Die boerderygemeenskap is weer eens geruk deur ’n aantal aanvalle en moorde op Suid-Afrikaanse plase.
In Noordwes is die 46-jarige mev. Ronél van Eck by haar plaashek doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by die skool afgelaai het. Daardie seuntjie sal nou sy lewe moet voortsit sonder ’n moeder.
’n Bejaarde boer, die 70-jarige mnr. Owen Charles, is naby Jansenville op sy plaas vermoor, terwyl hulle sy vrou se verjaardag gevier het.
In Ladybrand in die Vrystaat is ’n Amerikaanse plaasbestuurder, mnr. Allen Rodgers, op die plaas Geluk aangeval. Alhoewel hy tans in ’n bestendige toestand verkeer, is hy ernstig beseer nadat hy deur drie terroriste met kapmesse aangeval is.
“TLU SA gaan die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika vra om druk uit te oefen op die Suid-Afrikaanse regering om iets aan die plaasaanvalle te doen,” sê TLU SA se Adjunk-President en voorsitter van dié unie se veiligheidskomitee, mnr. Henry Geldenhuys.
“TLU SA het al ver gevorder om plaasaanvalle se aard en omvang onder die internasionale gemeenskap se aandag te bring,” sê mnr. Geldenhuys. “Hierdie veldtog sal voortgesit word, en aangesien daar nou ’n aanval was op ’n plaas wat deel is van ’n Amerikaanse boerdery maatskappy, en ’n Amerikaanse burger al byna deel van die sterftestatistiek geword het, is dit noodsaaklik om ook die Amerikaanse ambassadeur te nader en te vra om TLU SA te help in sy stryd teen plaasmoorde. Indien geen ander optrede moontlik is nie, moet die Amerikaners, en ander internasionale instellings, oorweeg om persoonlike sanksies teen pres. Jacob Zuma en van sy kabinetslede in te stel,” sê mnr. Geldenhuys.
“Ons pleidooie by die regering val op dowe ore. Dalk sal hulle begin luister as van die groot moondhede hulle stem begin dik maak. Dit is wat TLU SA hoop om te behaal uit ’n gesprek met die Amerikaanse ambassadeur.”








