194 James Drive, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Members / Friends matters: ledesake@tlu.co.za

TLU SA eis aanspreeklikheid oor vuurwapens wat by misdadigers beland

Die regering moet die uitlek van vuurwapens uit staatsbewaring na misdadigers daadwerklik aanspreek. Verdere beperkings op wetsgehoorsame vuurwapeneienaars kan nie behoorlike polisiëring, doeltreffende beheer binne staatsinstellings en optrede teen korrupsie vervang nie, sê TLU SA.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die staat se geloofwaardigheid in die vuurwapendebat word ondermyn wanneer wapens wat aan sy sorg toevertrou is, gebruik word om gemeenskappe te terroriseer.
“Wanneer ’n vuurwapen in staatsbewaring geplaas word, moet die publiek kan vertrou dat dit veilig bewaar en, waar nodig, behoorlik vernietig word. Wanneer daardie vuurwapen eerder by ’n misdadiger beland, is dit nie bloot ’n administratiewe tekortkoming nie. Dit stel mense se lewens in gevaar,” sê Van Zyl.

TLU SA reageer op uitsprake van Dudley Brown, president van die Amerikaanse National Association for Gun Rights, tydens ’n internasionale konferensie oor wapenhandel in Genève van 24 tot 28 Augustus 2026. Suid-Afrika het die konferensie voorgesit. Brown het die land gekritiseer omdat dit internasionaal leiding oor wapenbeheer neem, terwyl vuurwapens uit sy eie polisiebewaring by misdadigers beland het.

Brown het verwys na die sogenaamde Prinsloo-vuurwapensaak. Die voormalige polisiekolonel Christiaan Prinsloo was betrokke by ’n netwerk wat tussen 2007 en 2015 sowat 2 000 vuurwapens uit polisiebewaring aan misdadigers verskaf het. Dit het wapens ingesluit wat die polisie gekonfiskeer of uit diens onttrek het. Hierdie wapens moes vernietig word, maar is eerder gesteel en aan bendes op die Kaapse Vlakte verkoop.

Prinsloo is in 2016 tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. Volgens gepubliseerde navorsing het polisieondersoekers 888 van die betrokke vuurwapens aan 1 066 moorde tussen 2010 en 2016 verbind. Brown se onlangse kritiek het dié ou saak weer onder die aandag gebring en die noodsaak van behoorlike beheer oor vuurwapens in staatsbewaring beklemtoon.

“Hierdie saak wys waarom vuurwapenbeheer veel meer as lisensievereistes op papier moet behels. Daar moet beheer wees oor elke vuurwapen wat die staat ontvang, berg en vernietig. Wetsgehoorsame burgers kan nie verantwoordelik gehou word vir die korrupsie en gebrekkige toesig wat misdadigers bewapen nie,” sê Van Zyl.

TLU SA vra vir onafhanklike oudits van vuurwapens in staatsbewaring, betroubare rekords van ontvangs tot vernietiging en doelgerigte ondersoeke na onwettige verspreidingsnetwerke. Die publiek behoort ook ingelig te word oor die opsporing van vermiste vuurwapens en optrede teen betrokkenes.

Volgens Van Zyl sluit hierdie vraagstuk direk aan by TLU SA se veldtog teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op Beheer van Vuurwapens. Hoewel die internasionale verdrag en plaaslike lisensiewetgewing afsonderlike raamwerke is, bly doeltreffende toepassing en staatsaanspreeklikheid noodsaaklik.

“Boere, hul gesinne en plaaswerkers woon en werk dikwels ver van onmiddellike hulp. Wetgewing moet dié werklikheid erken. Hul vermoë om hulself binne die wet te beskerm, mag nie verswak word terwyl tekortkominge in polisiëring en vuurwapenbeheer onvoldoende aangespreek word nie.”

Van Zyl beklemtoon dat verantwoordelike vuurwapenbesit bevoegdheid, veilige bewaring en nakoming van die wet vereis. Dieselfde erns moet geld vir staatsamptenare en instellings wat vuurwapens hanteer.

“Dit gaan oor meer as ’n vuurwapen. Dit gaan oor mense se veiligheid en die reg om hulself wettig te beskerm. Die staat moet sy verantwoordelikhede nakom en aanspreeklik wees wanneer hy daarin faal.”
TLU SA nooi die publiek om die veldtog te ondersteun deur die ondersteuningsvorm op sy webwerf te voltooi.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA eis aanspreeklikheid oor vuurwapens wat by misdadigers beland