TLU SA het kennis geneem van die verhoging van minimum loon vir plaaswerkers.
TLU SA het ook kennis geneem van die Minister se bewering dat die verhoging ingestel is na wye oorlegpleging met belanghebbendes. “TLU SA is beslis nie hieroor gekonsulteer nie, dus is die Minister se aanspraak nie ten volle korrek nie,” sê TLU SA se Hoofbestuurder, mnr. Bennie van Zyl. “Gevolglik is die verhoging redelik onverwags op die boere. In die huidige droogtekrisis waar die landbousektor ingestel is op oorlewing, is die verhoging hoogs ongeleë.
“Daarbenewens is die verhoging van 9 persent, op sigself onaanvaarbaar. Volgens ‘n onlangse Staatskoerant rakende “Remuneration for Public Office Bearers” blyk dit duidelik dat verhoging in die plaaslike regering sektor nie hoër as 7% gaan wees nie. Toekomstige verhogings word aanbeveel op die Verbruikersprysindeks plus 1%.
“Die vraag kan dus gevra word waarom is die regering bereid om in sy sektore slegs ‘n maksimum verhoging van 7% te gee terwyl die landbousektor, in hierdie krisistyd, gedwing word tot 9%?
In die lig van hierdie omstandighede doen TLU SA ‘n ernstige beroep op die Minister om die aangekondigde minimum loon dringend te hersien en meer in pas te bring met ander sektore.








