194 James Drive, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Members / Friends matters: ledesake@tlu.co.za

Vergadering met Minister en Kommissaris oor plaasmoorde

Plaasmoorde het die eerste twee maande van vanjaar ’n geweldige toename getoon. As gevolg daarvan het TLU SA aan die begin van Februarie gevra vir ’n dringende vergadering met die Kommissaris van Polisie daaroor. Geen reaksie was van sy kant ontvang nie.

Daarteenoor het die internasionale gemeenskap deeglik begin kennis neem van plaasmoorde, wat gelei het tot die ondertekening van ’n verklaring teen plaasmoorde deur verteenwoordigers van 19 lidlande van die Europese Parlement, en waarin hulle daarop aandring dat die Suid-Afrikaanse regering daadwerklike maatreëls moet instel om die veiligheid van Suid-Afrikaanse boere te verseker.

TLU SA het nou uitnodigings gerig aan die Minister van Polisie, asook die Kommissaris van die SA Polisiediens, of hulle senior gedelegeerdes, om ’n vergadering oor plaasmoorde en landelike veiligheid by te woon en dan antwoorde te verskaf oor wat hulle beplan om aan die situasie te doen. Deelnemers aan die vergadering sal ook hulle voorstelle eerstehands aan die polisie kan oordra.

Verskeie ander organisasies en rolspelers wat met landbou en die platteland gemoeid is, is ook genooi om die vergadering by te woon en verskeie het reeds die uitnodiging aanvaar, alhoewel nog niks gehoor is van die Minister of die Kommissaris se kantore nie.

Die media word ook hiermee uitgenooi om die vergadering by te woon, op Dinsdag 13 Maart 2012. Dit vind plaas om 10 uur by TLU SA se konferensiesaal, James Rylaan 194, Silverton, Pretoria.

Kategorie:

Deel dit:

Vergadering met Minister en Kommissaris oor plaasmoorde