TLU SA onderskryf die uitgangspunt dat belastings deel is van die staatsbestel van Suid-Afrika en dat elke burger verantwoordelik is vir die betaling van persoonlike belasting. Belastings en heffings wat op ’n onbillike aanslag van belastingheffing neerkom sonder deursigtige en eerlike finansiële bestuur en lewer van dienste word as dwaling en wanbestuur beskou. Landbougrond is vir kommersiële landbou ’n produksiemiddel en word gereken nie belasbaar te wees nie. Die belasting van landbougrond word alleen ondersteun indien die toepassing daarvan volgens die prosedure van die toepaslike wette gedoen word, die nodige ooreenkomste oor uitvoerbare dienste met grondeienaars gesluit is, billike waardasies voltooi is, en willekeurige belasting op landbougrond opgeskort word. TLU SA se standpunt is steeds dat landbougrond as produksiemiddel nie belasbaar moet wees nie, en dat daar slegs vir dienste wat infrastruktuur skep en in stand hou en op plase gelewer word betaal behoort te word.







