Dit is met skok dat TLU SA en die gemeenskap van Barkly-Oos kennis neem van die gruwelike aanval op Martin Cloete, ‘n jong boer en inwoner van die gebied, wat Saterdagaand 17 Augustus 2024 in die hoofstraat van die dorp plaasgevind het.
Die 36-jarige Cloete praat met TLU SA oor presies wat Saterdagaand met hom en sy meisie, Mavis Myburgh, gebeur het.
Na ‘n rustige dag by die Barkly-Oos gholfklub het Cloete die klubhuis verlaat. Hy vertel hy het in Colestraat afgery toe ‘n wit motor skielik voor hom in Greyvensteinstraat inbeweeg het. Hy het stadiger gery om die ander motor verby te laat gaan, maar die motor het skielik gestop, wat veroorsaak het dat Cloete teen die agterkant van die voertuig gebots het.
“Toe ek my venster oopmaak om met die bestuurder te praat, het ‘n groep mense, wat naby die kroeg was, my genader,” vertel hy. “Een van hulle het sy hand in my motor gesteek om die deur oop te maak. In ‘n poging om ons te beskerm, het ek weggery.”
Hy het om die blok gery en teruggekeer om met die bestuurder te praat, maar wat hy toe teëgekom het, was ‘n groep mense wat bakstene en klippe gedra het, vertel hy. ‘n Baksteen het sy voorruit aan die regterkant getref. Cloete het probeer wegkom, maar hy het beheer oor sy voertuig verloor en hy het in ‘n palissadeheining vasgery. Toe hy probeer om agteruit te ry, het nog ‘n baksteen deur die passasierskant se venster gevlieg.
Myburgh is uit die voertuig gesleep, maar het ontsnap en na die plaaslike polisiekantoor hardloop. Cloete is wreed deur die groot groep mense uit sy voertuig gesleep en aangerand. Hy het vir sy lewe gevrees en het tydens die aanval bewussyn verloor.
“Ek het eers in die hospitaal wakker geword. Die polisielid wat my daardie aand gered het, het vir my gesê dat hy gedink het ek is dood. Dit was eers toe hy gehoor het dat ek kreun, dat hy besef het ek leef nog. Ek het hom Maandag geskakel en bedank dat hy my lewe gered het,” vertel Cloete.
Die brutale aanval is ‘n tragiese herinnering aan die toenemende wetteloosheid wat ons land teister. Hoewel TLU SA die vinnige optrede van die SAPD in hierdie geval waardeer, is dit duidelik dat sulke insidente onmiddellike en daadwerklike optrede vereis om verdere geweld te voorkom en om te verseker dat die skuldiges aanspreeklik gehou word.
Thero Wink en die res van die bestuur by TLU SA se tak in Barkly-Oos het Cloete na die aanval ondersteun en het hom volle steun van TLU SA verseker.
“As organisasie besef ons dat hierdie voorval ‘n plofbare situasie in die gemeenskap skep,” sê Wink namens die bestuur van TLU SA se tak in Barkly-Oos. “Ons doen ‘n dringende beroep op die SAPD om nie net hierdie insident met die nodige erns en dringendheid te hanteer nie, maar ook om ‘n deeglike evaluering te doen van hul optrede, of gebrek daaraan, in die afgelope tyd wat tot hierdie gevaarlike toestande gelei het.”
In Suid-Afrika word gemiddeld 80 sulke aanvalle per dag aangemeld. Hierdie werklikheid kan nie geïgnoreer word nie. TLU SA sal voortgaan om boere te beskerm en te ondersteun, maar dring aan op groter en meer effektiewe polisiëring om te verseker dat ons gemeenskappe veilig is.
“Ons sal hierdie saak noukeurig volg en met die relevante owerhede saamwerk om te verseker dat geregtigheid vir Martin Cloete geskied,” sluit Wink af.



