“Die betrokkenheid van die breë gemeenskap by die onderskeie droogtehulp skemas om boere te help in hulle uur van krisis, laat ‘n mens byna sprakeloos,” sê TLU SA se Hoofbestuurder, mnr. Bennie van Zyl.
TLU SA word daagliks oorval met aanbiedinge van mense wat hulp aanbied. “Mense skakel ons en sê hulle stedelike boorgate kan gebruik word deur boere wat water nodig het. Ons is selfs genader deur een van die groot kommunikasie netwerke wat wil weet waarheen hulle ‘n tenkwa vol water kan stuur om boere se nood te help verlig,” sê mnr. Van Zyl.
Alhoewel die wydverspreide reën al wonderlike verligting gebring het, het dit so laat in die seisoen gekom dat byna onherstelbare skade reeds gedoen is, en die uitwerking hiervan sal nog tot na die komende winter gevoel word. “Daarom is droogtehulp nog geensins iets van die verlede nie, en is TLU SA steeds betrokke by projekte wat verskillende vorme van steun insamel vir droogtegeteisterde boere.”
Die droogte slaan egter nie net TLU SA se lede nie. “Dit is ons standpunt dat ons nie net na ons lede sal kyk nie. Hier is nou ‘n grootse poging nodig om alle kommersiële boere se krisis te help oorbrug dat hulle ook in die toekoms in produksie kan bly. Organisasiebelange staan nou op die agtergrond ter wille van die nasionale belang van landbou en voedselsekerheid,” sê mnr. Van Zyl.
“Ons is ook oorweldig deur die steun vanuit nie-landbou geledere. Daar is aksies geloods deur Solidariteit, Helpende Hand en Afriforum om op verskillende vlakke hulp in te samel vir die boere. ‘n Bekende vervoermaatskappy het hulp aangebied om logistiek te koördineer waar daar voer of selfs beeste verskuif moet word. Die sanger Adam Tas het onderneem om ‘n konsert te hou waarvan die totale opbrengs vir droogtehulp gegee sal word, en hy het onderneem om ander kunstenaars by so ‘n poging te betrek. Kerke het ook al hulp aangebied, terwyl ander genootskappe nog om hulp genader word.
“TLU SA wil dit egter beklemtoon dat dit uiters noodsaaklik is dat al die vorme van hulp op die regte plekke uitkom. TLU SA se strukture doen tans ‘n opname na waar die grootste nood tans is en wat die hulp is wat benodig word. Hierdie droogte het so ‘n enorme invloed, dat ons selfs bekommerd is dat sekere van die voedselprodusente, en daarmee saam ook hulle arbeiders, tans self nie eens hulle eie kos op die tafel kan voorsien nie. Ook hulle het hulp nodig,” sê mnr. Van Zyl.
Mnr. Van Zyl sê dat TLU SA na die 20 Januarie kan begin om die hulp wat ontvang is, uit te rol na die noodsaaklikste krisisgebiede. Mense wat enige hulp kan aanbied, of nood onder TLU SA se aandag wil bring, kan dit steeds doen.








