194 James Drive, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Members / Friends matters: ledesake@tlu.co.za

TLU SA se reaksie op pres. Zuma se toespraak by AFASA-kongres

Pres. Zuma is tereg bekommerd oor stygende voedselpryse. Dit word egter tot ’n groot mate bepaal deur vraag en aanbod. Meer produksie kan onder andere help om pryse laer te maak, maar ook slegs as ander noodsaaklikhede in plek is, soos voldoende en gesonde water en doeltreffende en betroubare infrastruktuur. Dit is egter sake wat op die weg van die Staat lê.

Landbou kan nie die regering se taak oorneem om sosiale toelaes uit te deel nie. Landbou is ’n ekonomiese bedryf, nie sosialisties nie.

Slegs minder as die helfte van die 11 000 nuwelinge wat volgens pres. Zuma reeds op hoewes gevestig is, dra by tot landbou produksie. Dit verteenwoordig dus geen vooruitgang in produksie nie en maak dié skema ’n oefening waarvan die sukses ernstig bevraagteken kan word.

TLU SA ondersteun die gedagte dat onderbenutte grond in kommunale gebiede in kommersiële produksie gebring moet word. TLU SA herhaal egter sy standpunt dat dit ook on- en onderbenutte staatsgrond moet insluit, hetsy dit onder beheer is van die sentrale regering, provinsiale – of plaaslike regeringsinstellings.

Dit impliseer dat die verlangde grondoudit dringend aandag moet kry, aangesien dit al geblyk het dat die Staat self geen benul het van die grond onder sy beheer nie.

Mnr. Zuma se gedagte van Distriksgrondhervormingskomitees skep twyfel: boere moet boer, dae is reeds te kort en internasionale mededinging te hoog. Om produktiewe produksietyd te wil aanwend vir vergaderings om ander grondbesitters in wese te benadeel deur hulle grond te identifiseer om uiteindelik vir minder as markwaarde te laat verloor, kan selfs as oneties beskou word en skep die moontlikheid vir spanning binne gemeenskappe en vermindering in voedselproduksie.

Om grond te koop, van wie ook al, teen 50% van markwaarde, kom neer op onteiening of selfs nasionalisering. Van hierdie gronde kom uit boedels, wat beteken dat weduwee en wees benadeel sal word.

Dat kommersiële boere wat deelneem aan hierdie projek, SEB status sal kry en hulle grond veilig sal wees, kom neer op afpersing. “Help ons om ander boere te identifiseer en te verwyder, en jy is veilig”. Boere wat dalk nie die vermoë het om hierby in te skakel nie, loop dan dus die risiko om tog onderwerp te word aan knellende wetgewing.

Om verbande vir ’n termyn van 40 jaar toe te ken, klink nie ekonomies verantwoordbaar nie. ‘n Boer bly daardeur letterlik sy hele lewe in grondskuld, en finansieringsinstellings loop die gevaar van verliese met afsterwe voor die grond afbetaal is.

Die koste van grondhervorming kan nie voor deur van kommersiële boere gelê word nie. As die Staat wil hervorm, moet hy fondse voorsien, hy kan nie van slagoffers verwag om daarvoor te help betaal nie. Dit sal boere effektief uit landbou haal, produksie verminder en juis voedselsekerheid onder druk plaas.

In geheel gesien is pres. Zuma se voorstelle nie haalbaar nie en kan selfs kontra-produktief wees ten opsigte van voedselsekerheid. TLU SA herhaal sy kommer dat emosionele en onhaalbare verwagtings geskep word wat uiteindelik nie volhoubaar blyk te wees nie. Die land sal ‘n groot guns bewys word as meer realistiese en haalbare doelwitte gestel word.

Wat die landbou tans nodig het, is langtermyn stabiliteit, gegrond op ekonomiese beginsels. Terwyl die wêreldekonomie, soos dié van Suid-Afrika, tans onstabiel voorkom, moet daar nie gepeuter word met modelle wat oor dekades en eeue heen suksesse opgelewer het nie. Nuwe boere sal ruimskoots tot die landbou kan toetree deur normale vryemark aktiwiteite. Enige gedwonge versteuring hiervan, loop die gevaar van mislukking, soos 95% van die grondhervormingsgevalle reeds getoon het.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA se reaksie op pres. Zuma se toespraak by AFASA-kongres