194 James Drive, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Members / Friends matters: ledesake@tlu.co.za

Reaksie op die Begroting

Met die verwagting dat die Regering daadwerklik ondersteuning aan die kommersiële landbousektor gaan gee na die erge droogte wat die land beleef, is TLU SA uiters teleurgesteld dat die begroting daar geen noemenswaardige melding van gemaak het nie. TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, sê dat minister Gordhan wel melding gemaak het dat Suid-Afrika beskrem moet word teen die gevolge van die droogte, maar verder het hy daaroor vaag gebly. “Hy het aangekondig dat daar later geld vir die nood beskikbaar gestel gaan word. Dalk moes hy dit eerder nou gedoen het, aangesien die toestand by verskeie boere uiters kritiek is en hulle graag sou wou weet waar hulle staan,” sê mnr. Meintjes.

 

“Verder het die begroting baie min oor landbou te sê gehad. Etlike aspekte wat die boere uiteraard negatief gaan tref, is die hoër brandstofbelasting, die heffing op bande en die heffing op koeldrank met suiker, wat die suikerboere kan raak.

 

“Die 120 000 hektaar grond wat die staat in produksie wil bring, is hoofsaaklik op die kleiner en opkomende boere gerig en gaan nie ’n onmiddellike invloed op kommersiële landbousektor en voedselsekerheid hê nie.”

 

Mnr. Meintjes het egter die besparingsmaatreëls vir die staat verwelkom, asook mnr. Gordhan se belofte om korrupsie te stop. “Van hierdie beloftes hoor ons byna jaarliks, maar ons is bereid om mnr. Gordhan die voordeel van die twyfel te gee en hom die geleentheid te gee om hom hierin te bewys.”

 

Mnr. Gordhan het ook melding gemaak van beleidsekerheid. “Ons sal dit graag in woorde en in dade wil sien.”

Kategorie:

Deel dit:

Reaksie op die Begroting