Na die moord op TLU SA aangekondig dat die situasie nou so ontwikkel het, dat sekere sake eenvoudig nie meer geïgnoreer kan word nie. Pres. Jacob Zuma is daarvan beskuldig dat hy beheer oor die ANC en oor die land verloor het.
In meegaande skrywe wat aan hom gestuur word, verduidelik TLU SA waarom hy so sê, en hy eis onmiddellike gesprekvoering oor die sake wat in die brief aangespreek word>
Die President
Republiek van Suid-Afrika
EIS TOT KONSTRUKTIEWE GESPREK OOR ONDERGENOEMDE KNELPUNTE
Inleiding
Elke regering word gestuur deur 2 kardinale rigtingwysers:
1. Die Grondwet van ‘n land
2. Die Sosiale Kontrak wat hy met die burgers van ‘n land aangaan voor en tydens verkiesings.
In ruil daarvoor, is burgers onderhorig en onderdanig aan die regering van ‘n land, en betaal hy belastings sodat uitvoer gegee kan word aan die Grondwetlike opdragte wat ‘n regering ten laste gelê word, en om sy sosiale kontrak na te kom, naamlik om burgers in veiligheid en vrede te laat woon, hulle van infrastruktuur te voorsien en om om te sien na hulle opleidings- en mediese behoeftes.
TLU SA het tot dusver homself agteroor gebuig, selfs dikwels teen die uitdruklike sin van sy lede in , om sinvolle gesprek met die owerheid te voer, ten einde probleme en perspektiewe op ‘n opbouende en ondersteunende wyse oor te dra aan die regering. Telkens is daar bepaalde beloftes en ondernemings, waarvan met verloop van tyd geen vordering te bespeur is nie.
Tans is die situasie in die land gelaai as gevolg van spanning wat veroorsaak is. Hoofsaaklik is die boer in die spervuur van hierdie toestand en word sy situasie onhoudbaar, en gaan dit outomaties voedselsekerheid vir die land en die streek in ernstige gevaar stel.
Daarom kan sekere sake eenvoudig nie meer geïgnoreer word nie, en sal daar in belang van voedselsekerheid en vreedsame naasbestaan, dringend gesprek gevoer moet word, waartydens duidelike antwoorde gekry moet word, oor die volgende aanklagte wat TLU SA teen die President van die land, sy kabinet en regerende party hierby neerlê:
· Oneerlikheid, deurdat sake verdraai word ter wille van ‘n ideologiese standpunt. Soos dat die liedjie “Skiet die boere” nie werklik beteken dat boere geskiet moet word nie. Voorvalle het reeds voorgekom waar dit in ‘n plaasaanval gebruik is.
· Versuim tot optrede teen onrusstokers. Hoe lank het die ANC-staatshoof gewag voordat hy opmerkings gemaak het om opswepende liedjiesingers te betig, terwyl steeds niks daadwerkliks daaraan gedoen word nie en dit trouens nou steeds meer uitslaan, juis omdat nie opgetree word teen hulle nie?
· Ongeërgdheid van ministers deurdat afsprake wat betyds gereël en aangelê is oor belangrike kwessies, op die laaste nippertjie afgelas word. Boere het ook besige skedules waarby hulle moet aanpas, en die indruk word geskep dat die boere se standpunt eintlik nie werklik belangrik is nie. Alles is belangriker as ‘n vergadering met ‘n boer of landbou-organisasie.
· Verbreekte beloftes, oor byvoorbeeld die kommandostelsel wat afgeskaf is met die belofte van ‘n plaasvervangende struktuur. Sektorpolisiëring, waar dit wel gepoog is om ingestel te word, het klaaglik misluk, en boere word steeds aangeval, vermoor, beseer en besteel.
· Oordrewe najaag van kwotas. ‘n Ondersoek van Solidariteit het bevind dat in talle staatsdepartemente die kwotas van affirmative action alreeds oorskry is. Beteken dit dat die kwota van grondhervorming van 30% grond in swart besit teen 2014, insgelyks oorskry gaan word?
· Roekelose verklarings van ministers:
§ TLU SA eis dat elke minister wat voortaan beweer dat plaaswerkers onregmatig van plase afgesit word, dit moet staaf met bewyse van persoon, datum, tyd en plek, en saaknommer van die instansie waar die onwettigheid gerapporteer en ondersoek is, met die uitslag van die ondersoek.
§ TLU SA eis dat enige minister wat voortaan beweer dat plaaswerkers mishandel word, dit moet staaf met bewyse van persoon, datum, tyd en plek, en saaknommer van die instansie waar die onwettigheid gerapporteer en ondersoek is, met die uitslag van die ondersoek.
§ TLU SA eis dat enige minister wat voortaan beweer dat plakkerskampe ontstaan as gevolg van boere wat hulle werkers afdank, volledig statistiek moet gee van die herkoms van die plakkers, aangesien dit algemene kennis is dat plakkerskampe so vol buitelandsers is as gevolg van patetiese grensbeheer, dat daar in sommige kampe nie eens Engels gepraat kan word nie, omdat die buitelanders dit nie verstaan nie.
· Vermorsing van openbare fondse vir mislukte en mislukkende projekte, soos die grondhervormingsprojekte wat tans reeds ‘n beraamde mislukkingskoers van ongeveer 80% het, op koste van die belastingbetalers, en ten koste van voedselsekerheid.
§ In die verband het TLU SA steeds geen antwoord gekry op sy eenvoudige vraag: wat is die persentasie grond wat die Regering vir grondhervorming oogmerk: 30% van die totale grond in Suid-Afrika of 30% van die landbougrond?
· TLU SA is al by herhaling op rekord dat die moorde op boere, beskou word as etniese uitwissing. U stilswye word gesien as as ‘n erkenning.
· Politieke onwil om die land se infrastruktuur in stand te hou.
§ Boere ondervind toenemend probleme om hulle produkte by markte te kry, as gevolg van die verval van die land se paaie, terwyl hulle ook voertuiglisensiegeld betaal, en hulle ook belas word deur brandstofheffings. Hulle kry daar egter niks van terug in terme van instandhouding en die mees basiese dienslewering nie.
§ Die verval van watersuiweringsaanlegte lei daartoe dat riviere en ondergrondse waterbronne sodanig besoedel word, dat dit onbruikbaar is vir landbou-gebruik. Boere lei verliese, en minder voedsel word geproduseer as gevolg van u instellings se versuim in hierdie verband.
· Die regering se versuim om aandag aan die landelike veiligheid te gee, grens aan vergrype teen die mensdom:
§ Kommando’s word onttrek, sodat boere aan hulle eie lot oorgelaat word;
§ Die bevolking, en ook die boere, word geïntimideer om hulleself te ontwapen en weerloos te laat, terwyl geharde misdadigers met onwettige wapens die land onveilig en in wese onregeerbaar maak;
§ Waar boere aansoek doen vir ‘n nuwe vuurwapenlisensie, duur dis soms selfs maande om so ‘n aansoek af te handel, wat beteken dat hy in daardie tyd weerloos bly;
§ Boere wat eie strukture met groen herkenningsligte oprig om hulleself te beskerm, word geteiken vir vervolging, terwyl hulle die wetstoepassers se bondgenote behoort te wees.
· Die Regering span saam met georganiseerde vakbonde téén die boere, deur arbeidswetgewing moeilik en in sommige gevalle onbillik te maak, en om selfs in die parlement te luister na belaglikhede soos dat boere self verantwoordelik is vir die onveiligheid op plase, en omdat boere self hulle vee steel. Is dit werklik moontlik dat sodanig verbale snert vir waarheid aanvaar kan word in die land se hoogste liggaam?
· Die regering se ongetoetste steun vir sy alliansievennoot COSATU se volgehoue en ongegronde aansprake oor die lewensomstandighede op plase.
· Die regering en COSATU se fokus op plaasbewoners eerder as plaaswerkers. Die boer as werkgewer het geen kontrak hoegenaamd met ander mense wat hetsy onder die verblyfregwetgewing of andersins op plase woon nie.
· Die feit dat die landbousektor uitgesonder word as die enigste een in die totale ekonomie waar daar van die grondeienaar verwag word om ‘n 24/7 verpligting jeens sy werkers na te kom, bo en behalwe die feit dat wetgewing die grondeienaar verplig om geleidelike en groterwordende afstand van sy eiendom te doen ten einde aan verblyfregvereistes te voldoen.
Hierdie sake kan eenvoudig nie langer geïgnoreer word nie. Die boere van Suid-Afrika wil doen wat hulle kan doen en wil doen: om te boer en voedsel te produseer vir almal in die land en selfs die streek. Ja, hulle wil boer sodat ook u, meneer President, daagliks ‘n goeie maaltyd kan nuttig. Maar die hierbo genoemde sake maak dit vir die boere moeilik, selfs onmoontlik. Die boere en inwoners van die land kan net nie meer hierdie regering bekostig nie.
Hulle lojaliteit word tot die uiterste beproef, en hulle geduld ook. En wat TLU SA beleef, is afsydigheid vanaf die regering, ja, selfs vyandigheid.
Daarom eis ons ‘n afspraak met u, en alle tersaaklike ministers, en verwag ons ‘n antwoord binne 14 dae vanaf datum van hierdie skrywe.
Ben Marais
President: TLU SA







