194 James Drive, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Members / Friends matters: ledesake@tlu.co.za

Boere staan saam oor eiendomsreg

Dit is opmerklik hoe eensgesind die boere op grondvlak is oor beginselsake wat landbou raak, maar daarom soveel meer onbegryplik dat nasionale landbou-organisasies oor dieselfde beginselkwessie verskil. “Dit voel amper of landbou-organisasies op nasionale vlak voeling met die boer op grondvlak verloor het, en daarom uitsprake maak en beleidsrigtings ondersteun wat beslis nie deur die boere op grondvlak ondersteun word nie.”

 

Dit is TLU SA se President, mnr. Louis Meintjes, se kommentaar nadat hy teruggekeer het van ‘n inligtingstoer saam met dr. Frans Cronjé van die Instituut vir Rasse Aangeleenthede. Plekke in Gauteng, Noordwes, Vrystaat en KZNis besoek tydens hierdie intensiewe inligtingstoer.

 

Mnr. Meintjes sê dat hy verras is oor die vasberadenheid van die boere om steeds voort

te gaan met hulle bedryf, ten spyte van die knellende droogte wat dreig om hierdie jaar ‘n tweede agtereenvolgende jaar sy ramspoedige merk op landbou te laat. “Maar juis daardie vasberadenheid vind ook neerslag in hulle eendragtige weiering om oor hulle grond en hulle eienaarskap daarvan te onderhandel. TLU SA se Landbouplan vir Volhoubaarheid, is met groot geesdrif aanvaar as rigting vir die pad vorentoe,” sê mnr. Meintjes.

 

Mnr. Meintjes wys daarop dat alles waarteen hy en dr. Cronjé tydens die toer gewaarsku het, die afgelope naweek op die ANC se konferensie bespreek is. “Ek het na pres. Jacob Zuma se toespraak geluister waar hy dit duidelik gestel het dat die ANC, saam met die SAKP, die sosialisme en kommunisme aanhang en werk om dit te vestig in SA.

 

“Die wêreld het al genoeg rampspoedige bewyse wat die kommunisme aan ‘n land en veral sy landbou doen. “Die boere wat ons gesien het, staan sterk op die vryemark beginsel, en die beginsel van private besitreg. As deel van die vrye ondernemerskap behoort daar ook geen gedwonge inmenging te wees in die eienaarskap van ‘n plaas nie, en daarom kan ek dit kategories stel dat die meerderheid van die boere in Suid-Afrika, die ANC se beleidstandpunt dat boere 50 persent van hulle plase aan hulle werkers moet afstaan, in geheel verwerp. Dit is die soort kommunistiese inmenging wat die ANC onmiddellik wil implementeer, en die vraag moet gevra word of Suid-Afrika regtig anders is as ander voormalige kommunistiese state dat hy wel ‘n kommunisties / sosialistiese beleid en regering sal kan oorleef?” vra meneer Meintjes.

 

“Voorts is ek baie bekommerd oor mnr. Zuma se uitlating dat daar geen plek vir besighede in Suid-Afrika is wat nie die ANC ondersteun nie. In ander woorde kom dit daarop neer dat die ANC se goedgesindheid gekoop moet word op welke wyse ook al om te kan sake doen in Suid-Afrika.  Sou dit waar wees, maak dit die ANC in wese die grootste misdaad sindikaat in die land. Hierdie is ‘n toets vir die integriteit van die land se besighede: gaan hulle mnr. Zuma se stelling goedsmoeds aanvaar en daaraan gehoor gee, of gaan hulle hulle stem dik maak?” vra mnr. Meintjes.

 

Mnr. Meintjes het ‘n beroep gedoen op die hele landbou-waardeketting om hulle openlik en ondubbelsinnig uit te spreek ten gunste van die vrye mark ekonomie, wat privaat besitreg insluit. “Boere moet daardie selfde beginsels ondersteun ter wille van hulle eie oorlewing. Die boere is daar om te boer. Daar kan nie van hulle verwag word om hulle eie ondergang te bewerkstellig deur die aanvaarding van polities-korrekte grondhervormingsplanne, of om enige persentasie van hulle plase aan hulle plaaswerkers af te staan, of om hulle te laat deel maak van enige sosiale program wat die uitsluitlike taak van die regering is.

Kategorie:

Deel dit:

Boere staan saam oor eiendomsreg