Boere moet al tevrede wees om net te aanvaar wat hulle vir hulle produkte kry omdat hulle nie self die pryse daarvoor kan bepaal nie. “Nou gaan van boere verwag word om nog prysnemers op hulle grond ook te wees! Dit is onaanvaarbaar en sal deur TLU SA met alles tot sy beskikking teengestaan word.”
So sê die president van TLU SA, mnr. Louis Meintjes, na aanleiding daarvan dat TLU SA oorval word met oproepe van ontstoke boere oor pres. Jacob Zuma se sogenaamde 8 Januarie toespraak, waarin hy gesê het dat sogenaamde grond hervorming moet versnel en dat die gewillige koper, gewillige verkoper-beginsel uitgedien is.
“TLU SA is bekommerd oor die feit dat die regering hom geheel en al blind hou vir die mislukkings van sy grondhervormingsprogramme tot dusver, en dat hy hom doof hou vir pleidooie dat grond nie ’n emosionele kwessie gemaak moet word nie, maar deel moet bly van ’n gesonde ekonomie ten einde aan die steeds hoër wordende eise van voedselsekerheid te voldoen,” sê mnr. Meintjes.
“Dit is onverantwoordelik om ’n suksesvolle ekonomiese sektor, soos landbou, op te breek terwyl die Staat self enorme hoeveelhede grond besit wat ongebruik lê. Voordat die regering vingers na boere kan wys, behoort hy eers sy eie huis in orde te kry en self die voorbeeld te stel. Hy moet die grond in sy besit onverwyld beskikbaar stel vir opkomende boere, terwyl kommersiële boere met rus gelaat moet word in hulle taak om die land van voedsel te voorsien.
“Grondhervorming as ’n politieke model sal die land in soortgelyke ellende dompel as Zimbabwe, en sal deur TLU SA met hand en tand beveg word. Waar boere wel om een of ander rede grond sou verkoop, behoort hulle die prys wat die vrye mark aanbied, daarvoor te kry, sonder inmenging van die staat of ’n Waardeerder-Generaal,” sê mnr. Meintjes.








