Na aanleiding van die onluste in De Doorns en ander gebiede in die Wes-Kaap, het TLU SA briewe gestuur aan die Sekretaris-Generaal van die ANC, die Minister van Landbou en die President.
In die skrywe aan die ANC se sekretaris-generaal, eis TLU SA dat dissiplinêre aksie geneem moet word teen mnr. Marius Fransman wat gesê het dat die boere van die De Doorns-omgewing “sal k*k”. Dit word in ’n ernstige lig en as haatspraak gesien.
Pres. Zuma is ingelig van TLU SA se standpunt dat die onluste in die Wes-Kaap nie soseer gaan om ’n minimum salaris nie, as dat dit wel gaan om politieke redes. “Ons het getuienis dat mense van buite met busse aangery is waar hulle dan amok gemaak het. Ons glo dit is ter wille van politieke motiewe, want aangesien die ANC nie in beheer in dié provinsie is nie, is dit hulle doel om die provinsie onregeerbaar te maak. Dit is egter so dat al dat dié mense ontevrede is met u en u regering, as deel van die regerende party, wat beloftes gemaak het van behuising, dienslewering en werkskepping. Dit is vir die land glashelder dat u nie aan daardie verwagtings kon voldoen nie, met gevolglike frustrasie en woede. Voorts is u regering slegs toeskouers wat toekyk hoedat mense vanuit buurstate die land binnestroom en werksgeleenthede wegraap voor Suid-Afrikaanse burgers.
“Ons doen aan die hand dat u eerder aan die groter prentjie aandag gee en u nie van koers af laat dwing met argumente oor minimum lone nie,” sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, in sy skrywe aan pres. Zuma.
Die Minister van Landbou het erken dat die onluste in die Wes-Kaap die resultaat was van swak dienslewering. TLU SA glo dat die stygende produksiekoste ook ’n probleem is. Mnr. Meintjes skryf aan die Minister: “Landbou kan dit alles nie bekostig nie, en daarom eis ons die volgende:
- 1.Ons eis vergoeding vir die skade aan boere en plaaswerkers se eiendom wat veroorsaak is deur die polities gemotiveerde staking. Die regering moet hiervoor betaal en kan die skade verhaal van die ANC en vakbonde wat by die staking betrokke was.
- 2.Ons eis dat die regering boere, plaaswerkers en hulle eiendom sal beskerm teen gewelddadige protesoptredes.
- 3.Ons eis dat die regering voldoende maatreëls sal instel om boere en plaaswerkers te beskerm teen plaasmoorde en aanvalle op plase.
- 4.Ons eis dat alle boere vrygestel moet word van tolgelde op paaie.
- 5.Ons eis dat die regering maatreëls in plek sal stel sodat waterbesoedeling gestop sal word, sodat ons veilige voedsel kan produseer ten einde voedselsekerheid te ondersteun.
- 6.Ons eis die verlaging van ESKOM se elektrisiteitstariewe.
- 7.Ons eis paaie sonder slaggate.
- 8.Ons eis die einde aan Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB).
- 9.Ons eis beter pryse vir al ons produkte.”
TLU SA het ook sy ondersteuning en selfs fisiese hulp aangebied aan die Wes-Kaapse boere, indien dit benodig sou word.
TLU SA het sy lede aangemoedig om in die toekoms nie meer arbeiders op plase te huisves nie. “Arbeiders moet in die dorpe en stede se woonbuurte huisvesting kry waar munisipaliteite dit moet voorsien, sodat die risiko op plase verminder kan word,” sê mnr. Meintjes.
“Dit is duidelik dat die regering besig is om sy regeervermoë te verloor, as gevolg van die revolusionêre klimaat wat hy binne homself skep en deur sy voortgesette Nasionaal Demokratiese Revolusie.”







