194 James Drive, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Members / Friends matters: ledesake@tlu.co.za

Paasmoorde op Parys

Verklaring deur Bertus van der Westhuizen, Veiligheidsverteenwoordiger van TLUSA Vrystaat:

Dit is met skok en afgryse dat ons verneem het van die dubbele plaasmoord op die bejaarde  egpaar Van Rooyen in die omgewing van Koppies/Parys in die Noord-Vrystaat.  Ons wil dan ook graag van die geleentheid  gebruik maak om ons meegevoel met die familie en vriende te betuig en ons vertrou saam met hulle dat die moordenaar/s spoedig aangekeer  en gepas gestraf sal word.

TLUSA –Vrystaat wil egter sy ernstige kommer uitspreek oor die skynbare toename in plaasinsidente die afgelope 30 dae in die Noord-Vrystaat. Ons is bewus van minstens 5 insidente waaronder hierdie bejaardes wat wreed vermoor is, ‘n ander egpaar ernstig beseer is deur skietwonde en dan insidente waar mense aangerand en ander slegs beroof is. Bekommerde en sommige woedende boere het my na hierdie insident gekontak en hulle misnoe duidelik en onomwonde uitgespreek rondom die veiligheidsituasie op plase.  

TLUSA-Vrystaat betreur die feit dat die landboubeen van die Suid-Afrikaanse ekonomie onder hierdie onveilige en ongunstige omstandighede moet funksioneer.  Werkloosheid en voedseltekorte is twee faktore wat Suid-Afrika in totale anargie kan laat verval en moet baie omsigtig deur die regering hanteer word. Landbou lewer in beide gevalle ‘n groot bydrae wat nie altyd na waarde geskat word nie en hopelik neem die regering en vakbonde kennis van bogenoemde feite. Sink hierdie skip sal hulle immers nie gevrywaar wees nie.  
 
TLUSA-Vrystaat wil alle boere aanmoedig om groter beheer oor hulle eie veiligheid te neem deur by georganiseerde landbou in te skakel en so deel te word van hul plaaslike veiligheidstrukture.  Indien daar nie in u omgewing strukture in plek is nie, neem leiding en kry dit in plek.  Hierdie strukture werk gewoonlik nou met die SAPD saam en kan deur die regte leiding ‘n sterk mag vorm waarmee misdaad bekamp kan word. Landelike veiligheid mag nie beperk word tot sekere organisasies en instellings nie, maar moet oor grense heen strek om so ‘n meer doeltreffende netwerk op die grond te kry.  Kommunikasie is die sleutelwoord en boere moet hul marnetradio’s afstof en weer in werking kry. Moenie onkant gevang word nie, werkloosheid is ‘n gegewe en daarmee saam stygende misdaad statistieke.

Kategorie:

Deel dit:

Paasmoorde op Parys