Hoekom gaan die regering die tweepot-stelsel implementeer?
- Om in noodgevalle toegang tot ʼn klein gedeelte van jou aftreespaargeld toe te laat terwyl jy nog werk.
- Om die aftree-inkomste wat lede by aftrede ontvang te verbeter. Lede sal eers by aftrede toegang hê tot die grootste deel van hul aftreespaargeld. Die implementeringsdatum is 1 September 2024.
Jou aftreespaargeld in jou aftreefonds sal in 3 “potte” (of komponente) verdeel word, naamlik ʼn gevestigde pot, ʼn spaarpot en ʼn aftreepot. Verskillende reëls geld vir elke komponent (pot).
Aftreespaargeld tot en met 31 Augustus 2024 (gevestigde pot)
Jou Fonds sal op 31 Augustus 2024 ʼn eenmalige bedrag van 10% of R30 000 (wat ook al die minste is) van jou aftreespaargeld na die spaarpot oordra. Die res van die geld sal in jou gevestigde pot bly.
- Die geld in jou gevestigde pot sal steeds aan die huidige reëls onderhewig wees.
- Lede wat op 1 Maart 2021 ouer as 55 was, hoef nie aan die tweepot-stelsel deel te neem nie.
- Wanneer jy jou werkgewer verlaat, kan jy:
- as ʼn opbetaalde lid van die Fonds aanbly, of
- jou geld in kontant neem, of
- die geld na ʼn ander fonds oordra.
Die tweepot-stelsel tree op 1 September 2024 in werking
Jou aftreefondsbydraes vanaf 1 September 2024 sal in 2 komponente verdeel word.
Een derde van jou bydraes sal na jou spaarpot gaan, en twee derdes van jou bydraes sal na jou aftreepot gaan.
- Jy kan een keer per belastingjaar geld uit die spaarpot onttrek.
- Die minimum wat jy kan onttrek, is R2 000 (voor fooie en belasting) en daar is geen maksimum bedrag nie (mits jy meer as R2 000 in jou spaarpot het).
- Jy kan nie geld uit die aftreepot onttrek wanneer jy jou werkgewer verlaat nie. Hierdie geld moet belê bly totdat jy aftree.
Die geld in jou spaarpot is deel van jou aftreespaargeld en moet net in ʼn noodgeval onttrek word. Dit behoort jou laaste uitweg te wees nadat jy alle ander opsies gebruik het. Onthou, as jy geld uit jou spaarpot neem, beteken dit jy maak jou aftreevoordeel kleiner.