Die aanstelling van die nuwe nasionale polisiekommissaris was vir TLU SA ‘n verrassing.
Mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA se Adjunk-President en voorsitter van die Veiligheidskomitee, sê dit is nou die derde kommissaris wat aangestel is sonder enige polisie agtergrond. “Dit is goed en wel om te sê dat die polisie ’n bestuurder nodig het maar daar moet in ag geneem word dat die polisie nie daar is om papiere rond te skuif nie maar om misdaad aan bande te lê. Om dit te kan doen moet elke polisielid die nodige opleiding en ervaring hê om misdadigers te kan uitoorlê. Om iemand aan die hoof van so ’n operasie aan te stel wat nie daardie opleiding en ervaring het nie skep groter probleme as wat dit oplossings bied,” sê mnr. Geldenhuys. “Mnr. Zuma moes eerder uit die geskiedenis van mislukte burgerlike kommissarisse geleer het en ’n polisiepersoon aangestel het wat ook die broodnodige dissipline kan herstel. Ons is egter bevrees dat hierdie aanstelling net weer ’n politieke aanstelling is om sy eie posisie te verstewig.”
TLU SA sê dat hy nietemin die nuwe kommissaris die voordeel van die twyfel sal bied en nooi haar van die wegspring af uit om met die Unie in gesprek te tree oor plaasveiligheid – iets waartoe haar tussentydse voorganger skynbaar nie lus was nie. “Georganiseerde landbou sal haar beoordeel aan haar vermoë of gebrek daaraan om die veiligheidsposisie van ons landbouers te verbeter,” sê mnr. Geldenhuys.







