Ope Brief
Aan
Die Agbare President van die Republiek van Suid-Afrika
Die Agbare Adjunk-President van die Republiek va Suid-Afrika
Die Agbare Kabinetsministers van die Republiek van Suid-Afrika
Die Agbare Adjunk-ministers van die Republiek van Suid-Afrika
Die Agbare Lede van die Nasionale Raad van Provinsies van die Republiek van Suid-Afrika
Alle Agbare Parlementslede van die Republiek van Suid-Afrika
Afskrif aan:
Die Suid-Afrikaanse Media
Die Internasionale Media
Alle burgers van die Republiek van Suid-Afrika
Die einde van die jaar is die tyd wat die aantal plaasmoorde getel word. Dit bly ‘n negatiewe beeld van wat besig is om in die land te gebeur. Dit is brutaal en onbeskaafd! Wanneer die nuwe jaar aanbreek, is daar die versugting dat dit miskien beter sal gaan, alhoewel daar ook die ongemaklike wete is dat dit waarskynlik nog slegter kan gaan.
Kommersiële landbou kyk al vir jare na die Parlement vir ‘n oplossing van die probleem van plaasmoorde. Die Parlement het die afgelope jaar vir ure en weke Nkhandla/Nkhandla gespeel. Partye het mekaar oor die vloer geïntimideer, uitgedaag tot niks en by die venster uitgekyk as besluite geneem moes word.
Daar is geen bespreking gevoer of besluite geneem wat die probleem van plaasmoorde kan aanspreek nie. Kommersiële landbou kyk in afwagting na die Parlement vir stellingname en aksie, maar daar gebeur niks. Die konstitusie waarop die hele politieke sisteem berus, spreek tog duidelik. Die mens het die “reg op lewe” (art. 11) en in art. 12 word die “sekerheid van persoon” bevestig. Vry van enige vorm van geweld 12(c) wat impliseer dat niemand gemartel mag word nie 12(d).
Het ons in Suid-Afrika by die punt gekom waar die Parlement nie meer die toepassing van die konstitusie kan waarborg nie? Want met ‘n plaasmoord verdwyn die “reg op lewe” wanneer mense gewelddadig om die lewe gebring word en waar marteling dikwels deel is van die proses.
Moet kommersiële landbou maar weer eens die Parlement hoflik vra om dringende aandag aan die saak te gee of het die tyd nou gekom om sekere dinge reguit te begin sê? Om te herbevestig wat tydens ons TLU-SA Kongres gestel is: nou word ‘n streep in die grond getrek! So kan dit nie voortgaan nie!
Plaasmoorde is nie maar net ‘n saak wat met die minister opgeneem word vir sy aandag nie. Vir kommersiële landbou is dit ‘n harde en brutale werklikheid. Mense word in die proses doodgemaak, gesinne word opgebreek en produksie eenhede word beskadig – dikwels onherstelbaar! Eventueel bedreig plaasmoorde die voorsiening van kos op die tafel. Dit is daarom dat ‘n streep in die grond getrek moet word. Dit is nou die voortbestaan van die demokrasie – of nader omskryf – ‘n beskaafde samelewing wat nou bedreig word.
Indien die Parlement dit nie verstaan nie, dan is dit die tyd om dit nou reguit te sê.
- Kommersiële landbou het die vermoë, kundigheid en wil om ‘n stabiliserende rol in die platteland te speel. Kommersiële landbou kan help voorkom dat die provinsies en plaaslike munisipaliteite verder in duie stort.
- Kommersiële landbou is sekerlik die grootste bate van kundigheid waaroor die land beskik. Tog word die bedryf hanteer asof dit ‘n ongewenste politieke aanhangsel tot die party politiek is, wat liefs nek omgedraai moet word. Kommersiële landbou – 36 000 boere – produseer 95% van die kos vir wat elke dag op die tafel kom vir ‘n bevolking van 50 miljoen. Dit is nie ‘n aanhangsel nie; dit is ‘n sleutel bedryf! Wie ook al hiermee peuter, soek vir groot moeilikheid.
- Vir die ANC regering en die gesprek in die Parlement gaan landbousake oor die herverdeling van grond. Die regering wil grond herverdeel, maar stel nie in die kundigheid belang nie. Dit is ‘n resep vir ‘n nasionale ramp.
- Ons kry die indruk dat die politieke amptenare nie altyd opgewasse is vir hulle taak nie. Ondeurdagte politieke stellings word opgeblaas en niemand het die vaagste benul oor die implikasies van daardie uitsprake nie. Hou maar dop: wanneer voedseltekorte kom en kospryse begin styg, dan volg sosiale onrus. Dan skuif die probleem vanaf die plaas na die dorp en die stede. Wanneer die mielieoes swak is, gaan die amptenare se motors eventueel aan die brand gesteek word.
- Die Parlement se huidige hantering van kommersiële landbou is ‘n strategiese fout. Ons is nie die vyand nie. Ons bly steeds bereid om te praat, maar moet ons nie uitnooi om te kom praat oor ons eie ondergang nie.
Die uwe
Louis Meintjes
President: TLU SA








