nog van 'n beter lewe, en hou ons nog vas aan hoop? Ware hoop kan slegs standhou as dit op 'n stewige geloofsbasis gegrond is. Wanneer ons morele kompas gerig is deur die Woord van God, wat dien as ons fondament en riglyn, kan ons met vertroue hoop. Hebreërs 11:1 herinner ons: “Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”

 
TLU SA Noord hou konferensie

TLU SA Noord het Woensdag, 21 Augustus, hul jaarlikse konferensie in die Loskopvallei Boere-Unie saal in Groblersdal aangebied. Van vroegoggend het talle TLU SA-lede, boere en belanghebbendes die saal gevul om deel te neem aan 'n dag vol insiggewende sessies en inspirerende praatjies.

Die saal was pragtig versier met bergrosies en modeltrekkers, terwyl oulike boodskappe en getekende plaasprentjies deur die Gr R-klas van CVO Gromar 'n persoonlike atmosfeer geskep het, wat perfek ingepas het by die konferensie se tema, "Verjong die Platteland."

Die oggend is gepas geopen deur ds. Julian Olivier, waarna mnr. Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA Noord, die verwelkoming en voorsittersverslag hanteer het. Mnr. Goosen Lombard, NTK Streeksdirekteur van die VKB Groep, het boere aangemoedig om verandering te omarm deur te benadruk: "Change is difficult. Not changing is fatal."

Mnr. Julian Kuik, van Octu Chem, het daarna die konferensie se hoofborg verteenwoordig en insig gegee oor die belangrike rol wat hulle speel in die verskaffing van industriële en landbouchemikalieë. Mnr. Clemens Senekal, voorsitter van TLU SA se jongboerekomitee, het verder uitgebrei oor die belangrikheid van aanpassing in landbou en die noodsaaklikheid om die platteland te moderniseer, terwyl tradisies en waardes behou word.

Mnr. Stiaan Hugo, algemene bestuurder by AGI Frost Fans, het 'n relevante aanbieding gedoen oor hulle elektries aangedrewe waaiers wat boere help om skade te voorkom tydens ongewone koue periodes in Limpopo. Ná hierdie insiggewende oggend is tee, koffie, en eetgoed bedien, terwyl nominasievorms vir die nuwe dagbestuur van TLU SA Noordstreek ingedien is.

Prof. André Louw, van die Universiteit van Pretoria, het jongmense aangespoor om ekonomiese geleenthede in landbou aan te gryp, terwyl mnr. Andries Wiese van Hollard Insure oor volhoubaarheid en die belangrikheid van doelgerigte aanpassing gesels het.

Me. Roné Hennop het met besoekers gesels oor minimumloon impaknavorsing, en mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het weer die noodsaak van volhoubare boerdery beklemtoon.

Die dag is afgesluit met 'n voorstel vir die verandering van die grondwet, 'n tafelgebed, 'n heerlike ete, en 'n gesellige samesyn.

TLU SA Noord word TLU SA Limpopo

Op 17 Julie 2024 het 'n belangrike vergadering tussen TLU SA Noord en die hoof van Limpopo se Rampbestuursentrum, dr. TD Makananisa, plaasgevind. Hierdie vergadering het plaasgevind in die lig van die onlangse swartryp- en brandskade wat die streek getref het. Dit was duidelik dat 'n nuwe benadering nodig is om effektief te kan reageer op die uitdagings waarmee ons boere te kampe het.

Tydens die vergadering het dit duidelik geword dat die naam "TLU SA Noordstreek" nie meer optimaal was vir die funksies en verantwoordelikhede van die streek nie. Die term "Noord" het slegs geografiese betekenis en skep verwarring, veral in kommunikasie met die publiek en media. Dit het ook geblyk dat die streekbestuurder in werklikheid as 'n provinsiale bestuurder funksioneer, wat verder ondersteun het dat 'n naamsverandering nodig is.

Die voorstel om die naam te verander na "TLU SA Limpopo" is dus nie net 'n verandering nie, maar 'n praktiese stap om groter duidelikheid en effektiwiteit te verseker. Die naam Limpopo, wat geassosieer word met die bekende rivier, dra geen politieke konnotasies nie en het 'n lang geskiedenis in die streek. Hierdie verandering is tydens die Streekkonferensie op 21 Augustus 2024 voorgelê en goedgekeur.

Die nuwe Dagbestuur van TLU SA Limpopo is ook aangewys.

Hendrik Botha, 2de Vise
Erika Helm, Vise Voorsitter
Danie Prins en Fanie Havinga, Voorsitter
Voor staan Wilma Prinsloo en Rone Hennop.

 

Beskerm landbougrond teen vernietigende mynbou-aktiwiteite, vra TLU SA

TLU SA neem met groot kommer kennis van die toenemende aantal mynbouaansoeke wat op landbougrond gerig is. Hierdie situasie vereis onmiddellike aandag van die regering om die negatiewe impak op die omgewing en die landbousektor te voorkom.

 

Werkloosheid en misdaad: Twee kante van dieselfde munt

TLU SA het met groot kommer kennis geneem van die jongste Statistiek SA Kwartaal-Arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal van 2024. Hierdie verslag beklemtoon weer eens die ontstellende vlakke van werkloosheid in ons land, wat direk tot die toename in misdaad bydra. Ons staan vas in die oortuiging dat werkloosheid en misdaad onafskeidbaar verbind is.

 

TLU SA veroordeel brutale aanval op jong boer in Barkly-Oos

Dit is met skok dat TLU SA en die gemeenskap van Barkly-Oos kennis neem van die gruwelike aanval op Martin Cloete, ‘n jong boer en inwoner van die gebied, wat Saterdagaand 17 Augustus 2024 in die hoofstraat van die dorp plaasgevind het.

TLU SA Jongboer Gholfdag

TLU SA Jongboer Gholfdag wat op 23 Augustus te Pebble Rock Golf Estate plaasgevind het, was ‘n sukses.

Dankie aan elkeen van ons borge vir bydraes en vir almal wat in lekker gees saam gespeel het.

Het jy ook foto’s geneem? E-pos joune na caria@edgecommunications.co.za.

Klik hier om na foto's te kyk.

Sakeliga KragDag Sentraal

TLU SA was op 8, 9 & 10 Augustus by Sakeliga KragDag Sentraal.

Hierdie jaarlikse ekspo, wat bekend is vir sy fokus op alternatiewe energie en selfstandigheid, het weer eens besoekers van oor die hele land gelok. Met die tema "Daar is 'n Alternatief – Neem self verantwoordelikheid en stel die voorbeeld" het die ekspo 'n sterk boodskap van self- en gemeenskapsversorging oorgedra.

On-Trac-Tor For Charity 2024

TLU SA het dr. André Hattingh in Augustusmaand ondersteun in sy wêreldrekord-poging om 3 500 km op 'n Mahindra-trekker te ry vir Pediatric Care Africa se On-Trac-Tor For Charity 2024-veldtog.

Pediatric Care Africa se harte gaan nie net uit na mense met 'n behoefte vir mediese behandeling nie, maar dra ook die welstand van ons boere op die hart.

Baie dankie dat julle jul ook vereenselwig met die werksaamhede van TLU SA!

Wenner

Debi van der Linde, die wenner van ons kompetisie by Nampo en ander boeredae ontvang haar prys van Wannie Scribante.

Handves vir die Beskerming van Privaat Eiendomsreg

Suid-Afrika bevind hom tans in 'n beleidsomgewing wat meer onsekerheid as vertroue skep, wat 'n negatiewe invloed op ons ekonomiese groei het. Hierdie stagnasie kan toegeskryf word aan verskeie faktore, almal terug te voer na die gevolge van die ongunstige beleid waarmee ons land gekonfronteer word. Veiligheid en onsekerheid oor eiendomsreg is net enkele van die aspekte wat beleggers afskrik en die noodsaaklike vaste beleggings belemmer wat nodig is vir ekonomiese groei.

TLU SA het tydens die Algemene Raad die Handves vir die Beskerming van Privaat Eiendomsreg bekendgestel, wat as 'n grondslag moet dien vir elke rolspeler in die ekonomie. Hierdie goed beplande dokument bied 'n duidelike vertrekpunt vir die skepping van welvaart binne 'n vrye markomgewing. Lede sal die geleentheid hê om tydens die kongres die Handves te onderskryf.

Belangrike inligting

Agriseta Beurs 2025: Belangrike Inligting vir TLU SA Lede

Indien enige TLU SA-lid se kind reeds toelating ontvang het om aan enige universiteit in Suid-Afrika in 'n landbou rigting te gaan studeer, kan daar aansoek gedoen word vir 'n Agriseta beurs vir die 2025 studiejaar. Aansoeke moet deur TLU SA ingedien word, en alhoewel Agriseta die aansoeke oorweeg, kan geen waarborg gegee word dat die aansoek goedgekeur sal word nie. Agriseta sal in Desember 2024 aankondig watter aansoeke goedgekeur is.

Alle navrae moet asseblief direk by Lynette du Plessis van TLU SA ingedien word, slegs per e-pos na sentraal@tlu.co.za. Agriseta sal geen navrae vanaf enige aansoeker hanteer nie.

 
 

ʼn Begrip van die tweepot-aftreestelsel

Hoekom gaan die regering die tweepot-stelsel implementeer?

  1. Om in noodgevalle toegang tot ʼn klein gedeelte van jou aftreespaargeld toe te laat terwyl jy nog werk.
  2. Om die aftree-inkomste wat lede by aftrede ontvang te verbeter. Lede sal eers by aftrede toegang hê tot die grootste deel van hul aftreespaargeld. Die implementeringsdatum is

1 September 2024.
Jou aftreespaargeld in jou aftreefonds sal in 3 “potte” (of komponente) verdeel word, naamlik ʼn gevestigde pot, ʼn spaarpot en ʼn aftreepot. Verskillende reëls geld vir elke komponent (pot).

Konsultasie En Publieke Deelname

Grondeienaars word hedendaags deur bykans alle prosesse betrek by konsultasie en/of publieke deelname hetsy dit bepaal word deur grondeise, eiendombelasting, mynbou verwante aansoek een dies meer.  Met hierdie inligtingstuk wil ons graag meer bespreking plaas op die prosesse en wat dit in werklikheid beteken.

Wat is die verskil tussen konsultasie en publieke deelname?

Die verskil tussen konsultasie en publieke deelname is die sleutelfaktor wat hierdie twee prosesse onderskei en is belangrik in die mate waarin betrokkenes toegelaat word om besluitneming te beëinvloed, te deel of te beheer.

 

4 September: TLU SA Kongres

TLU SA se jaarlikse kongres is sonder twyfel 'n hoogtepunt waar lede hul afgevaardigdes stuur om hul stem te laat hoor oor aktuele sake op 'n amptelike platform. Georganiseerde landbou is die hartklop van die boere. Dit is deur die boere self gestig om hul belange te bevorder en om 'n positiewe beleidsomgewing te skep. Die betrokkenheid en deelname vanaf grondvlak—nie net tydens die kongres nie, maar deur die hele jaar—is van kardinale belang om die regte koers te bepaal en ook te implementeer. Elke dag hoor ons van die druk waaronder landbou gebuk gaan, wat ons boere op verskeie maniere bedreig. Dit is kwessies wat kollektief aangespreek moet word. Dit is noodsaaklik dat boere hul insette lewer sodat die beste besluite geneem kan word om elke boer se toekoms te verseker.

 

Foto van die maand

Hierdie drie foto’s is deur Bennie van Zyl ingestuur, en is tydens ‘n Oupa-pa-kleinseun-jagnaweek geneem. Gaan stem op sosiale media vir die wenfoto!