Grondeienaars word hedendaags deur bykans alle prosesse betrek by konsultasie en/of publieke deelname hetsy dit bepaal word deur grondeise, eiendombelasting, mynbou verwante aansoek een dies meer. Met hierdie inligtingstuk wil ons graag meer bespreking plaas op die prosesse en wat dit in werklikheid beteken.
Wat is die verskil tussen konsultasie en publieke deelname?
Die verskil tussen konsultasie en publieke deelname is die sleutelfaktor wat hierdie twee prosesse onderskei en is belangrik in die mate waarin betrokkenes toegelaat word om besluitneming te beëinvloed, te deel of te beheer.
Konsultasie word gedefinieer as die praktyk om ‘n derde party van kundigheid oor ‘n aangeleentheid te voorsien. Die diens kan of advies of implementeringsdienste behels. In die opsig is die fasiliteerder / konlsultant se rol as onafhanklike en onbevooroordeelde party van uiters belang.
Publieke deelname kan enige proses wees wat die publiek direk by besluitneming betrek en volle oorweging gee aan insette om daardie besluit te neem. Openbare deelname is dus ‘n proses en nie beperk tot ‘n enkele gebeurtenis nie.
Die grootste doel van publieke deelname is om sleutelbelanghebbendes soos grondeienaars, landsburgers te betrek om hul insette te lewer in die beplande ontwikkeling en veral oor die impakte wat hulle direk of indirek kan raak. Die grootste bydrae is dat so ‘n projek versterk word deur die deelname van belanghebbendes. Die belangrikste stap wat geneem moet word deur konsultante / fasiliteerders is dat die belanghebbendes in kennis gestel moet word, van inligting voorsien en betrek word by enige proses. Daar moet aandag gegee word aan kommentaar, bekommernisse en insette in dokumentasie en besluitneming. Relevante partye moet verteenwoordig word in enige proses om die werking daarvan suksesvol te verteenwoordig. Die mate van deelname wat deur wetgewing vereis word, kan wissel van slegs die belanghebbendes in te lig tot werklike samewerking om die konsultasie te verbeter. Ongelukkig is SA se wetgewing soms dubbelsinnig en word die omvang van deelname in die hande van die ontwikkelaars gelaat. In ‘n land soos SA kan die verkeerde party hierdie dubbelsinnigheid misbruik om besluitneming met invloed van die belanghebbende partye, te minimaliseer.
Hoe kan die belanghebbende partye hierdie proses beinvloed?
Belanghebbende partye moet aandring op hulle reg om toegang tot alle verwante dokumentasie te verkry. Wet 2 van 2000 om toegang tot inligting te bevorder gee die reg aan belanghebbende partye om op inligting aan te dring en ‘n verpligting dat die inligting voorsien moet word.
Wanneer kan inligting voorsien word?
Dit is belangrik dat skakeling met belanghebbendes reeds in die vroeë stadium van ‘n beplande projek aanvang neem. In terme van die Wet op die bevordering van administratiewe geregtigheid nr. 3 van 2000, moet daar ook in hierdie hantering van inligting ‘n billike en regverdige geleentheid geskep word om maksimale deelname te verseker. Om billike en regverdige administratiewe proses te weerspieel, is die aanbeveling altyd dat alle kommunikasie skriftelik gehou word. Daar moet nie ‘n geleentheid geskep word van “hy sê, sy sê” en niemand kan in werklikheid onteenseglik bewys wat werklik gesê is nie.
Billike reaksie tyd
Waar meer inligting of antwoorde versoek word om deursigtigheid te bevorder en deelname te verseker, is ‘n antwoord of terugvoer van meer as 30 dae nie aanvaarbaar nie. Konsultasie moet gelyke geleenthede bied om deelname te ondersteun.
BELANGRIK: Konsultasie en publieke deelname is van die belangrikste prosesse waar die publiek en belanghebbendes se stemme gehoor kan word. Hierdie geleentheid moet nie eenkant gestoot word of geignoreer word nie. Daar is ‘n verpligting op die ontwikkelaar om inligting beskikbaar te stel, deelname aan te moedig en geleenthede te skep vir interaksie. Indien hierdie geleentheid nie gebruik word nie, is dit verlore en kan daar nie ‘n proses van stapel geloop word om dit oor te doen of te herhaal nie. Vermyding of die ignoreer van ‘n publieke deelname en konsultasie proses, stop nie die projek nie. Die projek sal voortgaan en die belanghebbende partye sal ‘n geleentheid verloor waar die belangrikste belange aangespreek kan word.
Die geheim : volg die proses en verseker jou deelname. Maak aanspraak op alle inligting en plaas jouself in die posisie om besluite te kan beinvloed deur suksesvolle deelname.





